Het die kerk se stem stilgeword?
👤 Wilmi Wheeler
Die kerk het deur die eeue heen ‘n sterk en duidelike stem in die samelewing gehad. Van die vroeë apostels tot moderne geloofshelde, het die kerk altyd ‘n pilaar van waarheid, geregtigheid en liefde probeer wees. Maar dit is asof die kerk se stem oor die jare al hoe sagter en sagter geword het…
Kom ons wees eerlik, ons leef in ‘n tyd waar die wêreld se geraas oorverdowend is. Van sosiale media tot 24-uur nuuskanale, mense word permanent gebombardeer met inligting, opinies en kontroversies. Dan is Suid-Afrika nog in ‘n liga van sy eie as ons oor uitdagings praat. Nuwe navorsing oor ons kinders se skrikwekkende onvermoë om met begrip te lees, voortgaande geweld en moorde in ons townships en reeds beleërde landbougemeenskap, asook die vloedgolf van groeiende armoede is maar net ‘n paar… Dit laat die Bybelse, “waar sal ons hulp vandaan kom?”, al meer na die relevante vraag klink.
Te midde van hierdie lawaai, lyk dit soms asof die kerk se stem verdwyn het in die agtergrond.
Het die kerk se stem werklik stilgeword, of het die kerk net ophou luister?
Deel van die dilemma is dat dit wil voorkom of die breë kerk na 1994 nog nie duidelikheid het oor wat haar rol in die nuwe demokrasie behoort te wees nie. Gedurende die apartheidsdae was dit vir die meerderheid kerke duidelik: Vra dat die regering vervang moet word. Nou sien ons dat baie kerke, insluitend die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, hoogstens binnensmonds mompel oor die situasie in die land. Dit wil voorkom of ons na 1994 met ‘n versigtige, moeë en tam kerk te make het.
Daar is egter ook ‘n ander perspektief. ‘n Kerkbegrip wat meen dat die kerk alleen gepraat het as die moderator, biskop of pous gepraat het, is ‘n verwronge kerkbegrip. Ons sien al meer dat verandering in Suid-Afrika tans in klein dorpies en op voetsoolvlak gebeur. Die rol van gewone gelowiges kan hier nie misgekyk word nie. Al meer mense begin verstaan dat ons almal ‘n stem het.
Ons moet waak daarteen om die kerk te beperk tot ‘n gebou of ‘n erediens op ‘n Sondag, terwyl die ware krag van die kerk in ons daaglikse lewens lê. Ons as gelowiges is geroep om ligdraers en sout van die aarde te wees – om die liefde en waarheid van Jesus in elke aspek van ons lewens uit te straal. Dit beteken dat ons in ons werkplekke, ons huise en ons gemeenskappe moet getuig van die hoop wat ons het.
In Suid-Afrika beteken dit bykomend om daadwerklik betrokke te raak in jou gemeenskap. Dit vra dat jy saam met ander die munisipale bestuur sal gaan sien oor dit wat pla. Jy mag en kan ‘n brief in die plaaslike koerant skryf en as die dorp nie een het nie, stig een. Onthou, ons dade spreek dikwels veel harder as ons woorde.
Lang (pers)verklarings deur die kerk gaan beslis nie die land verander nie. Miljoene klein dade wat hoop skep, kan wel. Wanneer jy dus wonder of die kerk se stem stil geword het, moet jy dalk jouself afvra of jou eie stem nie stil geword het nie?
Henry Wadsworth Longfellow het gesê dat die menslike stem ‘n orgaan van die siel is. Solank daar nog lewe in jou siel is, kan en mag jou stem nie gesmoor word nie. Die krag van dié stem wat oor eeue heen uit die burgerlike samelewing (wat die kerk insluit) opgestaan het, moet en sal in hierdie dae weer herrys. Jou stem is nou nodig om in daardie koor te sing. Onthou tog net wie die Dirigent is, anders kan ook jou stem vals klink.
Artikel, deur Braam Hanekom van die Sentrum vir Publieke Getuienis, aangepas.