Tussen hemel en aarde

Hoe oefening “dun plekke” onthul

 

In die stiltes van ‘n uitgestrekte veld of teen ‘n styl bergpad wat tussen braambosse deur kronkel, waar die son jou vroegoggend met vreugde groet en die natuur ’n simfonie van kleure skep, ervaar sommige mense ’n “dun plek”. ’n Plek waar die afstand tussen die hemel en die aarde op sy dunste is. Hier, sê hulle, voel mens die naaste aan God. Hierdie konsep van “Thin Places” is nie net ’n filosofiese bespiegeling nie, maar iets wat diep in die harte van mense wortel skiet en dikwels hand aan hand gaan met fisieke aktiwiteite.

’n Dun plek (Thin Place) is ’n plek of oomblik waarin ons bewustheid van God meer tasbaar is, en waar die spasie tussen die onsigbare en die alledaagse besonders dun voel.

“Thin Places” is ’n uitdrukking wat vir duisende jare al gebruik word, en stam uit die mistieke wêreld van die Keltiese spiritualiteit en die Keltiese Christene, wat diep verbind was met die natuurlike wêreld en elke aspek van die lewe beskou het as deurdrenk met die teenwoordigheid van die Goddelike, selfs (of miskien, veral) die alledaagse elemente van die lewe. Terwyl die ou Keltiërs histories “dun plekke” beskou het as plekke of oomblikke in die siklus van die jaar waar die sluier tussen die wêreld en die spirituele domein verminder het en hulle diegene kon ontmoet wat hulle vooruitgegaan het, word dun plekke vandag meer algemeen beskou as plekke waar daar ’n onmiskenbare verbinding met God is.

Nadia Muller en Hesmari Fourie is twee vroue van die Kaapse Wynland wat gereeld ervaar dat hul in hul dun plek vertoef — dít terwyl hul met hul hardloopskoene aan draf. Hulle vertel van hul ervaringe van hoe daaglikse oefening hul help om gereeld hul “Thin Places” te besoek.

Hesmari oefen nie meer net vir ’n kompeterende doel nie, maar dit is vir haar ’n viering van die lewe self. Sy beskryf elke oefensessie as ’n tipe vreugdevolle dans met die lewe, ‘n manier om die blote feit dat sy leef, te vier. Die kompetisie-element het plek gemaak vir ‘n dieper doel, ’n doel wat sy beskryf as haar “Thin Place”. Tydens haar hardloopsessies kom sy iewers by ’n plek waar die aardse grense dun word, waar sy die intense teenwoordigheid van God ervaar.

“Oefening gee my energie … dit hou my regop!” sê Hesmari. Vir haar is die natuur en die buitelig soos ’n tempel waarin sy God ontmoet. Terwyl sy hardloop deur droë vlaktes of net op ‘n eenvoudige grondpad, ervaar sy dikwels daardie oomblik van stilte waar sy spontaan die woord “dankie” fluister — al is dit net in haar hart. In hierdie dun plekke kom dankbaarheid na die oppervlak, gevul met ‘n verlange om tyd te vries en ’n heilige een-wees met God te beleef. Hierin kommunikeer sy met God, sien Hom in die skepping om haar, en laat die ervaring van ’n “Thin Place” haar innerlik versterk.

Nadia deel ’n soortgelyke ervaring met oefening, veral draf. Vir haar is oefening ’n essensiële deel van haar bestaan, ’n manier om orde in haar gedagtes te skep, vrae te vra, antwoorde te kry en die stem van die Here te hoor. Sy beklemtoon dat die ritme van drie-treë-per-asem, oor en oor, ’n mate van orde in haar gedagtes en gemoed bring. Wanneer sy berg-op draf, bereik sy ’n halfpadmerk waar sy vir ’n oomblik stil staan en die ritme van haar asemhaling verander. Dan is dit een lang asem in en een lang asem uit. Hier, omring deur die klank van die natuur, ervaar sy ’n intense bewustheid van God. Sy vermoed dit het juis te make met die feit dat haar asemhaling dan uit ritme raak (of weer ’n ander ritme aanneem), dat haar liggaam en gees nuut begin waarneem wat en Wie rondom haar is. En wat bid sy dan?

Niks. Dit herinner haar aan ’n gesprek wat iemand eendag met Moeder Teresa gehad het.

’n Verslaggewer het eendag vir haar gevra wat sy sê wanneer sy bid. Moeder Teresa het geantwoord en gesê: “Wel, ek sê nie veel nie. Ek luister meestal.” Die verslaggewer het toe weer vir haar gevra: “So wat sê God vir jou?” En weer het Moeder Teresa geantwoord: “Wel, Hy sê nie baie nie – Hy luister net.”

Vir Nadia is hierdie oomblikke nie net ’n gesprek met God nie, maar ’n spirituele verbintenis wat nie woorde nodig het nie. Sy voel dat God haar sien vir wie sy werklik is, ver van die rolle van ma, vrou of predikant. Daar teen die berg is nie ’n huis, kantoor of kerk nie. Daar is niks wat deur mensehande geskape is nie. Dit is net die Skepper en sy skepping. Hierdie intieme ontmoeting in die dun plekke gee vir haar ’n intense gevoel van dankbaarheid, tevredenheid en moed.

Die dun plekke van diepe verbintenis is nie beperk tot ’n spesifieke aktiwiteit of plek nie, maar eerder ’n unieke reis vir elke mens. Dit is ’n roetekaart na God, geskep deur die dun oomblikke tussen die Skepper en sy skepsels. Mag ons almal die geleentheid vind om ons eie dun plekke te ontdek, waar die hemel en die aarde na mekaar neig, en waar ons God se teenwoordigheid op ’n besondere wyse kan ervaar. Hierdie dun plekke van diep konneksie is ’n herinnering aan die heilige en heerlike gawe van kind van God wees.

In ‘n onlangse podcast met Fanie Kriel het ons ook gepraat oor die rol wat dinge soos oefening en die natuur speel in instase. Instase en dun plekke hou verband met mekaar aangesien beide ‘n doelbewuste oomblik van stilte, refleksie en bewustheid vra.