Die ware betekenis agter die kleurvolle stola

👤 Wilmi Wheeler

Wanneer ’n predikant ’n stola aantrek, sien baie moderne oë nie meer wat die kerk nog altyd wou wys daarmee nie. Vir sommige lyk die kleure en patrone skielik soos ’n kommentaar op vandag se identiteitsdebatte. Maar hierdie aanname, hoe goedbedoeld of hoe krities ook al, is eenvoudig verkeerd. Die stola is eeue ouer, die betekenisse dieper en die simboliek veel ryker as wat ’n mens met ’n vinnige blik kan raai. Amanda van Niekerk vertel vir ons meer.

Wanneer Amanda van Niekerk praat oor die stolas wat sy maak, word dit gou duidelik dat hierdie liturgiese kleed veel meer is as net ’n stuk materiaal oor ’n predikant se skouers. Vir haar is dit ’n draer van eeue-oue betekenis, ’n sigbare taal van die kerkjaar en iets wat sy met groot eerbied benader. Tog leef daar vandag ’n hardnekkige misvatting: dat die stola ’n moderne politieke vlag of ’n identiteitsimbool is. Dat helder kleure gelyk staan aan ’n hedendaagse beweging. Dit is eenvoudig nie waar nie.

Amanda glimlag nie wanneer sy hiervan hoor nie. Sy sug. “Mense interpreteer maklik verkeerd,” sê sy. “Hulle plaas hul eie betekenisse op dinge sonder om ooit navorsing te doen.” En dit is waar die probleem begin. Die meeste mense weet nie meer hoe die kerkjaar se kleure werk nie of hoekom dit al eeue bestaan. Die stola het ’n ryk tradisie wat die moderne oog eenvoudig vergeet het.

stola

Die kleure van die kerkjaar is nie willekeurig nie en ook nie nuut nie. Hulle is histories vasgelê. Wit staan vir reinheid en die opstanding. Rooi vir die Heilige Gees en Pinkster. Pers vir rou, koningskap en voorbereidingsperiodes soos Advent en Lydenstyd. Groen vir groei en hoop. Goud vir Kersdag, blou vir waarheid en verwagting, pienk vir vreugde, swart vir die soberheid van Goeie Vrydag. Dit is ’n gekodeerde kalender en ’n teologiese raamwerk wat gemeentes regoor die wêreld deur die jaar begelei. Geen enkele kleur het ooit ontstaan as ’n kommentaar op moderne debatte nie. Die kleure was lank voor ons tyd reeds betekenisvol.

Vir Amanda het hierdie simboliek jare gelede oopgebreek toe sy vir die eerste keer ’n stola moes ontwerp. Sy het destyds besef hoe min gewone lidmate weet van hierdie taal van kleure en simbole. Sy vertel hoe sy as kind nooit geweet het hoekom die kerk op sekere Sondae met wit versier is op ander groen nie. Niemand het dit verduidelik nie. Maar toe sy begin stolas maak, moes sy die betekenis van elke kleur en elke simbool deeglik verstaan. Die werk het haar geloof op ’n nuwe manier verdiep.

Wanneer sy van die simbole vertel wat sy op haar stolas aanbring, hoor ’n mens die teologie wat daarin ingeweef is. Die boom, haar gunsteling, stel vir haar die lewe voor: een stam, baie takke, baie wortels. “Dit is die kerk,” sê sy. “’n Liggaam met baie lede.”

Ander simbole dra ewe veel betekenis: golwe vir die See van Galilea, brood en vis vir voorsiening, die kroon vir die identiteit van die gelowige, die lam vir Christus self, die kompas vir die leiding van die Here, die rivier vir Lewende Water, die duif vir seën, tarwe vir oes en oorvloed. Die simbole is nie daar as dekor nie, dit is geloofsverklarings.

Vir Amanda is die maak van ’n stola daarom nie net ’n vakmanskap nie. Dit is bediening. Sy weet dit elke keer wanneer sy ’n foto sien van ’n jong predikant wat op hul eerste Sondag met die stola wat sy gemaak het op die kansel staan. Die oomblik wanneer die kleed oor die skouers rus, dra dit iets van roeping. “Vir my was die stola nog altyd ’n herinnering aan die dominees wat geroep is om voor die gemeentes te staan.”

Dit is dus ironies dat die stola vandag soms as ’n voorwerp van kontroversie beleef word. Die rede is eenvoudig: die kerk het grootliks haar simboliese geletterdheid verloor. Mense weet nie meer wat die kleure beteken nie of hoekom die patrone bestaan nie. Daar is volwassenes wat al hul lewe lank in die kerk sit, maar nog nooit gehoor het van liturgiese kleure nie, of waarom daar juis ’n duif op die kanselkleed geborduur is nie. Wanneer die kennis verlore raak, vul aannames die gaping. En aannames is dikwels verkeerd.

Die oplossing, glo Amanda, is eenvoudig: mense moet weer leer. En hulle moet bereid wees om te leer. Sy sê dikwels: “As jy net gaan lees, sal jy sien.” Die inligting is beskikbaar. Liturgiese kleure en simbole word in duisende bronne verduidelik en opvallend genoeg sê al hierdie bronne dieselfde. Die tradisie is konsekwent. Daar is geen verdoeseling nie, geen vernuwing van agenda nie, geen politieke kode wat agter geslote deure ontstaan het nie. Daar is net die kerk, die evangelie en die ritmes van geloofsritmes wat deur die eeue kom.

Uiteindelik, sê sy, is die stola ’n uitnodiging. Ook ’n herinnering aan die verhaal van Christus. Aan verwagting in Advent, aan berou in Lydenstyd, aan vreugde met Paasfees, aan die Gees met Pinkster, aan groei in Koninkrykstyd. Dit is ’n kleed wat die predikant se roeping sigbaar maak. Dit is ’n kleed wat die oudste boodskap van die kerk beklemtoon: Hy het gekom, Hy het gesterf, Hy het opgestaan, Hy is die weg en ons volg.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: