God drie in een: Wie is die Heilige Gees?

👤 Ronelda Visser

Ons glo in ’n Drie-enige God, maar tog sukkel ons om hierdie Drie-eenheid te beskryf. Ons mag dalk probeer God opdeel in drie gelyke dele, waarvan die Vader, Seun en Heilige Gees elkeen ’n afsonderlike derde is, maar ons kan nie die drie persone van die Drie-Enige God skei nie.

Ons kan God beskryf in metafore wat Vader, Gees en Seun elkeen afsonderlike rolle gee, maar dit kan lei daartoe dat ons die drie as afsonderlike entiteite beskou. Dit sal ontrou wees aan die Bybel en ons belydenis van die eenheid van God Drie-enig.

Ons glo dat die werk van die Vader óók die werk van die Seun is en óók die werk van die Heilige Gees is. Die Heilige Gees is die Vader en die Seun wat ewig by ons, in ons en om ons is.

ONS GLO: Dink, doen en bid verder oor hierdie tema.

Heilige Gees

Delf Dieper: Die Heilige Gees
— Henco van der Westhuizen

Wie is die Heilige Gees vir ons vandag? Weet ons wie die Gees is, wat ook God genoem word? Weet ons wie dié goddelike Gees is vandag? Dalk weet ons iets van Jesus Christus, die Seun, en van God, wat dikwels die Vader genoem word. Maar wéét ons iets van die Heilige Gees, die Gees wat wysheid en insig gee, die Gees wat raad en sterkte gee, die Gees wat kennis verleen en eerbied vir die Here?

Ons leer die Heilige Gees in die Bybel ken! Wie die Gees is word al hoe duideliker soos ons die Bybel van die begin tot die einde lees. Dié lees is soos om ‘n Paint by Numbers prentjie in te kleur. In die begin is dit nie heeltemal so duidelik wie die Gees is nie, of dit oor die Gees of die gees gaan nie. Maar hoe verder ons lees – van begin tot einde – hoe duideliker word ons prentjie van wie die Gees is.

Die prentjie wat die Bybel van die Gees teken word die heel duidelikste in Jesus Christus! As ons wonder wie die Gees is kan ons na Jesus Christus kyk. In die Opgestane, die Gekruisigde, die een wat waarlik mens geword het, sien ons wie die Gees is. Daarom word daar in die Bybel selfs van die Gees as die Gees van Jesus Christus gepraat!

Dit is die Gees van Jesus Christus wat aan ons gegee word. Dit is ‘n geskenk! In die Bybel lees ons dat die Gees uitgegiet word soos water wat op die mees uiteenlopende dele tegelyk val en lewe gee!

Die Gees, wat is soos die wind wat waai waar hy wil, wat nie beperk of gemanipuleer of beheer kan word nie, wys ons só dat ons nie sonder God kan lewe nie! Dit is die Gees wat ons geloof gee! En dit is nét deur die Gees wat ons in Jesus Christus kan glo. Dit is dié geloof in Jesus Christus wat vry maak! Wanneer in die Bybel gelees word dat ons van ons sonde – dit waarin ons vasgevang is, waaruit ons onsself nie kan kry nie – vrygemaak word, is dit die werk van die Gees wat lewend maak!

Maar die Gees maak óns nie net lewend nie. Die Gees maak ook lewend deur mense byeen te bring – een te maak. Dit beteken nie dat die Gees ons eenders maak nie! Néé! Die Gees maak ons een, al is en bly ons divers, verskillend, nie een dieselfde nie.

Die Gees maak lewend deur ons so in verhouding met mekaar te bring – dat ons lewensbevorderend word vir mekaar. Maar ook nie net vir mekaar nie! Deur die Gees word ons ook in verhouding gebring met die nie-menslike wat God gemaak het! Vir mekáár word hulle lewensbevorderend! Die Gees bring so die vervulling van die wet mee, en stel ons só in staat om die geregtigheid en barmhartigheid waarvan die Bybel praat – te beliggaam.

Die Gees gee dus liefde. Nie nét liefde vir Jesus nie, maar ook vir mekaar, vir die nie-menslike wat God gemaak het! Dít is juis waarvoor daar dikwels in die Bybel gebid word: dat ons líéfde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat ons die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom!

So gee die Gees hoop! Dié hoop wat die Gees gee is nie dieselfde as ‘n ja-ons-kan-optimisme nie. Die hoop wat die Gees gee is hoop teen hoop, dis die hoop dat daar ‘n ánder werklikheid is, dat die ryk van Gód werklik aan die kom is!

Die Gees, ter afsluiting, laat ons sug, laat ons sáám sug! Dit is júís Geesvervuldes wat sug! Aan die een kant, omdat Geesvervuldes besef hoeveel seer, lyding, en swaarkry daar in hierdie wêreld is. Hulle wéét: Die Gees staan ons ook in ons swakheid by – ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. Aan die ander kant, omdat Geesvervuldes weet hoe hierdie werklikheid van die kómende werklikheid verskil – omdat hulle weet dat hulle nóú reeds in hierdie nuwe werklikheid deel: Die ewige lewe!

Luister: Handelinge 1:1-8
Die belofte van die Heilige Gees
Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: