Spiritualiteitsentrum

Die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit op Wellington is op 9 Mei 2017 bekendgestel. Tydens die geleentheid het Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die moderamen van die Sinode van Wes-Kaapland, enkele gedagtes oor die geskiedenis en noodsaak vir so ‘n ruimte gedeel.

Hier volg ‘n uittreksel uit sy toespraak, met ‘n kort video-greep daarna.

***

Op 22 April 2017, ‘n dag waar ‘n miljoen mense buite Bloemfontein saamtrek uit ‘n diepe kommer oor Suid-Afrika, is dit duidelik dat daar vandag steeds ‘n diep behoefte aan spiritualiteit, ‘n konneksie met God, verootmoediging, nuwe toewyding en herlewing, bestaan.

9 Mei 2017 is die herdenking van dr Andrew Murray se verjaarsdag. Die jong Andrew Murray se pad loop van Graaff-Reinet na Aberdeen in Skotland na die Universiteit van Utrecht in Nederland waar hy en sy broer in 1945 hulle meestersgrade verwerf. In hierdie tyd is die Gereformeerde Nederlanders gevang in ‘n gees van strakke rasionalisme. In reaksie hierop groei Het Réveil, as ‘n beweging teen die rassionalisme, wat soek na ervaring met God. Nie net wat ek weet van God se genade nie, maar ook my toewyding is belangrik.

Dit is algemeen bekend dat Murray sterk gevoel het oor teologie, belydenisskrifte en sy gereformeerde identiteit. Maar net soos hy ’n “liberale” teologie verwerp het weens die vernietigende gevolge daarvan op die geloofslewe, net so toon hy duidelike voorbehoude teenoor ’n ortodokse teologie wat nie lewensvernuwend werk nie.

Prof Pieter de Villiers skryf in sy artikel oor Murray en noem sy mistiek ‘n “nugtere mistiek”. Murray lewer immers soms kritiek teen uitwasse van die mistiek. Bewus van sy eie gereformeerde identiteit, skryf hy vanuit die fundamentele reformatoriese beginsel van sola Scriptura oor die mistiek. Maar in sy inleiding tot William Law se Wholly for God (Law is uit en uit ‘n mistikus) wys hy daarop dat die mistiek, veral in sy “goeie” formaat, nie die Skrif wil verwaarloos nie, selfs nie wanneer dit aandring op “an inner light that flows from immediate and continuous communication with God” nie. Trouens, waarsku Murray, die klem op sola Scriptura kan selfs problematies wees. ’n Mens kan heel vroom die Skrif noukeurig bestudeer en uitgebreide kennis van teologiese inhoude hê en God nogtans nie ontmoet nie: “Studying Scripture diligently and discovering its truths can happen without meeting God who powerfully speaks within them.” Hy onderskei daarom tussen blote kennis van Christus en die “inward experience of Christ’s indwelling in humanity”. Murray skryf oor partisipasie aan God, oor die innerlike lewe wat die grense van die redelike en verstaanbare ver oorskry.

Roeping, gebed, diens word sy leuse. Hy beliggaam sy leuse. In talle opsigte word hy die verpersoonliking van die teologie en spiritualiteit van die NG Kerk, ‘n gereformeerde kerk met ‘n hibriede teologie- regsinnigheid en vroomheid het hier begin ineen loop.

Sy gebed:

“May not a single moment of my life be spent outside the light, love, and joy of God’s presence,” was his prayer. “And not a moment without the entire surrender of myself as a vessel for him to fill full of his Spirit and his love.”

Maar dit het nie sonder kritiek gepraard gegaan nie. Murray se vroomheid en die wyse waarop hy daarmee volgens sy kritici die mens as subjek van geloof te hoog sou aanslaan het diepgaande teologiese gesprek ontlok. Regsinnigheid en toegewyde wandel met God het mekaar in hierdie voortdurende gesprek ontmoet en bly steeds die ruimte waarin ons as kerk ons bevind.