Terwyl ek verlede naweek deur Bettysbaai se verskroeide aarde ry, hoor ek skielik ’n bobbejaan uit die swartverbrande berg kerm. Eers dog ek ek verbeel my, maar dit was aanhoudend. Bobbejane is vir baie ’n pes, maar toe wou ek saam huil. Ek het gewonder waar die ander diere van die Kogelberg is. Oor die plante hoef ons nie te wonder nie…

Mag ek dit eers duidelik stel. Wat ek hier skryf is nie gemik op die brandbestryders wat hulle lewens die afgelope dae in gevaar gestel het om vure in bedwang te bring nie. Groot opofferings is gemaak en dit word waardeer. Dit is ook nie ’n poging om mense verdag te maak nie. Dit is eerder ’n pleidooi om saam te dink oor die pad vorentoe. My hart gaan uit na almal wat die afgelope dae, soos in die geval van Wupperthal en Knysna, intens deur brande geraak is. Dieselfde geld vir diegene in informele nedersettings wat so dikwels uitgelewer is aan vernietigende brande. 

Tog, wanneer ons fyn na die Kogelberg en ander bewaringsgebiede kyk, ontstaan daar groter vrae. Die skade wat aan die flora en fauna in die Kogelberg-bewaringsgebied aangerig is, is moeilik om te bereken. Na berigte is nagenoeg 12 800 ha se fynbos vernietig. Fynbos moet brand, maar beslis nie so dikwels soos die afgelope tyd in die Kogelberg nie. Die data hieroor bestaan, en dit  wil lyk of die brande die afgelope dekade kommerwekkend toegeneem het.

Ons moet onsself voortdurend daaraan herinner dat die Kogelberg nie sommer enige gebied is nie. Dit is in 1998 deur die Verenigde Nasies as ’n UNESCO-biosfeerreservaat van wêreldbelang erken – en met goeie rede. Die gebied bevat meer as 1 600 plantspesies, een van die planeet se episentrums van biologiese verskeidenheid. Dit oortref selfs die reënwoude van Suid-Amerika in biodiversiteit (Kogelberg Biosfeer webblad).

CapeNature doen voortreflike bewaringswerk daar onder leiding van mense soos Mark Johns, maar dit lyk of die uitdagings van buite tans groter is as wat hulle kan hanteer. Selfs die ongeoefende oog kan sien dat die gebied die afgelope jare op veral sommige plekke te veel gebrand het.

Maar terug na die Overstrand.

Die eerste brand het reeds rondom Kersdag by Karwyderskraal buite Hermanus ontstaan. Op Oujaarsnag het dit bo Mooiuitsig by Bettysbaai begin brand. En einde verlede week het dieselfde by Masakhane buite Gansbaai gebeur. Vir ons hier in die Kaap voel dit soms of ons regtig in iemand se visier is , maar die Kaap is beslis nie die uitsondering nie. Daar is `n rede hoekom Working on Fire 200 basisse regoor Suid-Afrika het. In sommige bosbougebiede in die Noorde was daar die afgelope jare ook veel meer brande as in vorige jare.

Terwyl gerugte oor nalatigheid en brandstigting tans hier die ronde doen, gaan al meer stemme internasionaal op wat waarsku dat klimaatsverandering tesame met ’n vinnige bevolkingsgroei die risiko vir brande verhoog in enige streek waar daar ruie plantegroei is. Voeg daarby politieke onstabiliteit en mense wat deur vuur protes aanteken en jy het moeilikheid.

Daar sal altyd iemand wees wat onnoukeurig met ’n oop vuur handel, of soos in die geval van  Bettysbaai, onnadenkend ’n fakkel die lug in skiet. Brande gaan dus meer voorkom en dit help nie ons kla maar net daaroor of pak al die skuld op die ou wat die fakkel afgeskiet het nie. Hy moet sy straf kry en die strawwe vir brandstigting moet verhoog word.

Maar daar is  groter vrae. Hoe moet ons reageer op brande soos dié? Wat is die teenvoeter?

Kon die brande by Karwyderskraal en Bettybaai vroeër met groter lugsteun geblus gewees het?  Toegegee, een van die helikopters het klaarblyklik op 1 Januarie meganiese probleme ondervind en die wind het ook later sterk suid-oos gedraai. Die res is geskiedenis.

Dit is maklik om terugskouend jouself slim te hou, maar sou ons, as ons geweet het wat die uiteinde sou wees, dalk ander besluite op 1 Januarie geneem het? Kon ons die weervoorspellings fyner gemonitor het? Moes ons ná die tyd die “gebluste” brand vir langer dophou, wetend dat dit nog vir dae ondergronds kan smeul?

Dieselfde geld vir Karwyderskraal, waar dit eintlik sedert Kersfees gebrand het. Op 12 Januarie – twee weke later en ná reuse-skade, was daar meer brandweerwaens, brandspanne en ander nooddienste op Bettysbaai as tevore – helaas te laat.

Verskeie departemente en organisasies werk saam om brande in toom te hou. Dit sluit in plaaslike owerhede se nooddienste, CapeNature en die mense van Working on Fire (’n werkskeppingsprogram met meer as 5 000 mense landwyd in sy diens).

Om brande van hierdie omvang te bestry is egter soos `n militêre operasie waar bronne keer op keer strategies herontplooi moet word. Mense se lewens is op die spel.  Dit verg duidelike bevelstrukture en seepgladde samewerking tussen die verskillende brandbestrydingseenhede. Burokratiese besluitnemingsprosesse kan so ’n operasie verlam. Al die eenhede moet dieselfde radiostelsels op ooreengekome golflengtes gebruik en die oefening moet vanuit ’n sentrale bevelsentrum gelei word.

Dit blyk ook dat die aanwending van helikopters van die doelreffendste maniere is om die brande op veral ontoeganklike plekke te bestry. Dit is duur en private kontrakteurs se dienste moet ingekoop word. Wie besluit om ’n helikopter in te roep? En wanneer? Vir hoe lank? En wie betaal op die ou end die rekening? Hoe gemaak as ’n brand op ’n privaat eienaar se grond uitbreek – iemand wat nie ’n helikopter kan bekostig nie, en langsaan ’n natuurskat lê wat in vlamme kan opgaan?

Maar kom ons gee die brandbestrydingsorganisasies die voordeel van die twyfel. Hulle doen moeilike en lewensgevaarlike werk.

Een laaste kwessie. “Wat het geword van proaktiewe brandbestryding?” vra prof. Ben du Toit van die departement Bos- en Houtkunde aan die Universiteit van Stellenbosch onlangs. Hy noem voorsorgmaatreëls soos om brandbare materiaal te verminder en buffersones te skep waar wegholbrande gestuit kan word. Die brandstoflading moet dus op strategiese plekke verminder word. “Hierdie beleid word al dekades lank suksesvol toegepas in verskeie lande en voorheen ook in Suid-Afrika onder die destydse departement van bosbou,” sê Du Toit. “Tans word dit duidelik nie meer effektief bedryf nie.”

Skoongemaakte “brandpaaie” rondom informele nedersettings en ander kwesbare areas wat ons weet om verskeie redes vatbaar is vir brande, behoort dus deel van die strategie te wees. Dit sluit ook woongebiede soos Bettysbaai en ander sensitiewe bewaringsgebiede in. Die arbeid ís beskikbaar by Working on Fire, maar oënskynlik bestaan die beleidsraamwerk nie om dit voorkomend in te span nie.

Daar is egter ook ruimte vir die publiek om mee te doen. Suid-Afrika het progressiewe wetgewing wat voorsiening maak vir die bestaan van “Regional Fire Protection Agencies” (FPA’s) wat dit vir privaat eienaars moontlik maak om saam met instansies soos plaaslike owerhede en CapeNature verantwoordelikheid vir brandbestryding te aanvaar.

Dalk is die tyd nou ryp  om ’n indaba te belê waaraan almal kan deelneem om praktiese planne te formuleer. Dit behoort die owerhede, bewaringsinstansies, akademici  sowel as gewone natuurliefhebbers (die gewone publiek) in te sluit,  Soos met soveel ander kwessies in Suid-Afrika kan die toekoms nie alleen in die staat se hande gelaat word nie. Daar is eenvoudig te veel op die spel.

Groot dank aan Bun Booyens, Tony Weaver en prof. Ben du Toit vir hul waardevolle insette.

Dr. Hanekom is direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis