Gawes is geskenke van God wat deur die Gees aan gelowiges gegee word om hulle toe te rus om mekaar te dien en ‘n verskil te maak in die wêreld. Hierdie gawes kan talente of natuurlike eienskappe insluit of sterkpunte wees wat oor tyd ontwikkel.

Jou voorkeure en ervarings kan ook jou gawes vorm. Sommige gawes lyk in vandag se tyd meer alledaags soos gasvryheid of diensbaarheid en ander voel vir ons meer besonders of uitsonderlik soos profesie en praat in tale.

Maar elke gawe is ewe belangrik en geen gawe kan uit eie verdienste verkry word nie.

Die gebeure in die boek Korintiërs wys vir ons op die gevare van die misbruik van gawes soos wanneer ons dit ‘n teken wil maak van mense se “geesvervuldheid” of as die gebruik daarvan verdeeldheid bring. Maar die teks herinner ons ook aan die krag van gawes, wanneer ons dit in liefde gebruik om mekaar te bemoedig en te versterk. Die maklikste manier om jou gawes te “ontdek” is om eenvoudig diensbaar te raak!

Delf Dieper — Sola Gratia: Gawes
— Helgard Pretorius

Alles wat Jesus gesê en gedoen het verkondig die goeie nuus dat God soos ’n genadige ouer is wat sê: “jy is my geliefde kind.”

Dink byvoorbeeld aan Jesus se storie van die verlore seun; hoe die pa se genade groter is as die ruimte wat die seun tussen hom en sy pa wou sit. Jy ken seker ook die vertelling van hoe Jesus ’n streep in die sand getrek het toe hy sien dat ’n skare mans ’n vrou met klippe wou doodgooi omdat hulle gedink het dat sy rondgeslaap het. “Laat die een wat sonder sonde is die eerste klip gooi,” sê Jesus. So moes die een na die ander sy klip laat val, totdat net die Here se genade haar nog omring.

Sola gratia, genade alleen.

Hierdie vertellings kan ’n mens laat dink dat genade iets is wat net inskop wanneer ’n mens in die knyp is – wanneer jy die dood in die gesig staar of twyfel het oor of jy in jou ouers se huis welkom sal wees. ’n Mens sou dit valskerm-genade kon noem: soos met ’n valskerm-toets moet jy eers iets druip om toegang te kry!

Dit is waar dat ons in sulke tye op ’n spesiale manier bewus raak van God se genade, maar sola gratia wil juis sê dat God se genade ons oral en altyd omring. Dit is nie net in die knel- en draaipunte van ons lewens beskikbaar nie, maar ook in ons begin en ons einde, in ons oorwinnings en ons verliese, in ons teleurstellings en ook in dit waaroor ons trots is. Wanneer ons ons lewens só raaksien – in die lig van God se genade – dan praat ons soms van gawes.

’n Gawe is nie soseer ’n spesifieke tiepe ding nie – asof daar dinge is wat gawes is en ander dinge wat nie gawes is nie. Enige iets kan ’n gawe wees, net soos wat enige iets ’n geskenk kan wees. Wie sou byvoorbeeld kon dink dat een van daai simpel bankstrokies (wat jou herinner hoe min geld jy in die bank het) ’n geskenk kan wees? Maar as ek so ’n verlepte strokie vat en daarop skryf, “jy betower my,” en ek sit dit in my vrou se kosblik voordat sy dit werk toe neem, kan dit (rondom 11 uur wanneer sy gewoonlik al honger raak) skielik ’n geskenk van onmeetbare waarde word.

Christene kyk na die lewe asof dit met sulke geheime boodskappies versier is wat sê: “jy is my geliefde kind.” So word die lewe self ’n gawe wat in geloof ontvang word en in liefde gegee word. Christene het nie méér gawes as ander mense nie en hulle is ook nie méér begaafd as ander mense nie. Om ’n Christen te wees beteken eerder dat ’n mens in alle dinge vir God se genade opsoek gaan en daarom self genadig is teenoor ander en met oorgawe leef. En ook dít is ’n gawe.

Lees: Rigters 4: 1-10
Debora