Die afgelope tyd het daar oor ‘n wye spektrum stemme opgegaan wat voel dat die kerk se stem stil geword het. `n Mens moet begrip hiervoor hê. Al is die damme nou voller, beurtkrag effe minder, die rand bietjie sterker en die olieprys laer, is daar steeds genoeg om mense erg bedruk te laat.

Nuwe navorsing oor ons kinders se skrikwekkende onvermoë om met begrip te lees, voortgaande geweld en moorde in ons townships en reeds beleërde landbougemeenskap, asook die vloedgolf van groeiende armoedekan nie meer ignoreer word nie. Dit laat die Bybelse, “waar sal ons hulp vandaan kom?”, na ‘n al meer relevante vraag klink. Sal dit kom van ‘n kerk wat met waagmoed die magshebbers van die dag reguit aanspreek?

Deel van die dilemma is dat dit wil voorkom of die breë kerk na 1994 nog nie duidelikheid het oor wat haar rol in die nuwe demokrasie behoort te wees nie. Gedurende die apartheidsdae was dit vir die meerderheid kerke duidelik: Vra dat die regering vervang moet word. Nou sien ons dat baie kerke, insluitend die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, hoogstens binnensmonds mompel oor die situasie in die land. Dit wil voorkom of ons na 1994 met ‘n versigtige, moeë en tam kerk te make het.

Daar is egter ook ‘n ander perspektief. `n Kerkbegrip wat meen dat die kerk alleen gepraat het as die moderator, biskop of pous gepraat het, is ‘n verwronge kerkbegrip. Ons sien al meer dat verandering in Suid-Afrika tans in klein dorpies en op voetsoolvlak gebeur. Die rol van gewone gelowiges kan hier nie misgekyk word nie. Al meer mense begin verstaan dat ons almal ‘n stem het.

Konkreet vra dit ons betrokkenheid by gemeenskapsforums en wykskomitees. Dit vra dat jy saam met ander die munisipale bestuur sal gaan sien oor dit wat pla. Jy mag en kan ‘n brief in die plaaslike koerant skryf en as die dorp nie een het nie, stig een. Onthou, ons dade spreek dikwels veel harder as ons woorde.

Ek is nie seker of lang (pers)verklarings deur die kerk nou die land gaan verander nie. Miljoene klein dade wat hoop skep, kan wel. Wanneer jy dus wonder of die kerk se stem stil geword het, moet jy dalk jouself afvra of jou eie stem nie stil geword het nie?

Henry Wadsworth Longfellow het gesê dat die menslike stem ‘n orgaan van die siel is. Solank daar nog lewe in jou siel is, kan en mag jou stem nie gesmoor word nie. Die krag van dié stem wat oor eeue heen uit die burgerlike samelewing (wat die kerk insluit) opgestaan het, moet en sal in hierdie dae weer herrys. Jou stem is nou nodig om in daardie koor te sing. Onthou tog net wie die Dirigent is, anders kan ook jou stem vals klink.

Deur Braam Hanekom.