My naam is Sarizé en ek is 16 jaar lank getroud met Piet. Saam is ons twee predikante in die Namakwaland. Ons is as studente getroud in 2008 en ’n jaar of wat nadat ons ons eerste beroep aanvaar het, het ons gevoel die tyd is reg om met ’n gesin te begin.

’n Proses wat uiteindelik baie langer sou neem as wat ons onsself ooit kon indink. Maand na maand moes ons die teleurstelling beleef en elke keer kry ’n mens jou hoop op dat hierdie maand dalk ’n ander uitslag gaan hê, maar elke maand kry ’n mens ’n vuishou in die maag.

Soos wat dit maar met jong getroudes gebeur, veral op die platteland waar ons was, vra mense redelik openlik en soms kru wanneer daar dan ’n baba kom, so asof dit iets is wat deur Takealot bestel kan word en op ’n vooraf bepaalde dag en datum afgelewer kan word. ’n Mens maak dit dan af as niks, sê die mooi rympie dat alles op hulle tyd sal gebeur en dat ons nie haastig is nie, maar binne-in ons loop en ek Piet met hierdie intense seer en bekommernis, verberg agter flou grappies en ’n glimlag wat nie ons oë kan bereik nie. Hoe groter die smagting na ’n baba, hoe minder word die sukses en hoe breër word die glimlag wat ons voorhou, want dit is wat mense nodig het om te sien…

Vir vyf jaar het ons probeer en probeer en gehuil en weer die stukke opgetel en probeer, voordat ons uiteindelik na ’n fertiliteitspesialis gegaan het. In hierdie tyd is dit amper seer om wanneer ons êrens heen ry in die truspieëltjie te kyk, want ons wil só graag ’n babastoeltjie daar sien… Maand na maand reis ons die sowat 100 km heen en weer na die spesialis toe, terwyl ons in ons binnekamers met God wroeg hoekom dit dan vir ander so maklik is, maar ons word net nie swanger nie.

Twee jaar later is daar steeds geen sukses nie en ons glimlagte word al hoe breër om die groter wordende gaping in ons harte te verberg. Vriendin na vriendin word swanger, ek woon babatee na babatee by en elke keer vra mense wanneer ons dan gaan begin om aan ’n gesin te dink, min wetend dat dit eintlik al is waaraan ons kan dink. Ons smag na ’n kind, iemand om lief te hê en te koester, ’n klein lyfie om te beskerm. Op ’n dag kom daar ’n geleentheid oor ons pad waar ons ’n klein dogtertjie kon aanneem wie se huislike omstandighede regtig hartseer is en ons gryp hierdie geleentheid aan en begin in die stilligheid karstoeltjies en klere koop. Ek kan eintlik nie meer onthou hoekom ons nie vir mense hiervan gesê het nie, maar ek en Piet het saam so besluit en ons deel opgewonde hierdie geheim. Enkele dae voordat ons haar sou gaan haal, kry haar verhaal toe ’n gelukkige einde toe haar biologiese pappa, wat tot op daardie stadium heeltemal afwesig was, besluit om haar in te neem en alleen groot te maak. Aan die een kant is ons hartseer, maar ons is ook vreeslik bly en dankbaar dat haar pappa haar kan leer hoe liefde lyk en weer dra ons alleen aan hierdie hartseer in ’n leë babakamer.

Uiteraard het al hierdie goed, hierdie jarelange gebedstryd en maandelikse smeek en pleit en teleurstelling ’n invloed op ’n mens se geloofslewe. Terwyl ’n mens steeds bedien en deel, loop ons met hierdie seer wat ons nie durf waag om uit te spreek en te erken nie. ’n Mens preek en doop babas en besoek swanger mammas in die hospitaal, terwyl ’n mens maar jou eie seer probeer wegbid en wegsteek. In hierdie tyd het ons ’n berader gaan sien en sy was ’n engel wie ons gehelp het om deur die rouproses te gaan van beide die aanneming wat toe ’n gelukkige einde gehad het vir die dogtertjie, maar ook ons eie pogings om swanger te raak…tot op ’n dag wat ek in die truspieëltjie kyk en besef my oë soek nie meer na die babastoeltjie op die agtersitplek nie. Die aanvaarding het gekom op God se tyd.

Intussen het ons verhuis en ons soek na ’n nuwe ginekoloog en ons pad kruis met ’n wonderlike ginekoloog, dr. Marlena du Toit. Sommer met die eerste besoek, deur die vrae en antwoorde wat ’n dokter vir ’n nuwe pasiënt vra, sê sy dat sy vermoed ek mag dalk endometriose hê. Vanuit die staanspoor maak sy dit duidelik dat sy fase 1 en 2 endometriose kan behandel, maar fase 3 en 4 sal sy moet verwys. Dr. Marlena doen toe ’n laporoskopie om dit te bevestig en ek word gediagnoseer met fase 4 endometriose, en dr. Du Toit verwys ons na prof. Igno Siebert by die Aevitas kliniek.

In 2022 ondergaan ek ’n historektomie en ek dink die besef en aanvaarding dat ons nie baba van ons eie gaan hê nie, was toe al so diep by my en Piet ingewortel dat die historektomie vir ons vriende en familie meer traumaties as vir ons was. Waarlik, die Here het ons op ’n baie besonderse manier gelei tot aanvaarding en as ons nou terugkyk na gesprekke wat ek en Piet gehad het selfs toe ons nog uitgegaan het, dan besef ons dat God ons toe al voorberei het om nie kinders te hê nie. Wel, dit is seker verkeerd om te sê ons het nie kinders nie, ons is ’n baie gelukkige gesin met twee viervoet dogtertjies is ons huis, om dan nie eens van ons vier peetkinders te praat nie.

Mense vra nog steeds baie vir ons wanneer ons dan gaan begin met ’n gesin of selfs of ons dan nie kinders wil hê nie.

Maar deesdae praat ons openlik.

Ons is dr. Marlena en prof. Siebert ewig dankbaar. Dr. du Toit omdat sy endometriose gediagnoseer het en ons na prof. Siebert verwys het en aan prof. Siebert wat ons gehelp het om vir die eerste keer te verstaan hoekom ons nie swanger word nie en ook hoekom ek maand na maand in sulke erge pyn moes verkeer.

Die manier hoe hy hom oor ons ontferm het en mooi verduidelik het wat aangaan, het vir my en Piet dadelik gerusgestel.

Sarize en Piet retief deel hulle hartseer oor infertiliteit