Die verkiesing en die rol van die kerk

👤 Wilmi Wheeler

In ‘n tydperk waarin Suid-Afrika op ‘n kruispad staan, is daar ‘n dringende behoefte vir rigting en leierskap. Met die verkiesing op 29 Mei 2024 wat al hoe nader beweeg, word die aandag van die land op die politieke landskap gefokus.

Boonop, met ‘n veranderde kiesstelsel wat drie stembriewe aanbied en ‘n netwerk van meer as 23 292 stempunte versprei oor die hele land, is die uitdaging wat voorlê vir die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) van Suid-Afrika enorm.

Dit is ‘n tyd van hoop, maar ook van groot uitdagings en onsekerheid.

Theuns Eloff, ‘n prominente stem in Suid-Afrikaanse politiek en samelewing, bekyk die huidige politieke landskap met ‘n gemengde gevoel van besorgdheid en optimisme. Hy reken die verkiesing van 2024 is die jongmense van die land se 1994, ‘n keerpunt in die geskiedenis wat die potensiaal het om ‘n diepgaande impak te hê op die rigting van ons nasie vir die komende dekades.

Hy erken die uitdagings wat voorlê is groot, maar glo vas in die moontlikheid van ‘n positiewe verandering. In hierdie konteks vra Theuns die kerk om ‘n spesifieke rol te vervul. Die kerk, as ‘n hoë morele gesag in die samelewing, het ‘n unieke verantwoordelikheid om ‘n bydrae te lewer tot ‘n vreedsame, vrye en regverdige verkiesing.

Rol van die kerk

Bewustheid oor die belangrikheid van elkeen se stem

Predikante en gemeenteleiers moet help om bewustheid te skep onder lidmate en gemeenskapslede oor die kritieke belang van elke persoon se stem. Elkeen se stem maak saak, al voel dit nie so nie. Om te stem moet nie bloot gesien word as ‘n burgerlike plig nie, maar ook as ons verantwoordelikheid as gelowiges om deel te neem aan die vorming van ‘n regverdige samelewing.

Fisiese hulp vir kiesers

Die kerk moet ook ‘n ondersteunende hand bied aan diegene wat fisiese hulp benodig om by die stembusse uit te kom. Dit sluit in die ondersteuning van pensioenarisse, armes en ander kwesbare groepe om toegang tot die stembusse te kry sodat hulle hul kruisie kan trek.

Waardegedrewe besluite

Die kerk moet benadruk dat ‘n keuse van ‘n politieke party ‘n waardegedrewe besluit behoort te wees. Dit beteken dat gemeenskapslede se stem nie slegs deur die beloftes van politieke partye of partye se verkiesingsmanifeste beïnvloed moet word nie, maar dat die praktiese uitkomste van partye se beleid en hulle optrede ook in ag geneem moet word.

Bid vir ‘n vreedsame en regverdige verkiesing

Gebed moet ‘n sentrale rol speel in die aanloop na die verkiesingsdag. Die kerk moet ‘n baken van vrede en regverdigheid wees in hierdie tyd van politieke spanning. Gemeentes en gemeenskappe moet bid vir ‘n vreedsame, vrye en regverdige verkiesing wat die belange van al die Suid-Afrikaanse burgers verteenwoordig. Deur voorbidding kan die kerk ‘n betekenisvolle verskil maak in die bevordering van nasionale eenheid en sosiale geregtigheid.

Aktiewe deelname as waarnemers

Lidmate van die kerk wat kan, moet aangemoedig word om hulle name op te sit as verkiesingsmonitors en waarnemers op verkiesingsdag. tree. So kan ons gemeenskappe aktief deelneem en help verseker dat die stemmery ‘n regverdige en geloofwaardige proses bly.

 

Terwyl die Suid-Afrikaanse samelewing gekonfronteer word met uitdagings en onsekerheid, bied Theuns Eloff  verder ‘n perspektief wat gebou is op balans, tydsbesef, humor, realisme, hoop en geloof. Hy herinner ons daaraan dat, te midde van alle uitdagings, God steeds in beheer is.

Balans

Hy moedig ons aan om die ander kant van die saak te sien en om te strewe na ‘n dieper begrip. In ‘n land waar polarisasie dikwels die orde van die dag is, is die vermoeë om die perspektiewe van ander te waardeer van kardinale belang vir vooruitgang.

Tydsbesef

Theuns herinner ons dat 25 tot 30 jaar ‘n kort tydperk is in die geskiedenis van ‘n nasie. Hierdie insig plaas ons huidige uitdagings in ‘n wyer konteks en help ons om ‘n toekomsgerigte benadering te behou.

Humor

In die donkerste tye kan humor ‘n reddingsboei wees. Soos ons al te goed weet, dryf Suid-Afrikaners maklik spot met die absurditeite van die politiek en die lewe in die algemeen. Om saam te lag oor probleme is immers ‘n kragtige instrument om ons gees te lig.

Realisme

Dit is belangrik om die volledige prentjie te sien, sonder om onsself te verloor in hoopvolle illusies. Om realisties oor iets te dink, vereis ‘n eerlike evaluering van die uitdagings wat voorlê, sowel as die erkenning van die geleenthede vir groei en herstel.

Hoop en Geloof

Theuns beklemtoon die onwrikbare hoop en geloof wat ons as Christene behoort te hê. In die gesig van uitdagings en onsekerheid, is daar ‘n vasberadenheid om te glo dat daar ‘n beter môre is en dat God in beheer bly van ons nasie se lot.

Laat ons as Suid-Afrikaners hierdie oproep omarm en saamwerk vir ‘n toekoms van vrede, geregtigheid en voorspoed vir almal.

 

 

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: