Advent 2024 (Liefde) – “Victoria…”
👤 Dolf du Plooy
Kersfees 2021
Victoria werk bykans twee dekades nou al by my skoonmense. Sy is ‘n huishulp of “bediende”, soos baie baie in ons land na hierdie werkers verwys. Ek het eers laat in my lewe ‘n weersin begin ontwikkel na hierdie beskrywing. Maar soos baie “bediendes” het ek vir Voctoria ook net leer ken op haar eerste naam.
Eers gister sou ek in ons gesprek in die motor op pad na haar huis in Zola, uitvind dat sy nie ‘n Xhosa is nie, maar van Sotho herkoms. Sy moes mooi verduidelik hoe om te ry, terwyl ons deur die straatjies van Nomzamo ry. Terwyl ons verby entrepreneurs ry wat skouer aan skouer alles van tweedehandse bougoed, braaivleis en haarstyle adverteer, besef ek eers dat ek werklik in Afrika woon.
‘n Mens wil dit vir ‘n oomblik amper romantiseer. Al die baie kinders en laggende gesigte langs die nou strate laat my wonde. Ken almal mekaar? Is almal tevrede? Die misdaad en verkragting statistiek van ons land vertel ‘n ander verhaal.
Met die hoenderpote wat my beloer vanaf ‘n braairooster langs Jabu’s op die hoek van Taxi Rank – WCTT 1451, besef ek hoe ver my wêreld verwyder is van hierdie plek wat soveel mense “huis” noem.
Iewers verander Michaelstraat in Solomonstraat. Ek hoor hoe my vrou weer vra wanneer ons in Zola is? “No. This is still Nomzamo. It is very big,” kom die antwoord van Victoria in die agterste sitplek van ons lugverkoelde kar. Uit my vrae aan haar, verklap ek meer as net my onkunde oor my eie land en haar mense. Ek is ‘n besoeker… in my eie land… tussen my (?) mense…
Uiteindelik stop ons voor ‘n piepklein, baksteenhuisie. Dit lyk soos duisende ander wat in die oorvol townships in ons land staangemaak is. Victoria bly nie daar nie. Met ‘n glimlag nooi sy ons saam. Sy lei ons om die huisie na haar huis. Dis ‘n blinknuwe sinkstruktuur. Dit het ‘n paar maande gelede afgebrand. Dis eenvoudig, tog netjies en skoon binne. Wat het ek verwag? Daar is twee vertrekke. Hoeveel het ek dan verwag? Sy vra verleë om verskoning omdat sy nie iets koel het wat sy vir ons kan aanbied om te drink nie. Sy is bly dat ons haar ’n saamry- geleentheid gegee het. Dit spaar haar nie net die R15 taxigeld nie, maar ook die wagtyd by die taxistaanplek in die Strand. Ons groet vir Victoria, nadat sy ons kortpad na die N2 verduidelik. Ons wens haar ‘n geseënde Kersfees toe en sê sy moet die volgende dag by haar suster geniet.
Ek dink vandag onwillekeurig terug aan Victoria en die mense van Zola, terwyl ek na my oorvol bord kos kyk. Dis Kersfees. Dis die dag toe die Jesuskind na sy mense toe gekom het. Iewers in ‘n shack op die hoek van ‘n erf in Betlehem se agterstrate is dié Koning 2000 jaar gelede gebore. Dalk sou Hy vandag ook eerder plek in iemand soos Victoria se huisie kry?
En terwyl ek ‘n alternatiewe Kersverhaal in my kop romantiseer, kyk ek weer na die oorvol bord kos voor my en wonder wat die mense vandag in Zola en Nomzamo eet?
Here Jesus Christus, U is lief vir mense.
U bemin mense soos ek en ook hulle wat so anders is as ek.
Here, U sien nie die verskille raak nie, maar dit wat ons geliefd maak.
U kyk na die mens as ‘n skepping van u begeerte om lief te hê.
U het ons oneindig lief en begeer dat ons U ook so sal min.
Maar ek moet bely, daarmee sukkel ek –
om lief te hê, ander soos myself.
Daarom staan ek bakhand, vol verwagting,
dat U my dwaas sal maak om almal lief te hê,
sonder voorwaarde of oordeel.
Here, wees my weer en weer genadig,
om lief te hê, die anders soos myself.
Amen!