Op Sondag 21 Julie is Johan van Rooyen by die NG Gemeente Vredenburg deur Robert Knobel van Mosselbaai-Suid as leraar bevestig. Johan het op 15 Julie amptelik in diens getree by die gemeentes en hy was vantevore by Groote Kerk in Kaapstad.  Lees hier hoe Johan skryf oor sy pad tot by Vredenburg gemeente:

Johan en Nicolene

“In plaas van om elke dag vaal en vervelig te lewe kan Christene dit sterk oorweeg om te speel tussen vas en fees.”  Ek kan nie onthou wie dit gesê het nie, maar ek hou van die idee. Dit was ook ons storie die afgelope tyd. Sonder ‘n beroep in sig het ons ons ou gemeente verlaat en ‘n nuwe seisoen begin.  Ons werk was klaar in die stad, maar ons het nog nie geweet waarheen nie. Sommige het gesê dis dom, ander weer het gesê dit is dapper.  Ons het geglo ons is gehoorsaam. Ons glo vandag nog so.

Na ‘n uitdagende Sabbatstyd waartydens ons met die minimum moes regkom, baie moes reis en op ander se hulp en liefde moes leun, is ons droogte gebreek met die beroep na Vredenburg.  Sondag het ons feesgevier en kon ons dankie sê vir al die gebede en ondersteuning. Ons is baie opgewonde oor ons nuwe gemeente. Voor ons Bevestiging het die Here al aan ons bevestig dat ons hier moet wees. Dit waarna die gemeente verlang haak mooi in by dit wat ons kan bied. Dat die Weskus ‘n baie spesiale plek is en dat hier besonderse mense woon, is ‘n bonus.  God is goed. Nie omdat nie…  God is goed. Punt.

Johan van Rooyen
jtvanr@gmail.com 
Julie 2019