’n Advent-rubriek vir almal wat al ’n pakkie te erg ge-track het

👤 Wilmi Wheeler

Ek het die ander dag weer op ons sitkamerbank gesit met my foon in die hand, duim gereed, Checkers Sixty60 oop. Daardie klein motorfiets-ikoon ry soos ’n digitale pelgrim op my skerm rond. Eers “at the depot”, dan “on route”, dan vir ’n paar angstige minute verdwyn hy heeltemal. Net pixels en ongemaklike digitale stilte. En ek, volwasse mens, sit en refresh elke tien sekondes asof my lewe daarvan afhang.

Dis vreemd hoe vinnig ons aangeleer het om vir dinge te wag wat eintlik nie saak maak nie. En hoe moeilik dit geword het om te wag vir dit wat wél saak maak. Alles in ons kultuur is ontwerp om die tydperk tussen begeerte en vervulling so dun as moontlik te smeer. Koop nou. Kry dit nou. Moenie wag nie, jy gaan iets mis.

Maar dan kom Advent wat ons elke jaar herinner dat God se tydsberekening… wel, stadiger as ons s’n is.

God enable nie instant gratification nie

Wanneer ’n mens weer deur die Bybel blaai, besef jy vinnig dat God se ritme radikaal anders is as ons s’n. Die verlossingsverhaal is alles behalwe haastig. Niks daaraan voel soos Takealot se “same-day delivery” nie.

  • Daar is vierhonderd jaar se stilte tussen Maleagi en Matteus.
  • Maria dra vir nege maande lank vir Jesus. Daar was nie ’n fast-track opsie omdat sy swanger was met die Messias nie.
  • ’n Hele generasie Israeliete wag dekades in die woestyn.
  • En selfs wanneer die Verlosser uiteindelik arriveer, kom Hy nie as ’n krygsheld óf ’n leier met onmiddellike resultate nie, maar as ’n baba wat moet leer kruip, val, praat, werk en self wag tot die tyd reg was.

Nêrens in die duisende bladsye van die Bybel kry ons ’n engel wat sê:
“Goeie nuus! Die Messias sal binne 20–40 minute by jou straat afdraai nie!”

Die God wat hemel en aarde in ’n woord kan skep, kies om stadig te kom.
Nie vertraag nie, intentioneel stadig.

Ons kultuur aanbid spoed, maar Advent nooi ons om te wag

Wag voel soos ’n swakheid. Of ’n mors van tyd. Maar Advent sê: wag is ’n geloofsgewoonte. Advent is die seisoen waarin God vir ons aanleer dat wag nie ’n leë spasie is nie, maar ’n heilige spasie. ’n Ruimte waarin ons ophou beheer uitoefen en begin vertrou en besef: Ek hoef nie God se tydsberekening te verbeter nie.

En die beste nuus van Advent? Ons wag nie op ’n pakkie wat vertraag kan word deur die poskantoor se swak diens nie.
Ons wag op ’n Persoon wat klaar gekom het. Wat reeds vir ons gesterf het. Ons wag op ’n Lig wat nie skielik ontplof nie, maar stadig oopgaan oor die wêreld en oor ons eie lewens.

’n Eerlike Advent-belydenis

Kom ons praat reguit: ons is sleg met wag. Ons lewe is te vol, te vinnig, te baie. En ons vergeet dat die Here al lankal ’n ander ritme vir ons probeer leer het:

’n Ritme van asemhaal.
’n Ritme van sabbat.
’n Ritme van vrede.

Advent vra van ons om nie net vir Kersfees te wag nie, maar om te leer wag. Om te vertrou dat God se tydsberekening beter is as ons spoed. Om nie paniekerig te leef nie. Om nie alles te probeer jaag nie.

Die wêreld sê: “Moenie wag nie, jy sal iets mis.”
Advent sê: “Wag, anders gaan jy iets belangrik mis.”

Miskien is Advent soos daardie klein turkoois motorfietsie op my foon: soms sigbaar, soms stadig, soms ’n bietjie frustrerend. Maar anders as my Sixty60-bestelling, verdwyn God nie van die radar af nie. Wanneer ek refresh en net stilte sien, is dit nie omdat Hy laat is nie, maar omdat sy tydsberekening perfek is.

En dalk is dit genoeg: om te weet Hy is op pad. Nie soos ’n bestelling nie, maar soos ’n belofte.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: