Op 7 April 2008 het ek die voorreg gehad om te begin werk by die Sinode.  Ek het nooit kon dink ek sou vanuit ‘n omgewing van mielies en veevoere in die Kerk beland nie!  Dit was bepaald ‘n groot skuif, maar ‘n skuif vol genade en verwondering.

Ek het ‘n diepe dankbaarheid in my teenoor die Sinode vir my aanstelling in 2008.  Dit was ‘n tyd van baie onsekerheid.  Dit het die tyd geword waarin ek God sien werk het en waarin die kerk my vangnet was.  ‘n Tyd waarin ek weereens, soos baie ander kere, bevestiging gekry het dat God ons plant waar ons moet wees en dat Hy dan van ons vra om daar te blom.

As ek terugkyk oor my tyd by die Sinode was daar baie hoogtepunte, maar ook laagtepunte.  Maar ek neem die mooi saam met my.  Ek neem saam die mooi vriendskappe wat gevorm is, die voorreg om in my werk te kon getuig dat ons ‘n wonderlike God van liefde dien, die baie lekker lag tye, die lawwe tye, die drukkie tye, die saam huil tye en soveel ander kosbare oomblikke wat ek altyd sal koester.  Maar veral die ongelooflike ondersteuning.

Dit was vir my ‘n voorreg om elke skriba / kassier / admin beampte te kon help.  Die telefoongesprekke het heel dikwels tot baie lag gelei.  Dit was ook die tye wat ek die mens in die kerkkantoor bietjie beter leer ken het, en ook heel dikwels in my gebede kon opdra.

Die Vader het my ‘n ander pad laat stap as wat ek ooit kon dink.  En nou stuur Hy my en my gesin op ‘n baie vreemde en onbekende pad, wat ‘n bangmaakpad is, maar ‘n pad wat ons glo Hy vir ons voorberei het.  Dit was sekerlik een van die moeilikste besluite wat ons moes neem, om ons pragtige land te verlaat, ons vriende en familie.  Die maklikste sou gewees het om net te bly, maar ons is van die diepe oortuiging dat God ons stuur.

My wens vir elkeen is:  mag God julle beskerm en bewaar en vir elkeen ‘n diepe vrede gee van Sy alomteenwoordigheid.  Dat elkeen stilhou oomblikke sal hê langs die pad om Sy stem te hoor en Sy wil vir elkeen se lewe.  Mag ons stemme nooit stil word nie en mag ons lewens elke dag getuig dat daar hoop is, omdat ons God leef!  En dat ons elke dag sal onthou:  dit wat mense vandag van my sien, is dikwels die enigste Bybel wat hulle lees.  Laat ons dan so leef dat ander God elke dag in ons lewens sal sien.

Tot we elkaar weer zien

Hannelie

Desember 2019