Dit is weer sulke tyd !!!   Baardskeerdersbos hou Kerkbasaar op Saterdag 09 Maart 2019. Die basaar is n jare lange hoogtepunt op die kalender van die Overstrand,  Strandveld ,  Gansbaai en natuurlik die BBos dorp en boerdery gemeenskap.  Die Basaar is n ware kuluurfees wat gerig word deur  tradisionele en geloofswaardes wat die BBos  kerk en gemeenskap  oor n tydperk van amper 100 jaar gevestig het en steeds koester. Dit is die tyd wanneer vriende, familie en besoekers by die BBos kerk bymekaar kom , hulle self geniet en verlustig aan dit wat te ete, te hore, te drinke en te kope is. Vanaf koek, plaasgebakte brode, koeksisters, kolwyntjies, terte en vele meer.  Vanaf blikbroodjies, rooster koeke, rosynbrode, mos- en uitgedroogte beskuit. Kerrie en rys, afval, vars groente vanaf die plaas, vrugte, kaiings, heuning en ingelegde produkte, slaptjips, hotdogs en hamburgers, pannekoek, pasteie en koffie.  Gebakte dubbel poeding en triffle.  Sosaties soos net die BBos boere dit kan voorberei.

En natuurlik is daar gemmerbier en witblits  vanuit die Uilkraal vallei.  Natuurlik is daar fynbos uit die berge en  valleie van die Strandveld.  n Kindertafel  en ook  hoe kwaliteit naald en handwerk stukke.  Die BBos  Basaar sal nooit werklik n basaar wees sonder die teenwoordigheid van ons eie en plaaslike Boereorkes ( Rumicup orkes) nie. Hulle beskik net oor die vermoe om lekker en opgewekte Strandveld musiek op te tower. 

Die veiling is n besliste hoogtepunt.   Lewende hawe en allerhande interessante stukke word deur Cornie Swart, bekende in die WesKaap en SA landbou kringe opgeveil.   In die verlede is n enkele speenvarkie tot 4 keer verkoop vir elke keer meer as n R 1000 00. Die varkie word dan aan die skenker terug gegee met die versoek om hom vet te voer vir die volgende jaar se basaar.

Die Bbos lidmate en ook van hulle  ondersteuners gee  oordadig en met vreugde en liefde hulle tyd, hulle energie en hulle goedgesindheid.  Dit is vir hulle belangrik om as christene missioner uit te reik na almal op die plase.

Die Basaar het n tweeledige doel. Eerstens om vriende en besoekers by die BBos kerk te onthaal en tuis te laat voel en om as Christene joviaal  en met vreugde fees te vier.  Tweedens om noodsaaklike fondse in te samel  vir die werksaamhede    van die NG Kerk gemeenskap van Gansbaai met al sy streek kerke.

U word vriendelik uitgenooi om die Basaar by te woon. Dit begin 0900  op Saterdag  oggend  09 Maart en word gehou by die NG Kerk te Baardskeerdersbos. Kom vroeg om teleurstelling te voorkom. Ervaring het ons geleer dat teen 1200 uur alles reeds uitverkoop is.

Kontak persone:  Boet Schoeman  0824241331.   Aletta Groenewald  0824990230