“Boys will be boys?” – Nee. Seuns, wees soos Jesus!

👤 Wilmi Wheeler

Die rugbyveld is vol energie. Twee seuns stamp koppe en een slaan die ander plat. Wanneer die een staande kom, is hy kwaad. Hy vloek die ander seun en hulle begin hulle stoei. “Ag, los hulle,” sê een van die pa’s aan die kantlyn. “Boys will be boys.”

Die woorde word met ‘n sekere trots gesê, asof hierdie aggressiewe gedrag deel is van seuns se natuurlike aard – iets wat nie verander hoef te word nie. Maar teen watter prys hou ons aan om so te praat? Wat leer ons ons seuns regtig? Wat gebeur as hierdie “onskuldige” aggressie oor jare ontwikkel en seuns mans word en mense begin seermaak?

Suid-Afrika staan aan die voorpunt van ‘n geweldskrisis. Vroue en kinders word daagliks slagoffers van mans wat nooit geleer is om anders te leef nie. Dis tyd dat ons stilstaan en vra: Hoe lyk ware manlikheid? Ons seuns het beter voorbeelde nodig – en ons vind dit in Jesus. Jesus, die volmaakte man, wys ‘n pad van sagmoedigheid, respek en liefde wat ons seuns en mans inspireer om te leef soos God bedoel het.

Die probleem met “Boys will be boys”

Die frase “boys will be boys” het oor jare ‘n gevaarlike sondebok geword. Dit regverdig gedrag wat dikwels grense oorskry. Dis ‘n frase wat ouers laat lag oor ‘n seuntjie se ondeundheid, maar ook een wat gebruik word om tienerseuns se disrespek of aggressie af te maak as “normaal.” Hierdie mentaliteit skep egter ‘n samelewing waarin mans nie verantwoordelik gehou word vir hul aksies nie.

Die gevolge is tragies sigbaar. Volgens SAPD-statistieke is daar tussen Julie en September 2024 meer as 10 vroue en 3 kinders per dag in Suid-Afrika vermoor. Verlede jaar is daar meer as 44 000 klagtes van aanranding teenoor vroue aangemeld en nog meer slagoffers wat nie praat nie. Hoeveel van hierdie geweld kon voorkom word as ons seuns van ‘n jong ouderdom geleer het wat dit beteken om met liefde en respek te leef?

Jesus bied ‘n radikale alternatief vir hierdie gedrag. Hy wys dat ware manlikheid nie in oorheersing of geweld lê nie, maar in diensbaarheid, empatie en respek vir ander.

boys will be boys

Wat kan seuns leer uit Jesus se lewe?

As ons wil hê seuns moet ‘n ander pad stap, moet ons hulle help om te sien hoe Jesus geleef het. Sy voorbeeld daag elke aspek van toksiese manlikheid uit.

  1. Respek vir vroue

In ‘n tyd waar vroue dikwels as minderwaardig beskou is, het Jesus hulle met respek en waardigheid behandel. Hierdie optrede wys seuns dat vroue nie voorwerpe is nie, maar mense met waarde. Mense wat verdien om beskerm en eerbiedig te word.

  1. Deernis vir ander

Jesus het ‘n lewe van deernis geleef. In Matteus 14:14 sien Hy ‘n skare en word met medelye vervul. Hy genees hulle en sorg vir hulle fisiese en geestelike behoeftes. Hierdie soort deernis leer seuns dat ware krag lê in omgee vir ander, veral vir die kwesbares.

  1. Weerhouding van geweld

Terwyl die wêreld geweld as ‘n teken van krag sien, wys Jesus dat ware krag in selfbeheersing lê. Toe Jesus in Gethsemane gearresteer word, gryp Petrus sy swaard en val ’n soldaat aan. Jesus stop hom dadelik en genees selfs die gewonde (Lukas 22:50-51). Jesus se voorbeeld wys seuns dat geweld nie die antwoord is nie, selfs in moeilike omstandighede.

  1. Beskerming van kinders

Jesus het ‘n spesiale liefde vir kinders. Hy het ernstige waarskuwings gerig teen enigeen wat kinders skade aandoen (Matteus 18:6). Seuns moet leer dat hulle geroep is om beskermers van die kwesbares te wees – ‘n rol wat Jesus deurentyd gedemonstreer het.

Hoe beweeg ons weg van die “Boys will be boys” narratief?

Die verandering begin by ons. Gesinne, skole en gemeentes het ‘n groot rol om te speel in die vorming van ‘n nuwe generasie seuns wat Jesus navolg.

  • Herdefinieer manlikheid – Ons moet ophou om aggressie en emosionele afstand as normaal vir seuns te sien. Ware manlikheid is gebaseer op integriteit, nederigheid en diensbaarheid – kenmerke wat Jesus gedemonstreer het.
  • Leer aanspreeklikheid – Wanneer seuns iets verkeerd doen, moet ons hulle nie verskoon nie. Ons moet hulle help om hul foute reg te maak en te leer dat optrede gevolge het.
  • Bou ‘n kultuur van respek – Dit begin in die huis. Hoe praat pa’s oor vroue? Hoe behande pa vir ma? Seuns leer wat hulle leef. Wanneer ons Jesus se voorbeeld in ons eie lewens volg, inspireer ons seuns om dieselfde te doen.
  • Gebruik positiewe taal – Ons woorde het mag. Wanneer ons sê “boys will be boys,” normaliseer ons verkeerde gedrag.

Om seuns groot te maak wat Jesus navolg, is nie net moontlik nie – dit is ouers se roeping. Miga 6:8 som dit so pragtig op: “Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is. En wat vra die Here van jou anders as om reg te doen, liefde en trou na te jaag en ootmoedig voor jou God te lewe?”

Ons land het nie nog ‘n generasie nodig wat die slagoffers van geweld vermeerder nie. Wat ons nodig het, is seuns wat mans word wat Jesus se lig in die wêreld weerspieël. Wat ons nodig het, is seuns wat leer om reg te doen, liefde na te jaag en die kwesbares te beskerm.

Kom ons sê dit hard en duidelik: Boys will not just be boys. Boys should be like Jesus.

16 Dae van Aktivisme-veldtog

Reis tussen 25 November – 10 Desember saam met die Taakspan Gendergeregtiheid, Badisa, CLF (Christelike Lektuur Fonds) en CABSA (Christian Aids Bureau of Southern Africa) met die tema Step In, Step Up and Step Out waar ons saam gaan dink, gesels en doen om GBV te bekamp.

Dis hoe jy kan deelneem aan die veldtog:
  • Dra swart of ‘n swart item vir die 16 dae as aanknopingspunt om die gesprek te begin.
  • Volg en share die daaglikse oordenkings, feite en inligting wat uitgestuur gaan word op die 16 Dae WA groep. Enige iemand is welkom om daar aan te sluit: https://chat.whatsapp.com/B8AjL7lVQ1W3mPO04TTEt2
  • Volg die Gendergeregtigheid Taakspan en Badisa se Facebook blad.
  • Neem deel aan die 16 Dae Challenge kalender.
  • Verander jou WhatsApp profile prent na ‘n “STOP GBV” prent.
  • Nooi mense om deel te neem aan die veldtog of om aan te sluit by hierdie groep: https://chat.whatsapp.com/B8AjL7lVQ1W3mPO04TTEt2
  • Besoek Badisa, CABSA en CLF se webtuistes
  • Jy kan al die inligting aflaai by: https://drive.google.com/…/1N3vA8stmTL…
Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: