Neurografiese kuns is in 2014 ontwikkel deur Pavel Piskarev. Dit is ʼn veelsydige kunsvorm en die fasiliteerder kan self bepaal hoe intens of terapeuties ʼn kunssessie gaan wees.

Gekwalifiseerde terapeute kan dit baie spesifiek in hulle bestaande prosesse inspan, of dit kan bloot ʼn sessie wees om die estetika en pret daarvan te geniet. Piskarev het die kunsvorm ontwikkel om mense te help om emosies of kwessies op ʼn speelse manier te verwerk.

’n Groep intreeleraars het bietjie met die kunsvorm gespeel en saam ontdek hoe dit binne een-tot-een pastorale werk gebruik kan word. Daar is egter groot opgewondenheid oor die moontlikhede wat dit vir groepe van verskillende ouderdomme ontsluit om op ʼn alternatiewe manier saam met mekaar met ons binnewêreld besig te wees.

Intreeleraars raak kunstig

Leraars ontdek vetroue en aanvaarding in kuns

Siegfried Louw vertel: “Die kunssessie van ongeveer ‘n uur en ‘n half het my kans gegee om “onder die oppervlak” te dink oor my fokuswoord (vertroue). So terwyl my hande op die bladsy voor my besig is, reis my gedagtes na die verhoudings waarin ek tans uitkoms soek na vrede.

My kunswerk het sonder beplanning vorm aangeneem, al is daar ‘n prosesmatigheid aan die aktiwiteit. Eers die swart lyne wat lukraak oor die blad loop, dan aangevul met sagte rondings. Ek het die lyne verdik met verskillende kleure koki en die oop ruimtes met waterverf ingekleur – selde die ooreenstemmende kleur, meermale ‘n ander kleur.

‘n Les wat deur die kunswerk vir my uitstaan is die vrymoedigheid om ‘n ruimte te vul met die kleur wat ek wil, nie volgens die verwagting van iemand anders nie (ongeag hoe naby of onafhanklik ons van mekaar is).

Die vertroue-gedagte wat tydens die oefening in my agterkop gedwaal het, vind neerslag in hierdie gewaarwording: Vertroue se aksiewoord is aanvaarding.

In enkele opsigte moet ek die gegewendheid (“givenness”) van my temperament en situasie aanvaar. In ander opsigte is ek vry om te kies waarmee ek ‘n spasie/plek in my lewe wil vul.

Die besoek aan Chrislie Dreyer se galery het my gewaarwordinge bevestig. Sy het ons ‘n kykie gegee na die proses waardeur hasr kuns vorm aanneem: die vryheid van keuse met haar eie werke langs die gegewendheid van ‘n opdrag-werk. Wanneer ‘n werk klaar is, spreek haar vertroue daarin van aanvaarding deurdat sy dit uitstal sonder vrees vir kritiek of behoefte aan bevestiging.”