Genesing op wiele: Hoop vir afgeleë gemeenskappe
👤 Daniel de Wet
Dit is ‘n drukkende, warm dag in Mosambiek se Angónia-distrik. Op ‘n droë stuk grond onder ‘n groot mangoboom vergader ‘n klompie vroue en kinders. Party het al ure se stap agter die rug. Hulle wag. Hulle weet: vandag kom die mobiele kliniek.
Vir bykans drie dekades bring dié mobiele kliniek hoop en genesing na van die mees afgesonderde gemeenskappe in Noord-Mosambiek. Wat eens ‘n projek van Suid-Afrikaanse sendelinge was, het mettertyd ontwikkel tot ‘n mediese inisiatief wat nou onder leiding staan van Missão Betesda em Moçambique. Dr. Pim de Lijster en sy vrou, Willemijn, het dekades gelede hul lewens gewy aan hierdie roeping. Alhoewel hulle tans in Portugal woon, reis hulle steeds jaarliks na Mosambiek vir ’n paar maande om die werk te ondersteun en te lei.
“Ons doel is mediese sorg bring na mense wat andersins geen toegang daartoe het nie,” sê Pim.

Pad na genesing
Elke maand besoek die Mobiele kliniek-span – bestaande uit ‘n mediese tegnikus, verpleegsters en vroedvroue – tien afgeleë gemeenskappe. Plekke soos Nkhame, Chipiko en Chicoa is ver verwyderd van enige staatsklinieke. Die roetes na hierdie dorpe is dikwels modderig en gevaarlik, veral tydens die reënseisoen. Dit verg ‘n stewige bakkie, ‘n ervare bestuurder en ‘n span met ‘n diep roepingsbewustheid om dié paaie aan te durf.
By hul aankoms spring hulle dadelik aan die werk. ‘n Vrou met ‘n baba op haar rug laat weeg haar kind, aan ‘n skaal wat aan ‘n boomtak hang. ‘n Groep swanger vroue wag geduldig vir hul ondersoeke. Elders in die skaduwee van die mangoboom sit ‘n jong man met koors – ‘n moontlike malaria-geval. Die mediese tegnikus doen ‘n vinnige toets. ‘n Paar minute later ontvang hy behandeling.
Vir baie mense hier is hierdie besoeke hul enigste kans op gesondheidsorg. Inentings, voorgeboortesorg, behandeling vir siektes soos malaria, diabetes en hipertensie – alles vorm deel van die daaglikse roetine van die mobiele kliniek. Die beskikbaarheid van medikasie bly ‘n voortdurende uitdaging, veral weens die afhanklikheid van Mosambiek se gesondheidsowerhede vir voorrade. Tog gaan die werk voort deur baie genade.
’n Onverwagse verlies
Die afgelope paar dae was swaar vir die Mobiele kliniek-span. Op 16 Februarie is ‘n geliefde spanlid, Avora Mário (Lucrécia), skielik oorlede. Sy was ‘n steunpilaar van die kliniek sedert die vroeë 1990’s. Haar liefde vir die mense van Mosambiek en haar onwrikbare geloof het haar ‘n ligdraer gemaak in baie vroue en kinders se lewens. Haar afsterwe is ‘n groot verlies vir die span, maar ook ‘n herinnering aan die broosheid van lewe en die noodsaaklikheid van hul werk.

Hoop vir die mobiele kliniek se toekoms
Dit verg ‘n span met toewyding, ‘n betroubare voertuig en ‘n netwerk van ondersteuners – van sendelinge soos Jannie Smit wat die voertuie diens, tot instansies soos Getuienisaksie en Support African Mission wat finansiële steun bied. Maar bowenal verg dit geloof.
Hierdie klinieke is ‘n lig in die duisternis vir afgeleë gemeenskappe in Mosambiek, en die toewyding van die span is iets om te bewonder. Sonder hulle sou duisende mense geen toegang tot gesondheidsorg gehad het nie.
Die pad vorentoe mag dalk uitdagend wees, maar met die ondersteuning van talle individuele en gemeentes en deur God se genade, sal die Mobiele kliniek in Mosambiek se lig bly skyn.
“…Thus far the Lord has helped us.” – 1 Samuel 7:12b
