Advent 2024 (Vreugde) – “Herders…”
👤 Dolf du Plooy
Net so skielik was hulle weer weg. Waar die engele in die sterrehemel buite Betlehem pas in ‘n koor gesing het, is dit nou doodstil. Iewers verbreek ‘n blêrende lam die stilte. ‘n Soekstem in die duisternis. Die herders kyk stom na mekaar. Niemand wil dit waag om in die heilige stilte eerste te praat nie. En dan, toe die eerste een begin, toe val almal in. Na die heen en weer gekwetter is die wagters dit eens “Kom ons gaan soek die Kind…”
Dieselfde aand nog, staan die bende daar in die stal. Kan dit wees dat die onverwagse besoekers se eerste woorde aan die verdwaasde Josef en jong moeder ook iets kon wees soos “Moenie bang wees nie. Kyk, ons bring vir julle goeie nuus!” En hierdie woorde sou Maria vir altyd koester. Hierdie Kind in die krip, is die Verlosser, Christus die Heer.
Na daardie aand sou die herders op die ope velde nooit weer dieselfde na die hemelnag kyk nie. Hulle het ‘n nuwe lied ontvang. ‘n Hemelse lied wat hulle self van die engele ontvang het. Hulle sou dit neurie, dag en nag. Nageslagte later steeds. Die goeie nuus van die Kind wat die verlore skape van hierdie wêreld kom soek het, is deur skaapwagters eerste gebring. Die res van die nag was die ope velde stil. Geen lam het geroep na ‘n moeder nie. Dis asof hulle ook geweet het dat die Goeie Herder by hulle was. En terwyl die laaste vlamme van die kolevuur die geveg met die skadu’s tussen die herders verloor, is daar vrede in hulle harte. Want in die pikdonker aand, sien hulle steeds die Kind wat hulle harte laat warm word het. En voordat die slaap hulle oorval, kom ‘n fluisterstem in die aandwind wat gelyktydig vashou aan ‘n belofte en ook van die waarheid getuig – Immanuel. En vanaand is hulle uiteindelik vir die onbekende duisternis, nie meer bang…
Here Jesus, wie kan bang wees vir die duisternis?
U self het dit kom uitwis.
Met lig, waarheid en liefde.
Almagtige God, kom skyn soos die son in my lewe in,
dat ek voortdurend sal wegdraai van die skadu en
my sal laat rig deur u lig.
Bron van lewe en lig, U is my Verlosser en Heer.
Ek buig saam met die engele en skaapwagter voor U neer.
Mag my lewe voor u aangesig, daagliks ‘n danklied wees,
vir die geskenk van ‘n krip, ‘n Kind, ‘n nuwe begin.
Maak my vrymoedig en waagmoedig om met vreugde te sing.
En wanneer ander hulle stemme tot die vreugdekoor voeg,
mag dit vir ook vir U vreugde bring.
Amen!