Die harige waarheid van demokrasie
👤 Wilmi Wheeler
Op ‘n rustige middag sit Alex Clark van Op-die-berg-gemeente saam sy gesin om die kombuistafel en ‘n ongewone onderwerp kom ter sprake: demokrasie en verkiesings. Wat begin het as ‘n poging om die konsep van meerderheidsbesluitneming op ‘n eenvoudige manier te verduidelik, het gelei tot ‘n werklike stemming oor die huishouding se patriarg se baard…
“Een middag sit ek saam met my gesin om die kombuistafel. Ek is onseker hoe ons by hierdie onderwerp uitgekom het, maar die gesprek gaan oor demokrasie en verkiesings.
Ek probeer ‘n eenvoudige voorbeeld gee deur te sê: Ons is vier mense in die gesin. As die meerderheid stem dat ek byvoorbeeld my baard moet groei, dan is dit wat gedoen moet word. As die meerderheid voel hulle hou van my as ‘n skoongesig-seun, dan stem ons teen die baard. Dit is demokrasie.
Wat ek nie verwag het nie, was dat daar groot entoesiasme sou wees om hierdie spesifieke saak tot stemming te bring. Ek vra toe bietjie bekommerd: Wie stem dat ek my baard moet laat groei? Drie van die vier familielede stem dadelik dat ek my skeermes moet wegpak.
Net EK het gestem teen die nuwe baard-regime…
So, al is dit my gevreetjie wat deur ‘n gryswordende wolkombersie versteek word, het ek besluit om my baard te groei, want ons het demokraties daarvoor gestem.
Dit is die lengtes waarheen ek gedryf word om my kinders te leer oor verkiesings…”
(Besluit self: Skuif die slider op die foto om te sien hoe Alex met en sonder ‘n baard lyk!)
Gelowiges se verantwoordelikhede in die demokrasie
Na die nasionale verkiesing wat pas plaasgevind het, herinner Alex dat ons as gelowiges nog steeds ‘n paar verantwoordelikhede het. Die rol van ‘n Christen strek verder as net die stemlokaal; dit behels ‘n voortdurende toewyding aan gebed, vrede en samewerking. Ons deelname aan die demokratiese proses is nie net ‘n burgerlike plig nie, maar ook ‘n geestelike een, wat van ons vereis om aktief betrokke te wees en te stem met wysheid en geloof in God se leiding.
Hou aan bid vir Suid-Afrika
Eerstens moet ons bid vir voortgesette vrede en stabiliteit in die nasleep van die verkiesing. “Geweld is ‘n deel van ons geskiedenis en ons vra dat God ons almal sal beskerm te midde van enige spanninge wat mag ontstaan.”
Gebed is ‘n kragtige instrument waarmee ons God se leiding en beskerming kan vra, nie net vir onsself nie, maar ook vir ons land en sy leiers. Ons gebede kan verder help om kalmte en eenheid te bring in tye van onsekerheid en verdeeldheid.
Ons moet saamwerk en vir mekaar luister
Tweedens is dit ‘n werklikheid dat na ‘n verkiesing met soveel verskeie partye en belange, nie almal gelyk tevrede sal wees met die uitslag nie. “Dit is ons roeping as Christene om saam te werk met almal om God se koninkryk hier op aarde te bevorder, vir almal se welsyn!”
Dit beteken dat ons bereid moet wees om oor politieke skeidslyne heen te werk en te streef na gemeenskaplike doelwitte wat die welsyn van ons gemeenskappe bevorder. Samewerking vereis dat ons met empatie en begrip na ander se standpunte luister en maniere vind om die gesamentlike belange van geregtigheid, barmhartigheid en vrede te bevorder.
Moenie op die kantlyn staan nie, neem deel!
Derdens moet ons nie op die kantlyn bly staan nie, maar aktief deelneem aan die rigting van ons land.
Na die verkiesing is dit belangrik dat ons as Christene voortgaan om ons betrokkenheid by die demokratiese proses te handhaaf én uit te brei. Dit beteken dat ons ons stemme laat hoor in openbare forums, gemeenskapsvergaderings en deur deelname aan burgerlike organisasies. Ons moet ingelig bly oor beleidskwessies, ons verteenwoordigers aanspreeklik hou en betrokke raak by projekte wat gemik is op die verbetering van ons gemeenskappe. Deur hierdie aktiewe deelname help ons om ‘n regverdige, vreedsame en voorspoedige samelewing te bou. Dit is ‘n manier waarop ons ons geloof in aksie kan omsit en ‘n positiewe verskil in die wêreld kan maak.
Vertrou op God, nie in die politiek nie
Alex het die Sondag voor die verkiesing oor die teksgedeelte van Abram en Lot (Genenis 12) gepreek en benadruk hoe hierdie verhaal ons leer dat ons vertroue nie op politieke stelsels of partye moet rus nie, maar op God alleen. Abram se vertroue in God het hom in staat gestel om grootmoedig en onselfsugtig op te tree, met die wete dat God se voorsiening en leiding altyd voldoende sou wees, ongeag die onmiddellike uitkoms. Dit beteken dat ons, soos Abram, moet glo dat God se plan groter is as enige politieke beweging of leier.
In tye van politieke onsekerheid of teleurstelling, kan ons maklik ontmoedig voel, maar ons moet onthou dat ons hoop en sekerheid in God gevestig is. “Laat ons in hierdie tyd almal ervaar dat God ons sorg en lei, ongeag van die politieke landskap om ons heen. Deur te bid, te werk, en te stem met geloof en vertroue in God se leiding, kan ons ‘n blywende en positiewe impak maak.”