Bybel-Media in samewerking met die NG Sinode van Wes-Kaapland nooi gemeentes uit om deel te word van die begin van ‘n nuwe tradisie van massa-sangbyeenkomste wat op 8 September 2018 begin.

Die eerste jaarlikse “Dis Tyd om te Sing”-massakoorsaamtrek van die NG Kerk sal op 8 September om 19:00 plaasvind in die Kaapstadse Stadsaal onder begeleiding van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes, ‘n kontemporêre orkes en ‘n pyporrel.

‘n Massakoor van meer as 500 sangers (kore en sanggroepe van minstens 20 plaaslike gemeentes sowel as genooide kore) en meer as 1000 gehoorlede sal van die bekendste en mooiste liedere uit ons kerk se liedereskat saamsing.

Lede van die massakoor neem gratis deel, met geleentheid vir 20 deelnemende gemeentes om elk ‘n koorgroep van 20 lede saam te stel en voor te berei om aan die massakoor deel te neem. Deelnemende gemeentes sal elk 40 kaartjies kry om teen R200 per kaartjie aan gemeentelede te verkoop.

Gemeentes wat wil deelneem, moet voor 17 Mei 2018 inskryf. Kontak ds. Faani Engelbrecht by 083 856 1951 of musiek@bmedia.co.za vir meer besonderhede of inskrywingsvorms.

Ons is deur ’n baie moeilike tyd – politieke woelinge, ekonomiese uitdagings en ’n uitmergelende droogte.  Dit is egter juis in sulke tye wat ons as gelowiges sterker onder die indruk is dat ons in God se hande is en dat Hy in beheer is.  Daarom wil ons uitdrukking gee aan ons geloof.  Ons glo, “Dit is Tyd om te Sing”!

Die sluitingsdatum vir gemeentes om in te skryf is Donderdag 17 Mei.

Faani Engelbrecht verduidelik verder na aanleiding van navrae ontvang:

Daar is BAIE gemeentes wat my kontak oor #Dis Tyd Om Te Sing.  Dit lyk my daar is verwarring oor sekere sake:

  1. Die meeste is bekommerd oor die verkoop van die kaartjies. Dis glad nie ’n straf nie! As hulle nie die kaartjies kan verkoop nie, sal ons dit wel verkoop! Die probleem is dat daar NET ’n 1000 kaartjies is! Ons glo daar gaan te min plek wees! Ons wil dus vir die gemeentes wat deelneem so bietjie van ’n voorsprong gee om ’n blokbespreking te doen – m.a.w. jou gemeentelede wat nie in die koor is nie, maar wat wil kom luister (en saamsing!) gaan bymekaar in die saal sit!  As gemeentes nie die kaartjies kan verkoop nie, kan hulle steeds ’n koor stuur! Onthou ALMAL wat kom gaan sing – die gehoorlede betaal R200/kaartjie – die koorlede kom neem gratis deel!
  2. Wat as jou gemeente nie meer ’n koor het nie, maar wel lidmate wat graag wil kom sing?  Stuur hulle! Hulle moet net registreer! Daar is ongelukkig net plek vir 400 mense op die verhoog en die eerste 400 koorlede wat registreer is in! M.a.w. jy kan jou voorsanggroep stuur! Al is julle net vyf, kom sing saam! Die belangrikste is dat hulle moet registreer sodat ons weet wanneer ons koor vol bespreek is. As jy net jy alleen is, maar jy wil kom sing, stuur vir my ’n e-pos by musiek@bmedia.co.za
  3. Skoolkore is welkom! Mannekore! As julle Seniorklub ’n koor het, kom sing asb. saam!  Registreer net jou koor!
  4. Gemeentes uit ander provinsies is meer as welkom om in die Kaap aan die fees te kom deelneem.
  5. Dit was egter van die eerste dag af die plan om hierdie fees nie net in die Wes-Kaap aan te bied nie.  Min mense sal besef dat een van die grootste uitgawes van die dag is om die musiek te verwerk vir ’n simfonie-orkes.  Daardie werk is nou gedoen en die bladmusiek behoort aan ons!  Ander sinodale areas wat belangstel om ’n eie #Dis Tyd Om Te Sing aan te bied kan Bybel-Media Musiek gerus kontak.  Ons sal koördineerders in ander provinsies nodig hê!

Enige navrae kan aan my gerig word by musiek@bmedia.co.za

Faani Engelbrecht
musiek@bmedia.co.za 

Lees verderklik hier.

Vir ‘n voorsmakie van wat beplan word, kyk onder.