8 dinge wat ek vir my jonger dominee-self sou sê

👤 Marié Britz

Sedert ek gevra is om by die legitimasieplegtigheid te preek, dwaal my gedagtes terug na my eie legitimasie in 1998, presies 27 jaar gelede. Ek het saam met geliefde vriende soos Siegfried Louw en Cas Wepener op daardie dag gestaan, vol verwagting. En toe ek oor vanaand se legitimasieplegtigheid begin dink, het ek gewonder: Wat sou ek graag vir my jonger self wou sê? Die self wat haar studies vol drome voltooi het en gereed gestaan het om die bediening aan te pak. Net soos julle, studente van 2025, gereed staan vir die pad wat op julle wag.

1. Ek sou gepraat het oor die groot voorreg wat dit is om geroep te wees as dominee

Ek sou myself herinner aan die enorme voorreg en geskenk wat dit is om ‘n predikant te wees en geroep te word om in hierdie spesiale bediening te staan. Ek kan myself en julle herinner aan die roeping van Moses of Jesaja of Jesus se roeping van die dissipels.

2. Ek sou deel oor die noodsaaklikheid van ’n geestelike metgesel

Ek sou my jonger self vertel het oor die absolute noodsaaklikheid van ’n geestelike metgesel. Oor hoe die pad soms moeilik raak en dat dit van kardinale belang is om iemand te hê wat jy vertrou en met wie jy persoonlik oor jou eie geestelike reis kan praat. Iemand met wie jy eerlik kan wees oor jou vrese, jou twyfel, maar ook jou vreugdes. Die verhouding tussen Paulus en Timoteus sou ek as voorbeeld noem.

3. Ek sou die belangrikheid van geestesgesondheid, rus en menswees benadruk het

En ja, ek sou my jonger self waarsku teen uitbranding. Ek kan myself vertel van die belangrikheid van geestesgesondheid, om genoeg rus te kry en ‘n gesonde lewe te lei. Van die belangrikheid van gesinslewe, vriendskappe en ‘n gebalanseerde lewe. Die belangrikheid van my eie gebedslewe en rustyd, retraites. Ek kon myself herinner aan Jesus se eie bediening en sy lewe van aksie en kontemplasie.

4. Ek sou ook sê: bly leerbaar.

Moenie dink jou teologie is klaar nie. Ek kon myself aanmoedig om verder te studeer, maar meer belangrik om altyd leerbaar en nuuskierig te bly.

5. Ek sou baie sterk benadruk: jy gaan foute maak. ’n Dominee is immers ook net ’n mens…

Ek kon myself herinner aan die belangrikheid daarvan om te weet dat ek net mens is en dat ons almal foute maak. Foute is deel van die bediening en dit is oukei.

Op ‘n ligter noot, sou ek my jonger self vertel het oor die keer toe ek die bruid en bruidegom by hul troue-seremonie gegroet het, maar per ongeluk die bruidegom met die bruid se vorige kêrel se naam aangespreek het.

Foute is ‘n noodsaaklike deel van die bediening en die lewe. Soos ‘n wyse ou tannie eendag vir my gesê het: Die hele lewe is ‘n geskenk… selfs ons foute.

Dit is nie ons deugde wat ons na God neem nie, dit is ons foute, ons mislukkings, ens., daarom is selfs ons foute ‘n geskenk in ons lewens. En onthou, die Here is baie genadiger teenoor ons en ons foute as wat ons teenoor onsself en mekaar is….

dominee

En so, ek kan aangaan met die lys…

Maar ek het besluit om myself vanaand aan die wysheid van Psalm 1 te herinner en daarom net ‘n paar gedagtes oor die Psalm met my jonger self en met jou te deel.

6. Ek sou Psalm 1 met my jonger self gedeel het

Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie, maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink.

Hy is soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak. So is die goddeloses nie. Hulle is soos kaf wat deur die wind uitmekaar gewaai word.

Daarom sal goddeloses hulle nie kan handhaaf wanneer die Here oor hulle oordeel nie en sondaars nie ‘n plek hê in die vergadering van regverdiges nie. Waarlik, die Here lei die regverdiges op hulle pad, maar die pad van die goddeloses lei tot ondergang.

Die leeu, die Psalm en die Woord wat grom

Jare gelede het ons gesin die Krugerwildtuin besoek en een oggend vroeg op ons oggendrit net buite die Lower Sabie-kampeerterrein het ons op ‘n leeu afgekom wat pas ‘n sebra doodgemaak het. Die leeu was baie tevrede om te gaan lê en sy prooi te eet. Hy het gegrom van selfvoldaanheid.

Na ‘n lang tyd het die leeu waarskynlik genoeg gehad en het hy ‘n bietjie verder gaan lê, maar seker gemaak dat geen ander wild naby sy prooi kom nie.

Toe ons laatmiddag terugkeer, was die leeu steeds daar om oor sy prooi te bewaak. Dit was vir my baie interessant dat die profeet Jesaja so ‘n aksie deur ‘n leeu in Jesaja 31 beskryf.

Jesaja beskryf hoe ‘n leeu by sy prooi lê, eet en grom, en niemand durf naby hom kom nie. Jesaja 31:4 So sê die Here vir my: Soos ‘n leeu grom, soos ‘n groot leeu oor sy prooi – en al word ‘n hele groep herders daarteen bymekaargeroep, word dit nie skrikgemaak deur hulle geskreeu of versteur deur hulle geraas nie.

Hierdie woord “grom/growl” is die Hebreeuse woord Hagah. Dieselfde woord wat Jesaja in Jesaja 31 gebruik – Hagah, is die woord wat die Psalmdigter in Psalm 1 gebruik. Hy sê ‘n persoon wat die Woord van God hagah, is geseënd.

Hierdie woord hagah word vertaal as iemand wat dag en nag oor God se wet oordink. In die Afrikaanse vertaling vertaal die woord hagah met “dag en nag oordink.” Soos Psalm 1 verwoord: “Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinnige saamspan nie, maar wat in die Woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink.” Hy is soos ’n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak.

Een van die artikels wat ek oor hierdie gedeelte gelees het, vertaal hagah en sê: dit is iemand wat hom-/haarself in die Woord verloor. Soos die leeu homself in sy prooi verloor, so moet die mens hom-/haarself verloor in die Bybel – God se Woord.

Sien die uitnodiging op ’n paar plekke in die Bybel:

  • Ps 34:9 “Kom ondervinding [HAGAH] en sien self dat die Here goed is” “Ek het die woorde verslind [HAGAH] toe hulle gekom het, hulle was vir my ’n vreugde.”
  • Jer 15:16 “Mens, eet [HAGAH] die boekrol wat Ek jou gee, eet [HAGAH] jou vol…”
  • [Eseg 3:2,3] “Ek het die boek uit die hand van die engel gevat en dit opgeëet [HAGAH]”

Die uitnodiging is dit:
Hagah die Woord. Eet dit. Hoor dit. Proe dit. Leef daarvan.

7. Ek sou gepraat het oor hoe dit al hoe makliker vir jou sal raak om die Bybel te gebruik

Ek besef hoe maklik ek die Bybel kan lees met die doel om ‘n preek vir die gemeente voor te berei of ‘n Bybelstudie of skoolopening voor te berei.

Hoe maklik kan ek die Bybel lees op soek na antwoorde op moeilike kwessies waarmee ons wêreld worstel en waarin ek na antwoorde soek, want mense kyk na my, as dominee, vir raad.

Ek besef hoe maklik ek besig kan wees en met die Bybel kan omgaan op soek na die regte verduidelikings en antwoorde en hoe ek dit kan gebruik om sin te maak van ons verwarde wêreld.

Ek besef ook hoe ek kan verdwaal tussen nog ‘n kommentaar, nog ‘n teologiese perspektief, nog ‘n persoon se interpretasie van die Bybel en in die proses myself in ‘n droë landskap kan bevind waar die Woord vir my droog en leeg kan word.

Daarom wil ek my jonger self en jou vandag weereens herinner aan die uitnodiging en die wysheid van Psalm 1. HAGAH die woord van God. Verloor jouself in die woord van God!

Guido II skryf in die 12de eeu:
“Reading, as it were, puts the solid food into our mouths; meditation chews it and breaks it down; prayer obtains the flavour of it and contemplation is the very sweetness which makes us glad and refreshes us.”

8. Ek sou aanmoedig dat die Bybel nie net verstaan moet word nie, maar dat ek ’n dissipel moet wees

In C.S. Lewis se roman, The Voyage of the Dawn Treader, word Edmund, Lucy en Eustace in die wêreld van Narnia ingetrek deur ‘n skildery op hul oom se muur wat ‘n skip op see uitbeeld. Terwyl hulle na die skildery kyk, bevind die kinders hulself skielik deur die raam in die toneel ingetrek. Terwyl hulle op die dek van die skip rondgestoot word en water teen hul gesigte voel spat, ontdek hulle dat hulle nie meer passiewe waarnemers van ‘n prentjie is nie, maar aktiewe deelnemers aan die werklikheid daarvan geword het.

Hierdie toneel bied ‘n nuttige metafoor vir die Christelike lewe. Die doel van die Christelike lewe is nie bloot om ‘n goed geraamde teologie te hê nie. In plaas daarvan moet mense deur die raam en binne die storie ingetrek word.

Om Jesus te volg, behels meer as om akkurate konseptuele kennis van God en die Woord van God te verkry. In plaas daarvan behels dit die ervaring en deelname aan die geestelike realiteite wat in die Skrif uitgebeeld word.

Ongelukkig leef baie Christene en teoloë en predikante vandag dikwels as passiewe waarnemers eerder as aktiewe deelnemers in hul verhouding met God. Teoloog en filosoof Dallas Willard merk op: “Wat die sigbare Christelike instellings van ons tyd betref, is dissipelskap duidelik opsioneel.”

Willard merk op dat baie mense ‘n Christelike identiteit opeis sonder om werklik die lewe as ‘n dissipel van Christus te ervaar. Hy stel voor dat die kerk gereeld die woord dissipel uit Jesus se Groot Opdrag weglaat en dit vervang met die woord bekeer. Terwyl Jesus sy volgelinge opdrag gee om dissipels te maak wat leer “om alles te gehoorsaam wat Ek beveel het” (Matt 28:19), glo Willard dat die kerk dikwels daarop besluit om bekeerlinge te maak wat intellektuele styging gee aan ‘n reeks proposisie-oortuigings.

Daar is egter ‘n beduidende verskil tussen die gee van ‘n intellektuele styging aan ‘n oortuiging en die uitleef van die implikasies van ‘n oortuiging. Om te weet dat Jesus vergifnis bied, is byvoorbeeld anders as om die vreugde en vryheid van vergifnis te ervaar. Om die Tien Gebooie te memoriseer is anders as om te leer hoe om daarvolgens te leef.

Tragies genoeg, wanneer die Christelike lewe gereduseer word tot die verkryging van behoorlike inligting, mis mense die ervaring van ‘n transformerende ontmoeting met God wat hulle in staat stel om ‘n lewe van liefde vir God en ander te lei.

Die oorheersende modelle van dissipelskap in die hedendaagse Protestantse kerk fokus dikwels meer op die inlig van denkers as die transformasie van lewens. Willard betreur die kerk se gebrek aan klem daarop om mense te help om nie net God te verstaan ​​nie, maar ook ‘n transformerende ontmoeting met God te hê.

Wat ek vanaand vir my jonger self (en vir jou) wil sê

Die uitnodiging is eenvoudig: Eet die Woord.
Kou dit.
Herkou dit.
Word deel van die storie.
Laat God se liefde jou tref, jou verander.

En dan, volg die belofte van Psalm 1. Dat jy dan soos ‘n boom wat by die water geplant is, sal wees wat vrugte sal dra en skaduwee sal bied met jou lewe en bediening aan mense. Andersins word ons lewens en bedieninge soos kaf wat deur die wind weggewaai word, oorweldig word deur die strome en getye van ons wêreld en word betekenisloos vir hierdie wêreld.

Prof. Dirkie Smit gebruik die ongelooflike beeld wat by die teks in 2 Korintiërs 3 pas wat na die Bybel as ‘n spieël verwys: Terwyl ons die Bybel lees, is ons soos mense wat in ‘n spieël kyk. Maar dit is ‘n vreemde, eienaardig ander soort spieël. Gewoonlik wanneer ‘n persoon na hul beeld in die spieël kyk en jy bewegings uitvoer, sal die beeld in die spieël verander om jou aksies te weerspieël.

Maar hier werk dit andersom.

Wanneer die kerk, God se kinders, die Bybel lees, dit kou en uitspoeg (hagah), daarna luister en daaroor mediteer, sien ons die Drie-enige God in die Bybel beweeg. En terwyl ons dit doen, word ons verander, vernuwe deur die Gees – die Gees beweeg ons, om al hoe meer soos Jesus te lyk, om te word, om te wees.

Die woorde van die Gees word lewendig in ons, deur ons. Dit dra die vrugte waarna ons wêreld smag.

Dit is wat ek vir my jonger self sou sê.
Dit is wat ek vanaand vir jou wil sê.

Hagah die Woord.
Leef daarvan.
En laat God jou verander.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: