Advent 2024 (Hoop) – “Maria”
👤 Dolf du Plooy
Die kinders kom sit in ‘n halfmaan teen haar voete. Tussen die sowat dosyn blinkoog-gesiggies is van haar kleinkinders ook. “Vertel vir ons weer van Hom,” vra die kleinste een nog voordat almal hulle sit kon kry. Die vrou vee ‘n sliert silwer hare uit haar gesig weg. Sy vou haar hande op haar skoot. Sy kyk na die vlekke op haar hande se geplooide vel. Dit herinner aan haar ma se hande, maar sy het dieselfde krom pinkie op daardie eerste aand in die krip ook raakgesien…
“Vertel vir ons van die keer toe Hy op die water geloop het”, sê-vra een van die ouer seuns. “Ek wil hoor van die keer toe Hy die oom wat ‘n week lank dood was, laat wakker word het!” ‘n Paar begin lag terwyl die bure se jongste onmiddellik die oordrywing met die waarheid korrigeer, terwyl twee groen-bruin oë vanonder ‘n frons na die verspotte seun loer…
Haar aanneemseun kom staan agter haar en rus sy hand met deernis op haar skouer. “Julle moenie vir Ouma so pla nie. Sy wil gaan lê.” Maar die vrou met die sagte oë draai na die man agter haar en praat met deurleefde wysheid, terwyl haar hand op syne kom lê. “Hulle pla nie, Seun. Hy het altyd tyd gemaak vir die kleintjies. Hulle help ons om die eenvoud wat ons verleer het en die vreugde wat kom, beter te verstaan.” Die seun weet dis waar en gaan sit kruisbeen tussen die kinders. Sy peetkind kom sit op sy skoot…
“Waar sal ek begin? Wat van daardie aand in koning Dawid se stad?” laat sy die uitnodiging in hulle midde. “Ja!” antwoord ‘n koor, bykans met een stem. Sy begin deur daardie eerste ontmoeting met die engel te deel en daarna hoef sy net hier en daar te herinner. Die kinders self vertel die verhaal. Die herberg, die herders en die hemelse skare van engele. En daar aan die voete van Maria, vertel die kinders saam die geboorteverhaal van Jesus. Daar is vrede in haar glimlag, wanneer sy na haar kinders kyk. Die hoop leef voort in kleintjies soos hulle wat die verhaal sal bly glo…
Here, help my om soos ’n kind te glo.
Hou my nuuskierig genoeg en tevrede met U.
Mag ek die genade ontvang om u stories oor te vertel.
Skeppergees, mag ek bly droom,
van ‘n wêreld wat altyd mooier en beter kan wees.
En wanneer ek te groot en te sterk wil raak,
kom vou u hande van liefde en trou styf om my lewe vas.
Dit is my hoop, dat ek daarmee tevrede sal wees.
Amen!