Die familie van NG Kerke vier in Augustus Barmhartigheidsmaand saam met talle ander kerke. Die doel van hierdie maand is om spesifiek te fokus op die nood in die wêreld en te besin oor die kerk se respons daarop.

Oor die nood in die wêreld hoef mens nie veel te sê nie – ons almal word daagliks gekonfronteer met mense wat op straat leef, werklose mense, geweld teen kinders en vroue, geweld teen die aarde, die uitbuiting van mense. Dan is daar ook nog natuurrampe soos droogtes en brande wat groot trauma in baie mense se lewens bring. Navorsing toon aan dat die kerk dikwels en met groot ywer reageer op die nood van mense. Die talle sopkombuise, Projek Winterhoop en noodfondse vir mense in brand- en droogte geteisterde gebiede getuig hiervan.

Die diakonaat van die kerk, of diens van barmhartigheid, is baie lank verstaan as noodleniging en dit het daartoe gelei dat barmhartigheidsprojekte dikwels korttermyn en ad hoc projekte is: ’n insameling en uitdeel van komberse en klere in die winter, bydraes tot ’n noodfonds, kospakkies ensovoorts. Sulke projekte is noodsaaklik en dikwels is dit die verskil tussen lewe en dood, maar noodleniging is nie die enigste moontlike optrede nie.

Uit navorsing wat in die 1990’s begin verskyn het, blyk dit dat een van die primêre betekenisse van die Griekse daikon woordgroep waarvan ons woorde diaken en diakonaat afgelei word, op verteenwoordiging dui. Diakonaat kan dan verstaan word as die verteenwoordiging van God Drie-enig in hierdie wêreld.

Die diakonaat van die kerk kan egter ook verstaan word in terme van die missie van God (missio Dei) in hierdie wêreld. Die kerk se deelname aan die missie van God, of anders gesê, die missionaliteit van die kerk, is vir die NG Kerk so belangrik dat hierdie kerk in 2015 ’n nuwe artikel in die Kerkorde aangebring het waarin verklaar word dat die NG Kerk deur God Drie-enig geroep is om deel te neem aan die missie van God (KO 2015 art 2). Volgens hierdie artikel beteken dit dat die Kerk deur die Heilige Gees opgebou word om God se eer te dien en die bediening van versoening en die heil van Christus te verkondig.

Wanneer diakonaat in die dampkring van God se missie verstaan word, skuif die fokus van die kerk se diakonaat na die herstel van God Drie-enig se heerskappy in die wêreld. Missionale diakonaat behels dan dat die verskillende gestaltes van die kerk (bv die individu, geloofs-gemeenskappe, die verskillende kerkverbande, en kerklike diensorganisasies) as diensknegte en deelnemers aan God se missie (of ’n mens kan ook sê as verteenwoordigers van God) betrokke raak by die voorkoming en bestryding van lyding en die (maatskaplike) nood van individue, groepe en gemeenskappe asook die bevordering van regverdige verhoudings binne die kerk en samelewing.

Noodlening en omgee is inderdaad belangrike diakonale aksies, maar so is solidêre liefdesdiens, om langs die persoon in nood te gaan staan en die pad skouer aan skouer te loop, ook diakonaat. Die diakonaat behels ook professionele maatskaplikedienste en institusionele versorging. Diakonaat vra ook dat die gelowige en die gemeente hulle stemme sal laat hoor teen die ongeregtigheid wat gedy en  diakonaat behels verder dat die kerk ook sal omgee vir die skepping wat ly.

Willie van der Merwe
Bestuursraadlid – Badisa, lid van Diaconia se Taakspan Gemeentediakonaat

2 Augustus 2017