Gehoorsaamheid – luister na wat God van jou vra

👤 Ronelda Visser

Gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid begin meestal in ons gedagtes. Die maniere waarop ons oor die lewe dink, is die beginpunt van wat ons doen. Gehoorsaamheid aan God lyk dikwels anders as die manier waarop mense om ons leef. Dit vra dus dikwels dat ons ‘n keuse moet maak om anders op te tree.

Daarom moet ons eers luister na God en die Bybel om te weet wat God van ons vra. Die woordspeling in die woord gehoorsaam (“gehoor” en “saam”) help ons hiermee. Ons moet eers God “hoor” en dan “saam” met die Heilige Gees dit doen. Gehoorsaamheid is nie ‘n voorwaarde om God se genade te verdien nie, maar is ‘n spontane reaksie of keuse in antwoord tot God se liefde. 

Delf Dieper: Wat presies behels gehoorsaamheid aan God? 
— Marnus Havenga

Van die belangrikste vrae wat tydens die Reformasie gevra is, sluit in: aan wíé behoort Christene, in die eerste plek, gehoorsaam te wees, en hóé behoort hierdie gehoorsaamheid verstaan te word?

500 jaar gelede was daar geglo dat goeie en getroue gelowiges sonder enige voorbehoud aan die Pous, as hoof van die kerk, gehoorsaam moet wees.  Die Pous se woord was wet en die verwagting was dat Christene blindelings sy uitsprake moes volg. Martin Luther het egter hierteen in opstand gekom, en voorgehou dat ons altyd eerstens aan die drie-enige God en Sy Woord, gehoorsaam moet wees; dat Christus (en nie die Pous nie) aan die hoof van ons lewens en ook aan die hoof van die Kerk staan, en dat ons gehoorsaamheid aan Hom alles anders voorafgaan en troef.

Luther het egter ook, deur die lees van die bevrydende boodskap van die Nuwe Testament, tot die besef gekom dat hierdie gehoorsaamheid aan God en Sy Woord nie ‘n voorvereiste vir ons verlossing is nie. God red ons nie omdat ons aan Hom gehoorsaam is en sy bepalings vir ons lewens onderhou nie.  Nee, ons, as sondige mense, word alleenlik deur genade gered; deur Christus wat met sy kruisdood ons loskoop sonder dat ons enigiets kan sê of doen om dit te verdien.

Dié feit, dat ons deur God se genade gered word, beteken egter nie volgens Luther dat ons maar ongehoorsaam aan God en Sy Woord mag wees nie.  Dit is juis omdat ons, sonder om dit te verdien, deur God se genade verlos word, dat ons, uit dankbaarheid, gehoorsaam aan Hom kan en moet wees.  God se reddingswerk in ons lewens vra van ons – en stel ons inderwaarheid in staat – om Hom met alles wat ons is, te volg.

‘n Lewe van  dankbare gehoorsaamheid aan God is die gevolg van sy verlossingswerk. Indien dit nie die geval is nie – indien ons nie anders leef omdat God ons uit genade gered het nie –  maak ons God se genade goedkoop (iets wat veral dan deur die Lutherse teoloog, predikant en martelaar, Dietrich Bonhoeffer, uitgelig word in sy boek The Cost of Discipleship, wat grootliks deur Luther se teologie beïnvloed is).

Hierdie insigte van Martin Luther – wat geanker is in die bevrydende waarheid van die Evangelie –  het dan ook in die Gereformeerde tradisie waaraan ons behoort, neerslag gevind.  Soos Luther, was Johannes Calvyn ook oortuig van die feit dat ons opgeroep word om gehoorsaam aan God te wees, juis ómdat Hy ons uit genade gered het. Tydens die kerkdienste wat Calvyn in Genève gelei het, het hy gewoonlik die Tien Gebooie eers ná die gemeente skuldbelydenis gedoen het en daar woorde van vergifnis gespreek is, gelees. Hiermee wou hy beklemtoon dat ons nie die Wet onderhou sodat ons deur God gered kan word nie, maar omdat ons klaar deur God gered is; omdat sy genade vir ons genoeg is, en ons in staat stel om, uit dankbaarheid, in gehoorsaamheid te lewe.

Hierdie logika is ook bv. te sien in ‘n Gereformeerde belydenisskrif soos die Heidelbergse Kategismus (wat deur Calvyn se denke beïnvloed is).  Dit is eers nadat daar verklaar word dat ons sondig is (en weens ons sonde in ellende gedompel is) (in vrae 1 – 10) en daar ook gesê word dat ons deur Christus se dood aan die kruis vrygekoop is (vrae 11 – 85), dat daar aan die Christelike lewe en die behoud van God se opdragte aandag gegee word (vrae 86 – 129). Ook hier word daar bevestig: dit is ómdat God ons red, dat ons, uit dankbaarheid, Hom kan en moet volg.

Dit beteken nie – word daar in Vraag 114 van die Kategismus gewaarsku – dat ons nie van tyd tot tyd hierin gaan faal nie; dat ons nie dikwels ongehoorsaam aan God gaan wees nie. Ons bly immers menslik en sondig. God se genade, word daar gesê, ís en bly egter genoeg (selfs in ons oomblikke van swakheid), en deur hierdie genade kan ons onsself keer op keer hertoewy aan Hom en (opnuut) ‘n lewe van dankbare gehoorsaamheid lei.

Lees verder: 2 Konings 5:1-14
Naäman word genees van melaatsheid

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: