Pieter van Santen van George-Tuinedal skryf: “’n Kos-kombuis in George-Suid bedien sedert Saterdag 18 April heerlike voorbereide etes aan honger mense in die gemeenskap. Spanne kostannies spring daagliks in om meer as 220 voedsame etes aan die hongeres van die buurt te bedien.  Daar word natuurlik streng gehou by die reels van die grendeltyd, so almal dra kopdoekies, maskers en handskoene!

’n Oproep van raadslid Sean Snyman van die George stadsraad gelei het tot ’n vennootskap tussen die gemeentes van George-Suid en Tuinedal, wat hande vat met die ekumeniese network Serve George, George Munisipaliteit, Bikers Church, Family Church, Hope Church en Eden gemeente – voorwaar ’n ekumeniese mengsel van vlytige vingers en helpende hande. Van dag een af getuig ons van hoe die Here daagliks net genoeg manna gee om die hongeres te voed.  Lidmate, boere en vennote uit die gemeenskap het hul beursies wyd geopen (na beraming is R70 000 se kontant ingesamel en R40 000 se etes in die laaste 12 dae uitgedeel). Iemand het selfs pakkies troeteldierkos opgemaak om te versprei. As jyself nie kos het om te eet nie, hoe sorg mens vir jou troeteldier?

Ons probeer die atmosfeer so lig en vrolik as moontlik hou wanneer die kos om 16:00 uitgedeel word.  Sodat die ontvangers kan sien dat ons dit met ’n blymoedige hart doen.  En dit het die gewensde uitwerking.  Lees gerus die verkorte boodskap wat iemand wat in die ry gestaan het op FB vertel: “Lockdown is a time when you put your pride in your pocket. I want to extend a word of thanks. The people working at the soup kitchen in George Suid NG Church have been wonderful. They are so friendly & so kind, you look forward to your next meal just so that you can see them again. For all your hard work & your willingness to feed us, I say with others a BIG THANK YOU. I never thought I would cue at a soup kitchen & what is even more interesting are the people ýou would never expect to see. What I look forward to the most is having to speak to people, encouraging them & showing a little kindness. Yes, if you find yourself at a place like this today, it’s a great place to be & the people are better off for meeting you. So, God bless all the kitchen staff & all the people waiting for food. Go out there & make a difference.”

Na net bietjie meer as ‘n week weet ek en Johann Winterbach dat hierdie kos-kombuis nou ’n permanente instelling sal wees.  Ons is opgewonde om te sien op watter ander maniere die Here sy kerk in die George gemeenskap gaan stimuleer en aktiveer.”