Jesus het kom wys hoe ware diensbaarheid lyk
👤 Ronelda Visser
Jesus kom wys vir ons wat opregte diensbaarheid beteken – om bereid te wees om jouself te verneder sodat ander verhoog kan word.
Jesus se diensbaarheid kom wys vir ons hoe God se koninkryk lyk – waar niemand té belangrik is om iemand anders te dien nie en waar leiers juis bereid moet wees om van hulself op te offer vir ander.
Jesus se voorbeeld wys vir ons dat diensbaarheid begin met ‘n gesindheid van liefde.
ONS GLO: Dink, doen en bid verder oor hierdie tema.

Delf Dieper: Diensbaarheid beteken diens aan ander
— Braam Hannekom
“Diens” is seker een van die heel belangrikste woorde wat jy in die evangelie van Jesus Christus sal kry en nêrens kry ons `n beter voorbeeld as in Johannes 13 nie, waar Jesus die voete van sy dissiples was.
In die Bybel gaan die woordjie “diens” dikwels saam met ander woorde soos: liefde, omgee, onselfsugtig, gemeenskap, vrede en opoffer.
Kom ons stel dit duidelik. Diens kos jou iets. Dit vra dat jy jouself minder ernstig sal neem en kan heel konkreet van jou tyd, energie, geld en besittings vra. Diens is egter ten diepste nie iets wat jy doen omdat jy voel jy moet dit doen nie. Jy doen dit omdat daar `n liefde en `n omgee in jou groei wat die Heilige Gees in jou hart werk.
Daar is dus ‘n verskil tussen ware Christelike diens en dienslewering wat ons in die besigheidswêreld kry. Laasgenoemde is belangrik omdat mense tevrede gehou moet word en jy hoop om op die ou end iets uit die kiënt terug te kry. Ware diens gee sonder om iets terug te verwag en sonder bybedoelings.
Ware diens kan baie gestaltes aanneem en kom ons noem sommer `n paar praktiese voorbeelde:
Daar is diens in die gemeente (byvoorbeeld by die erdienste, kategese of die basaaar) of diens in die gemeenskap (by skole, die skoonmaak van die buurt, diens aan bejaardes of hulp met veiligheid). Een van die mees inspirerende stories bly vir my die land Rwanda waar die president saam met die mense een dag per maand gaan en papiere optel en die land skoonmaak. Die moontlikhde is baie. Maar diens kan ook ander vorme aanneem. Soms moet jy jou tyd en aandag gee en doodeenvoudig na die stories en pyn van ander luister. Gasvryheid is `n vorm van diens en jou gebede vir die gemeenskap kan `n vorm van diens wees.
Ware diens vra ook nie altyd wat jy lus is om te doen nie. Soms is die nood om jou net so groot en besef jy dat iemand iets moet doen. Ware diens hou ook nie boek van wat jy gedoen het nie en soek nie eer en erkenning daarvoor nie.
Dit is interessant om te sien dat in die land Denemarke, wat op die Wêreldgelukkigheidsindeks gesien word as die gelukkigste land in die wêreld, nagenoeg 10% van die bydrae tot die ekonomie gelewer word deur mense wat gratis dienste lewer. So word almal egter gelukkiger.
`n Selfsugtige samelewing is `n onveilige, ongelukkige en arm samelewing.
Hoe weet jy waar jy moet dien? Luister na ander, luister na jou hart, kom in kontak met mense wat swaarkry en luister bowenal na God. Een van die redes hoekom dit so belangrik is om elke dag stil te word saam met God, is nie net om jou eie versoeke in `n gebed by God af te rammel nie, maar ook om stil te sit en te “luister” tot daar iets by jou opkom, waarvan jy oortuig is dat dit God is wat dit op jou hart lê.
Besige, uitgebrande mense wat gedurig in “geraas” lewe sal sukkel om God se stem te hoor en sukkel om die tyd en die energie te vind om ander te dien.