Jesus met ‘n vel aan – wees teenwoordig
👤 DJ Muller

“Ek sal gaan, maar wat moet ek sê?” Nie veel nie – dit is juis die punt. Vir baie lê die vrees vir bediening juis in die leuen dat hul onkundig is. Dat hul nie genoeg weet, of genoeg ervaring het nie. Daarom sterf baie mense sonder iemand langs hul bed en stry kankerlyers voort sonder ’n mense-kruk wat hul soort van regop hou. Dieselfde leuen veroorsaak dat sommige hul onrusbarende vrae diep binne hulself bêre, tot hulle dit nie meer kan hou nie. En dan is dit dikwels te laat.
Vir Job was dit so – sy worstelinge met die Here en met homself was soos ’n slagveld waarin hy kort-kort gewond uit die stof moes probeer opstaan. Dit is die perfekte voorbeeld van iemand wat bediening moet ontvang.
Wat is bediening?
In eenvoudige taal – dit is wanneer iemand optree, doen en sê wat die Here wil. Dit is ’n arm-wees, voet-wees, oor-wees of mond-wees vir die Here.
Miskien het jy al van die “Jesus met vel aan” storie gehoor. Dit gaan dit oor ‘n kind wat bang was om alleen te slaap op ‘n donker, stormagtige nag. Sy roep toe haar ma wat haar dan probeer troos en sê dat Jesus reg langs haar is. Wanneer die kind Hom nie daar sien staan nie, antwoord sy: “Maar mamma, ek het nou Jesus met vel nodig!”
Job het drie mense wat God se Gees op ’n manier beliggaam het, as vriende gehad. En hierdie drie vriende van hom het iets merkwaardig gedoen. Niks. En niks is in hierdie opsig baie merkwaardig. Dit is nie die afwesigheid van aksie nie, maar iets wat mens doen! Job se vriende en die impak van hul teenwoordigheid was iets merkwaardig, want hulle het Job bedien deur hul daar-wees. Daarom noem ons dit ook ’n bediening van teenwoordigheid (ministry of presence).
Die waarde van die bediening van teenwoordigheid in moeilike tye
Die bediening van teenwoordigheid is van onskatbare waarde in tye van beproewing en lyding, meestal van meer waarde as selfs berading. Dit is maklik om woorde te probeer vind om iemand te troos of advies te gee, maar soms is daar niks wat gesê kan word om die pyn weg te neem nie. In sulke oomblikke is daar geweldige krag in eenvoudige en fisiese teenwoordigheid.
Die vriende van Job het nie probeer om sy situasie te regverdig of verduidelik nie, hulle was maar net daar. Hulle het hom nie veroordeel nie, maar eerder saam met hom deur die moeilike tyd gegaan. Dit herinner ons daaraan dat ons nie altyd oplossings hoef te hê nie, maar dat ons stille daarwees vir iemand in nood ’n deurslaggewende rol kan speel.
Die rol van empatie in die bediening van teenwoordigheid
Empatie is ’n sleutelaspek van bediening van teenwoordigheid. Dit gaan verder as bloot fisies teenwoordig wees; dit behels om in die skoene van ’n ander te staan en hul emosies en ervarings te probeer verstaan en saam (parallel) te beleef. Wanneer ons empatie beoefen, toon ons ware belangstelling in die ander persoon se wêreld en gevoelens. Dít maak die bediening van teenwoordigheid doeltreffend, omdat dit nie net ’n fisiese teenwoordigheid is nie, maar ook ’n emosionele, verstandelike en geestelike een.
Die uitdagings rondom die bediening van teenwoordigheid
Daar is natuurlik ook uitdagings wat met die bediening van teenwoordigheid verband hou. Een van die grootste uitdagings is om stilte en aanvaarding te bied sonder die drang om ’n oplossing te vind of om antwoorde te gee. Ons is dikwels geneig om probleme te wil oplos, maar daar is tye wanneer mense eenvoudig net wil hê dat iemand daar moet wees sonder om iets te probeer regmaak. Dit vereis ’n diepliggende begrip van die behoeftes van die ander persoon en die selfbeheersing om nie dadelik oplossings te probeer vind/bied nie.
Praktiese maniere om die bediening van teenwoordigheid te beoefen
Om die bediening van teenwoordigheid prakties te maak, is dit belangrik om bewus te wees van die behoeftes van die ander persoon. Dit sluit in om aktief te luister sonder onderbrekings, fisies daar te wees wanneer nodig, en empatie te toon. Dit mag dalk ook iets soos eenvoudige gebare van sorg insluit, soos ’n hand op ‘n skouer of ’n bemoedigende glimlag. In hierdie geval is daar vir seker krag in hierdie klein dingetjies.
Ons liggame is tempels en voertuie, en sekerlik nog baie ander dinge ook. Wanneer ons ons lyflikheid gee vir ’n empatiese daar-wees vir iemand, word ons liggame ook gawes waarmee ons vir iemand “Jesus-met-’n-vel-aan” kan wees.
In aansluiting by hierdie onderwerp het DJ Muller met twee passievolle kenners oor “Ministry of Presence” gesels. Ons het gekyk na die waarde daarvan om by iemand teenwoordig te wees met jou lyf en hoe dit elke mens se roeping is om dit te doen.
Ronell Bezuidenhout is ‘n predikant met ‘n passie vir teologie en die vroegste eeue se kerkgeskiedenis. Haar beroepspaadjie het haar van Port Elizabeth tot Groot Brak-rivier gelei, waar sy ‘n pos aanvaar het by ‘n Lutherse Gemeente. Sy deel haar kennis wyd oor verskeie kontinente deur ‘n internetbediening wat in 2020 begin het.
Jacob Meiring is ‘n navorser aan die Universiteit van Pretoria met ‘n fokus op teologiese antropologie. Hy het ‘n PhD voltooi oor die belang van die liggaam in betekenisgewing. Hy werk ook as ‘n narratiewe teoloog/terapeut met ‘n passie vir menslike ervarings.