Genade is ‘n onverwagse geskenk van God wat ons nie kan koop, bewerkstellig of verdien nie. Ons glo in ‘n genadige God wat ons met onvoorwaardelike liefde aanvaar as God se kinders. Ons bely dat God in genade deur Jesus Christus vir ons verlossing skenk en lei deur die Gees. Hierdie genade maak ons vry van sonde en skuld.
Dit maak nie saak wie jy is, waar jy vandaan kom, wat jou verlede of omstandighede is nie – God se genade is vir elkeen bedoel. Omdat ons weet dat ons vry van skuld en sonde is, leef ons dan nou ook vanuit God se genade. Ons aanvaar ander sonder oordeel en omarm hulle met Jesus se onvoorwaardelike liefde.
ONS GLO: Kyk, dink, doen en bid verder oor hierdie tema.
Delf Dieper: Slegs genade
— PIETER VAN DER WALT
Op U2 se album “All that you can’t leave behind”, is daar ‘n liedjie met die titel “Grace”. Die liedjie beeld Grace uit as ‘n vrou wat musiek skep waar sy ookal gaan. Grace heel en vergewe en bedek alles wat skande en skaamte bring. Sy gee jou nooit wat jy verdien nie. As sy naby aan jou kom, kan jy die snare van mooi instrumente hoor. Sy vind en skep skoonheid net waar sy gaan.
En: “She travels outside of Karma.”
Bono, die hoofsanger van U2, sê: “Hierdie vrou verpersoonlik my gunsteling woord in die woordeboek, dit is “genade”. Dit is ‘n woord waarop my lewe berus. Die universe werk anders, dit werk volgens Karma, ons almal weet dit. Vir elke aksie is daar ‘n gelyke en teenoorgestelde reaksie. In die wêreld is vergelding ingebou: ‘n oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand. Dan kom Genade en draai dit alles om. Ek is mal daaroor.”
Grace, she takes the blame / She covers the shame / Removes the stain / It could be her name /Grace, it’s the name for a girl / It’s also a thought that could change the world /And when she walks on the street / You can hear the strings /Grace finds goodness in everything.
Die geestelike betekenis van die Reformasie van 500 jaar gelede kan saamgevat word in hierdie een woord: Genade alleen. Maarten Luther en ander geestelike leiers het weer kragtig ontdek dat ons as mense dit nie self regkry om alles in die wêreld uit te pluis en beter of reg te maak nie. Selfs in die kerk, wat van beter behoort te weet, was daar goed soos byvoorbeeld ‘n “aflaatstelsel” wat arm mense se kwesbaarheid uitgebuit het. Jy kon die kerk betaal om te sorg dat jou geliefde ‘n korter tyd in die helse vagevuur spandeer. Met ander woorde selfs die kerk het gewerk volgens die beginsel van “‘n oog vir ‘n oog…”
Die mense van die Reformasie het intens bewus geword daarvan dat Jesus Christus uit genade alleen na ons toe gekom het. God staan nie los van ons swaarkry en onsekerhede en twyfel nie. God ken ons stryd teen versoekings, ook ons liggaamlike en emosionele pyn. God is ‘n God van genade; Hy draai die beginsels van ‘n wêreld van vergelding om.
Reformasie 500 laat ons weer die regte Evangelie onthou: Toe alles vasgeloop het en toe dit baie duidelik word dat ons met ons menslike vermoëns en selfs wette en regstelsels nie die diepste probleme en pyn van die wêreld kan oplos nie, het God ingegryp en sy Seun gestuur.
Dit is vandag duidelik dat die tegnologie ons ook nie help om ‘n regverdige, heel en gesonde wêreld te skep nie. Ons het steeds die Evangelie en reformasie nodig: Die genade van Jesus alleen.
Genade maak jou vry om waar jy kom – veral waar die lewe swaar en lelik is – “musiek te maak”. Die skande en skaamte is bedek. Daar is mooiheid en goedheid.
“Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie…” (Efesiërs 2:8-9)