Die Here is my herder… in die Karoo

👤 Wilmi Wheeler

Daar’s iets aan die Karoo. Hier, tussen die klippe en bossies, leef mense wat die grond verstaan. Boere wat die tekens van reën beter lees as wat mense ’n boek naslaan. Hulle weet presies hoe voel wind wat belofte dra. Hulle praat oor hulle skape met dieselfde teerheid waarmee ander oor familie praat.

Dis hier, buite Laingsburg, waar dominee Heinrich Niehaus besluit het om saam te stap met ’n boer wat met sy skape getrek het van een gebied na ‘n ander. Die staptog in sy totaliteit is ongeveer 125 kilometer wat oor sewe dae versprei word. Heinrich het die eerste twee dae van hierdie trek saam aangepak.

Die Here is my herder, niks sal my ontbreek nie

As predikant het hy al honderde kere Psalm 23 gepreek, gesing, by begrafnisse gelees, in nood gebid. “Die Here is my herder, niks sal my ontbreek nie.” Maar tussen die skape, vertel hy, het hierdie vers ’n ander betekenis gekry.

Elke dag van die staptog begin lank voor die son opkom. Almal is teen halfvyf wakker, want vyfuur moet hulle begin stap. Dis koud, die soort koue wat mens se asem laat wasem. “Jy zip jou tent oop, val uit met al jou lae klere aan en gaan staan by die kole en bewe.” Die koffie se water word stadig oor die kole gekook. Iemand lag. ’n Hond blaf. Almal bid saam vir die dag.

“En dan, net soos die goue groet van die horison begin, is ons aan die beweeg. Jy kan die skape nog nie sien nie, maar jy hoor hulle,” vertel Heinrich met ’n lag. “Jy bring hulle bymekaar en dan begin die tog.”

’n Gemiddelde stapdag is oor die algemeen nege ure lank. “ In praktyk loop ons agter die skape,” verduidelik hy. “Daar is ’n paar mense wat voor loop, maar die meerderheid is agter saam met die skaaphonde. Die skaaphonde is die dryfkrag wat die hele trop vorentoe stoot.”

Dit is belangrik dat die bondel bymekaar bly. “Ons wat nou herder speel, maak seker dat die lammetjies nie agterraak of afdwaal nie. Dat die skape nie te lank staan om ’n bossie te eet nie. Jy roep, tik met jou stapstok, praat met hulle om die besigheid aan die gang te hou.”

Hy kyk af met ’n glimlag voordat hy verder praat. “Ek het redelik drooggemaak op dag een, toe ek nog nie mooi geweet het wat ek doen nie,” bieg hy. “Ek het probeer help om die skape aan te jaag, maar toe hoor ek hoe roep die boer van agter: ‘Nee! Jy maak ’n bottelnek!’”

Dis toe hier waar hy iets besef van herder wees: die herder jaag nie, hy lei.

Saans, wanneer die skape uiteindelik lê, word daar weer vuur gemaak. Die kole gloei, mense sit nader. Daar word gelag, gebraai en voordat elkeen by hul tent inkruip, word daar gepraat oor almal se hoogte- en laagtepunte van die dag. Heinrich beskryf hierdie kring as ’n groep mense met hulle keppies in hulle hande, stof aan hulle skoene en dankbaarheid op hulle lippe.

Tussen die stap en te danke aan die stilte het iets in hom begin skuif. “Vir my as predikant het ek al redelik argumente gehoor oor waar geloof tuiskom in ’n mens. Of dit ’n kognitiewe ding is wat deur die kop gaan en of dit eerder iets is wat jy nie kan verwoord nie, maar wel net beleef en voel.” Hy hou vir ’n oomblik stil, asof hy weer die stof proe. “Ek is ’n kopmens, maar ek het regtigwaar hier beleef dat iets net in plek in klik. Asof ek iets van die pre-moderne wêreld van die Bybel beleef het. Dit het gevoel asof ek op weg was met Bybelkarakters.”

Hy lag saggies toe hy terugdink aan die eerste dag, wat volgens hom maar swaar gegaan het. “Ek het maar meeste van die tyd die skape met ’n stok gedreig of op hulle geskree. Dit het my prentjie van die Here as Herder so bietjie omvergewerp, want dis nie die verhouding wat ek met my God wil hê nie.”

Maar soos die dae aangaan, het die skape begin om sy stem te herken. “Soos die skape aan my gewoond geraak het en my stem en kreet leer ken het, hoe makliker het dit geraak,” sê hy. “Dis ’n tipe leerskool vir die skaap om hulle herder te leer ken en vertrou. Dit het my laat dink aan die tog van die Israeliete deur die wildernis. Dis ’n tyd waar hulle moet volg, maar meer as dit, dis ’n tyd wat hulle leer ken wie God is.”

Toe Heinrich hierdie beleef, het hy gedink: dis presies hoe geloof werk. Jy leer met tyd om die Herder se stem te onderskei. En hoe langer jy saamstap, hoe dieper word die vertroue.

Hy het ook nuwe perspektief gekry oor die herder en kudde-model wat al vir eeue een in die kerk gebruik word. “Ek verstaan dit anders nou,” sê hy. “Dis die Here wat die Herder is. Ons is almal saam die skape. Die predikante is ook onder die skape getel.”

So vir hom gaan dit daaroor dat predikante nie so seer die herder is nie, maar deel van die trop. “Ons is die skapie wat ons mede-skapies wil lei in die rigting van daardie stem wat jy kon onderskei. Daar is vir my iets aan ons wat saamstap. Dis nie ’n bevelvoerende verhouding nie.”

Wat Heinrich op hierdie staptog geleer het, is dat die pad van die lewe (en van die trekpad) nie soetsappig is nie. Mense kan by tye ’n romantiese prentjie van landbou hê of selfs oor lewe oor die algemeen, maar op hierdie pad is lewe en dood saam. Daar is vreugde, maar daar is ook lyding.

“Nog voor die son die eerste oggend op was, het ’n ooi in kraam gesterf,” vertel hy sag. “So daar is afsterwe en daar is geboorte. Daar is hitte en koue. Daar’s al die drama van die lewe saam op hierdie lewenspad.”

Wanneer hy vandag Psalm 23 lees, hoor hy dit anders. Dis ’n werklikheid vol stof en stemme, van moeë voete en sagte gebede. “Ek weet nou,” sê hy, “die pad van die lewe is nie altyd sprokiesmooi, eenvoudig of maklik om van sin te maak nie. Maar ek weet daar is altyd ’n Herder langs my wat my sal vashou en na my sal kyk. Hy sal seker maak dat ek nie vergaan nie.”

Tussen die klipperige grond en koue oggendlug van die Karoo kry Psalm 23 nuwe gestalte. Dis nie meer net ’n belofte van sorg nie, maar ’n uitnodiging om te leer om jou Herder te volg. Hier, waar die stof aan jou skoene kleef en stilte alles rondom vul, word dit duidelik: Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Hy lei my op die regte paaie tot eer van sy naam.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook:
  • Groei is vrede en vrede is groei

  • ’n Advent-rubriek vir almal wat al ’n pakkie te erg ge-track het

  • “Waar is die ander nege?” Die kuns van dankie sê