Adri Vlok, skriba van NG Kerk Sutherland, pen haar gedagtes neer oor COVID en die gepaardgaande emosies. Dankbaarheid, droefheid,  maar tog ook ‘n groeiende skuldgevoel.

“As ‘n ewigdurende groeiende Jesuskind en student van die lewe voel ek skuldig. ‘n Anderste tipe skuldgevoel pak my beet.

Ek kry die geleentheid om vir die eerste keer gekies te word as afgevaardigde om die ringsitting by te woon. Gesprekke rondom COVID-ervarings en waar staan die kerk en ons toekoms in dit alles word bespreek. Feite word deurgegee, hartverskeurende verhale word aangehoor en die praktiese realiteite van opvoeding en besighede wat nogsteeds moet funksioneer, staar ‘n mens vierkantig in die oë.

Ek sit en luister, my hart skeur, my gemoed is vol. Ek voel skuldig. Ek sit met vars skoon lug elke oggend as ek wakker word op die plaas, ek hoef nie die las van ‘n masker te hanteer nie. Ons huis se roetine verander nie as gevolg van die inperkings wat meer tyd met huismense veroorsaak nie. Ons is maar nog altyd die heeltyd in mekaar se spasies, maar ons spasie is groot. Die kinders doen al van graad R af tuisonderrig en geen versteurings vind plaas of verlore werk wat ingehaal moet word nie. Ons almal is gesond, besig soos altyd. Ons een keer ‘n maand se inkopies bly ook nog dieselfde en is ons nie afhanklik van weldoeners om pakkies voor ‘n positief-getoetste huis neer te kom sit nie. Bevoorreg. Skuldig.

COVID raak almal, vir ons raak dit ook, net anders. Die gevolg van COVID is nou dat dankbaarheid vir wat ons op die oomblik ervaar in ons gesondheid en in ons omgewing nie meer vanselfsprekend aanvaar word nie. “Hoekom ek?” soos wat die oom vir God gevra het en sy hartseer oomblik gedeel het toe hy sy vrou aan COVID moes afstaan. Hoekom nie, antwoord God? Elke dag word opnuut in dankbaarheid gekyk na die vanselfsprekende vars lug, geen masker en beweging wat ons tot ons beskikking het. Ons dank meer, prys meer! Dan raak die skuldgevoel partykeer erger, want hoekom nie ook ons nie? Dan is die gevolg van die COVID dat dit ons op ons knieë dwing, nee dring! Dra hulle op, smeek vir verligting vir die wat sukkel om asem te kry. Pleit vir rus vir die mediese personeel en beskerming teen uitputting. Onderwysers wat met hul groot harte ons toekoms wil bewaar en opvoed, kry swaar Here, dis moeilik. Ons bid vir die wat agterbly nadat die virus sy deel kom neem het in ‘n jong huishouding. Ons bid, bly bid, tree in! Dis die gevolge van COVID in ons huishouding.

Ons moes van vooraf weer leer en oefen hoe om te ontvang. Om die genade van God te mag en te kan ontvang. Dalk het ek verleer om te ontvang, want in die Woord lees ek van gee is beter, maar as ek nie net kan dankbaar wees vir hierdie basiese noodsaaklikhede nie, hoe kan ek dan oop wees om God se genade net gratis te wil ontvang? Wil ek te hard probeer werk sodat ek dit kan verdien?

Ons elkeen ervaar COVID anders, ons almal word geraak. Ons het almal ‘n familielid, ‘n kennis, ‘n vriend wat alreeds gesterf het. Dit trek al nader aan die huis. Party moet dit met trauma deurgaan, ander het afleidings wat hul kan gebruik, ander het nie die voorregte van afleidings nie en dan nog ander is geplaas …dalk net vir ‘n tydjie… om gesond te bly sodat ons kan bid en intree vir ander. Kan ons skyn in die manier hoe ons COVID hanteer? Ek is diep geraak deur getuienisse van COVID-oorlewendes, hulle dra die boodskap van hoop en genesing. Ek word vasgevang in die woorde van onderwysers en mediese personeel wat die boodskap van krag, uithouvermoë en genade oordra. Elkeen kan op ‘n manier skyn tydens COVID sodat almal kan deel hê aan God se groter plan. En ek staan weereens oopmond in verwondering hoe God niemand onaangeraak los en ons elkeen op unieke maniere plaas in unieke situasies, dalk net vir ‘n tydjie, sodat ons net daar daardie oomblik kan gebruik om te kan skyn, hoe vreemd, swaar en onverstaanbaar dit ook al mag wees. God bly in beheer!”

Foto: Braham Vlok