Uit die PSD van Diaconia se kantoor: “Hoe verduidelik ’n mens dat ’n koevertjie in die hand nou beter gaan wees as ’n kospakkie?”  Met groot versigtigheid en ’n sagte stem probeer ’n dominee vir my verduidelik dat kospakkies en geskenke só kosbaar is, maar dat die droogte gemeenskappe in ’n volgende fase van swaarkry dompel. Nou is dit regtig so krities soos ’n paar rand vir petrol of skoolgeld, ’n sak voer of ’n EFT na ’n kind op universiteit se rekening. Nou kan ’n koevertjie, met hoe gering die bedrag ook al is, vir die baie spesifieke behoefte van daardie dag, aangewend word.

Terselfdertyd stroom dankie-boodskappe uit ’n ander gemeenskap in na die afgelope naweek se uitreik van ’n gemeente uit Ceres. “Ek het op ‘n punt gekom waar ek elke dag opstaan en die nuwe dag aanpak, wat ook al die uitdagings van die dag. So hou jy net aan. Dink nie aan gister nie en bekommer jou ook nie oor môre nie. Soos ‘n outomaat! Dan daag daar so ‘n pakkie op en jou skanse breek almal af en weg is die outomaat en jy is net weer brose, breekbare mens!  Ek wil net dankie sê. Vir mense wat nog omgeeharte het.”

Dit is baie belangrik dat gemeentes wat uitreik, goed kommunikeer met die plaaslike gemeenskap om seker te maak dat die uitreik-hulp behoeftegerig is en daar nie oorvleueling is met goedere wat geskenk word nie.

“Ons oproep op gemeentes om te laat weet of hulle uitreik-ondersteuning benodig, het sover 11 gemeenskappe opgelewer. Ons is tans in konsultasie met kundiges om die lys tot 30 gemeenskappe aan te vul en dan is dit voluit met die fondsinsameling van R3 miljoen vir 30 gemeenskappe,” sê ds Nioma Venter. Intussen verbind Diaconia gemeentes wat wil uitreik met gemeenskappe waar die nood is, om seker te maak ons versprei die omgee so wyd moontlik. Doen gerus navraag by diaconia@kaapkerk.co.za.

Nioma Venter
September 2019