Genoeg is Genoeg: Ons land se harte bloei pers

👤 Annelet Slazus

Neem gou 15 sekondes en dink aan die name van 10 vroue in jou lewe wat in Suid-Afrika woon. Statistiek vertel dat 4 uit daardie 10 vroue waarskynlik al op een of ander manier fisiese of seksuele geweld ervaar het.

Laat dit insink.

Ongeveer 15 vroue word daagliks in Suid-Afrika vermoor.

Laat dit insink.

Die femicide-koers is sowat 5 keer hoër as die wêreldgemiddeld.

Laat dit insink.

Elke dood is ’n verhaal wat wreed beëindig is; ’n dogter, ’n moeder, ’n suster, ’n vriendin, vir altyd weg. Nou is hulle net nog statistiek in ’n land waar vroue hul sleutels as wapens vashou en kinders leer om bang te wees. Hierdie statistieke is nie meer net nommers op ’n bladsy nie, dit is ’n noodkreet wat deur ons strate weerklink, ’n stil paniek in die oë van vroue en meisies wat net probeer oorleef. Ons kan nie meer net reageer met blou ligte, mooi preke en begrafnisse nie. Suid-Afrika moet voorkom, beveilig, en belê in ’n toekoms sonder vrees. ’n Sameleweing wat nie strukturele geweld teen vroue afbreek nie, keur dit goed deur hulle stilte.

Women for Change nooi Suid-Afrika uit om op Vrydag 21 November 2025 hande te vat, en te sê: “Genoeg is Genoeg!”

Genoeg van ’n regering wat praat van “prioriteite” maar vroue begrawe.

Genoeg van die verskonings.

Genoeg van die bloed.

Hierdie keer gaan Suid-Afrika nie net rou nie. Ons gaan opstaan vir elke vrou wat haar stem verloor het, vir elke kind wat hul ma moes begrawe en vir elke slagoffer wat nooit geregtigheid gesien het nie. Suid-Afrika moet besef dat hierdie gevalle nie meer hanteer kan word as “net” ‘n misdaad nie, want dit is ‘n nasionale noodsituasie.

Die doel van hierdie dag is om te wys watter impak vroue se afwesigheid het. Hierdie is nie ‘n trend of ‘n betoging nie, maar ‘n noodkreet uit moedeloosheid.

Sluit aan en maak jou stem hoor deur:

  • Merk die dag: 21 November 2025.
  • Dra swart as ‘n teken van rou, maar ook as ‘n bevestiging van jou krag.
  • Verander jou profielprent op sosiale media na pers.
  • Deel die boodskap: vertel jou kollegas, studente, vriende en familie.
  • Wees gereed om 12:00 daardie dag vir die 15-minute plat te gaan lê, waar jy is, as teken van solidariteit.
  • Plaas foto’s op sosiale media met die hutsmerk #WomenShutdown
  • Volg 16 Dae van Aktivisme vir geen geweld teen vroue en kinders veldtogte wat jaarliks tussen 25 November-10 Desember plaasvind. Besoek gerus Gendergeregtigheid Taakspan se Facebook blad of Instagram in hierdie tyd.

Vir meer inligting oor die #WomenShutdown besoek womenforchange.co.za/g20-women-shutdown/. Hulle is ook op Instagram en TikTok.

Die kerk kan nie stilbly waar onreg floreer nie. As liggaam van Christus is ons geroep om lig te wees in donker plekke en om die stem te wees van dié wat nie meer kan praat nie. Elke vrou wat mishandel, vermoor of gevrees het om huis toe te gaan, is ’n kind van God. Deur deel te neem aan die “Shutdown” wys die kerk dat geloof nie net gebede is nie, maar dade van geregtigheid, solidariteit en liefde.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: