“Ja, Here, hier is ek!”
👤 Wilmi Wheeler
Here, heilige Here
U weë is hoër as myne
Here, heilige Here
Laat u weë ook myne wees…
(Uit Psalm 25)
Gelowiges word almal geroep tot die bediening, ‘n roeping wat elkeen van ons uitdaag om met ‘n oop hart en vaste geloof te antwoord: “Ja, Here, hier is ek.” Hierdie oproep, soos Siegfried Louw dit so treffend verwoord het tydens Lenois Stander en Barnard Steyn se bevestigingsdiens in Wellington op 16 Mei, kom nie sonder sy eie uitdagings nie, maar juis te midde van gebrokenheid en die nood in ons gemeenskappe.
“In donkerte sê ons ja vir lig en skoonheid. In dood en doodsheid sê ons ja vir lewe. In chaos sê ons ja vir sakramente. In versplintering en polarisasie sê ons ja vir konneksie.”
Die roeping van ’n predikant in sinodale diens
Om as predikante in sinodale diens (PSD) te staan, is ‘n roeping wat nie net ‘n persoonlike verbintenis tot God en sy werk vereis nie, maar ook ‘n verbintenis tot die breër gemeenskap en kerk. Hul rol as leiers binne die sinode bring ‘n spesiale taak met hulle saam: om stelsels te ontwikkel wat die kerk help om haar roeping getrou in die wêreld uit te voer. Hierdie taak is deurslaggewend in ‘n tyd waar geloofsgemeenskappe met unieke uitdagings gekonfronteer word.
Profetiese roeping en leierskap
‘n PSD se roeping gaan verder as net die daaglikse bestuur van kerklike sake. Hulle word geroep om profeties te wees – om die stem van God in die wêreld te verteenwoordig en om die waarheid van die evangelie uit te spreek, selfs al is dit ongemaklik. Hul profetiese roeping is immers ‘n uitnodiging tot ontwrigting en verset waar nodig, maar altyd met die doel om God se liefde en geregtigheid te bevorder.
Vertroosting en hoop
In ‘n land wat dikwels deur wanhoop oorheers word, is die roeping om vertroosting en hoop te bring een van die belangrikste aspekte van ’n PSD se bediening. Hulle moet nie net as leiers optree nie, maar ook as herders wat omgee vir die emosionele en geestelike welstand van gemeentes en gemeenskappe. Hulle moet ‘n teenwoordigheid van vrede en veiligheid wees; die lig van Christus na mense bring te midde van donker tye.
Versoening en gemeenskap
PSD’s word ook geroep om te versoen. Versoening staan immers sentraal in die evangelie. Hierdie deel van hulle roeping behels die werk van bemiddeling en genesing, waar hulle mense help om verhoudings te herstel – nie net met God nie, maar ook met mekaar.
In die bevestigingsdiens is hierdie roeping tasbaar deur Lenois en Barnard aanvaar deur elke gebaar, elke woord, en elke simbool wat gedeel is. As deel van hulle “ja,” het elkeen ‘n simbool saamgebring wat op ‘n manier die kern van hul roeping weerspieël. Hierdie simbole is nie net objekte nie, maar diep persoonlike uitdrukkings van hul verbintenis tot God se werk en die diens van sy mense.
Kers
Barnard het ’n kers saamgebring wat vir hom ’n simbool van leierskap is. “Vir my is die definisie van ’n leier ‘n persoon wat helderheid en klarigheid bring in ’n deurmekaar en ingewikkelde wêreld.”
Hierdie simboliek is ook vir hom spesiaal omdat dit aansluit by die leuse van die NG Kerk Vrystaat, waar hy nou vandaan kom: “Lig in duisternis.”
Barnard steek sy kers aan by die Christuskerk in die kapel, as metafoor van die lig van Christus wat deur hom sal skyn in die werk wat hy as PSD by Diaconia gaan doen.
Ikoon van Christus
Lenois se simbool is ‘n ikoon van Christus, geteken deur ’n vorige kollega by Bybel-Media, Nico Simpson. Hierdie ikoon hang in sy kantoor as ‘n konstante herinnering aan die voorbeeld van diensbaarheid wat Christus self vir ons kom stel het.
“Dit bevestig ook dat Jesus altyd die lig sal wees wat my vir die res van my beroep sal lei. Lei in diensbaarheid aan ander, diensbaarheid aan Christus se kerk en in die besonder, diensbaarheid aan gemeentes.”
Olyftakkie
Een van die simboliese hoogtepunte van die diens, was die oorhandiging van ‘n olyftakkie aan Barnard en Lenois deur hul geliefdes, spesifiek deur Barnard se dogter en Lenois se ma. Hierdie handeling simboliseer dat hulle gestuur word om as hoopdraers vir die kerk in hierdie beroepe te dien
Dié oomblik was meer as net ‘n eenvoudige uitruil van ‘n simbool; dit was ‘n kosbare oomblik wat die liefde en verbondenheid van familie binne die twee predikante se roeping ook uitgebeeld het.
Terwyl hulle nader gekom het om die olyftakkie aan hulle geliefdes oor te handig, was die teerheid van hul verhouding sigbaar: die liefde tussen ‘n ma en seun en tussen ‘n pa en dogter.
Hulle bevestiging inspireer ons om ook ons roeping met vreugde en toewyding te omhels. Of ons nou predikante, leiers of gewone lidmate is, ons word almal geroep om te dien, lief te hê en hoop te bring. Mag ons roeping ‘n antwoord wees op God se liefde, ‘n daaglikse “Ja, Here, hier is ek,” te midde van die uitdagings van die lewe.
“Lenois, Barnard, mag julle bediening ‘n viering wees van God se genade wat altyd groter is as onsself. Mag julle begenadig word om in beslissende oomblikke, maar ook in die alledaagse sleur van die wêreld van ‘n PSD met vreugde te sê: Hier is ek. Mag julle hier in die styl van Jesus navolg wat nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien,” sluit Siegfried af.
Lenois neem sy plek in die Diensgroep Ondersteuning, terwyl Barnard in die Diensgroep Diaconia bevestig is.