Sinodale Taakspan vir Leer en Aktuele Sake (STLAS)

Werksdokument vir bespreking
(Konsep 1, nog nie goedgekeur deur volle STLAS nie. Junie 2012)

 

Die “Joodse wortels van die Christelike geloof”- beweging

  1. Dit is ’n goeie ding

Die beweging neem baie en verskillende vorme aan. In sy milde vorm ken ons dit as lidmate wat, miskien na ’n toer na die Bybellande, geesdriftig is om iets van die Joodse tradisies in hulle eie lewe plek te gee, of in die lewe van hulle gemeente. Sulke gelowiges sit soms ’n menora (die sewe-arm kandelaar) in hulle huise, en begin wonder hoekom dit so is dat in ons moderne Christe­like lewe daar so min van die gebruike en tradisies in die Bybels oorgebly het – terwyl dit vir hulle lyk asof juis hierdie tradi­sies in die Judaïsme nog voortleef, ten spyte daarvan dat Jode dikwels baie moderne en rasionele mense is. Is dit reg dat ons hierdie tradisies en gebruike weggegooi het? – wonder hulle, veral as hulle in die Bybel lees dat Jesus en sy dissipels tog wel baie van Joodse tradisies gehandhaaf het.  Wanneer hulle dan ’n uitnodiging kry om ’n Bybelse fees in ’n ander kerk by te woon, doen hulle dit – en ondervind lidmate dit in baie gevalle as ’n verryking van hulle geloofs­lewe.

 

Die is die agtergrond waarom daar in baie NG gemeentes daar deesdae sommige van die Joodse feeste gevier word – of Bybelse feeste, soos sommige dit noem. Die bekendste en gewildste fees is die Pasga-maal, wat dikwels op die Sondag- of Donderdagaand voor Goeie Vrydag gevier word – waarskynlik omdat dit die laaste avondmaal wat Jesus en sy dissipels geëet het, so helder in die gees roep, en ook duidelik maak hoe Jesus die nagmaal ingestel.

 

Byna alle Christene wat aan so ’n Pasga- maal deelneem, getuig daarvan dat die band tussen die ou en die nuwe verbond meteens vir hulle soveel meer sin maak: Waar die spesiale disse aan die Pasga-tafel (die bitter kruie, die soutwater, die hairosis-mengsel van appel en heuning, die onge­suurde brood) die volk Israel herinner aan hulle slawerny in Egipte en hulle verlossing daaruit, net so herinner die brood en die wyn aan Jesus se gebroke liggaam en uitgestorte bloed. Byna almal getuig daarvan dat die herontdekking van die Joodse (of dalk beter: Bybelse) wortels van hulle Christelike geloof in die viering van die Pasga-maal ‘n goeie ervaring is.

 

Dieselfde geld van die viering van meeste ander minder bekende Joodse (of Bybelse) feeste betref: Die gebeure in die boek Ester word verlewendig deur die Purim-ritueel: kinders maak geraas by die lees van enige gedeelte van Ester waarin die naam Haman (die skurk in die verhaal); die bring van vrugte en groente op die oes-dankfees Sjavuot  herinner Christene op ’n visuele manier daaraan dat die Sjavuot-fees sy vervuling vind in die uitstorting van die Heilige Gees op Pinkster, en dat gelowiges se lewens die vrug van die Gees behoort te dra; die vier van die Sukkot-fees, die Loofhuttefees, herinner Christene daaraan dat God ons nie net uit die slawerny van sonde en dood uitgelei het nie, maar dat Hy ons bystaan op die reis deur die lewe, selfs in daardie fases wanneer ons nie in sterk kliphuise kan bly nie, maar in brose, tydelike skuilings.

 

Dit is duidelik dat vir Christene groot seën te vind is die die bogenoemde herontdekking van die Joodse (eintlik: Bybelse) wortels van hulle geloof.

 

Dit is veral vir Christene in ’n gereformeerde tradisie waardevol

So ’n herontdekking is vir Christene in die gereformeerde tradisie nog meer waardevol as vir baie ander Christene.

 

Dit is tog juis in die gereformeerde tradisie dat gelowiges geleer is dat die Ou Testament nie afgeskeep mag word nie. Dit is in die gereformeerde tradisie dat die Psalms so hoog waardeer word as ’n riglyn vir die geestelike belewing van ons geloof; dit is in die gerefor­meerde kategese dat ons leer dat die wet van Moses se seremoniële gedeeltes nie op Christene van toepassing is nie, dat die burgerlike gedeeltes slegs indirek van toepassing is, maar dat die morele aspek van die Moses (vir sover ons kan vas stel wat dit is) wel van toepassing is; dit is in die gereformeerde liturgie dat die wet Sondae gelees word – nie alleen om ons sondes te ontmasker sodat ons dit sal bely nie, maar ook as ’n reël van dankbaarheid, waarvolgens behoort te lewe; dit is veral in die gereformeerde tradisie dat die Ou Testament nie slegs gelees word as Israel se “geskiedenis van mislukking en sonde” nie, maar as deel van die Woord van die Here wat ons veral herinner aan God se getrouheid aan sy volk – ook wanneer sy volk ontrou is; dit is in die gereformeerde tradisie dat mense so geesdriftig is oor God se verbond dat hulle moeilik verstaan dat sommige Christene nie hulle kinders wil laat doop as teken van insluiting in die verbond nie.

 

Kortom, dit is juis onder gereformeerde Christene dat daar ’n tradisie van waardering vir die waarde van die Ou Testament en God se handeling met sy volk Israel is. Die herontdekking van die Joodse (dus: Bybelse) wortels van ons Christelike geloof behoort juis vir gereformeerde Christene ’n positiewe ervaring te wees.

 

Dit moet aangemoedig word.

 

  1. Maar sommige voer die saak te ver

Ongelukkig is daar vorme van die “Joodse wortels van ons geloof”-beweging wat te ver gaan. Vir sommige Christene is die herdenking van God se groot dade in die geskiedenis van Israel deur die viering van die Joodse (Bybelse) feeste nie genoeg nie.

 

Hulle voel dat Christene nie alleen dié feeste kan en behoort te vier nie – hulle moet verder gaan: Hulle moet net die Joodse (Bybelse) feeste vier: Net Purim (Ester-gebeure), Sjavuot (oesfees), Rosj Hasjana (nuwe jaar), Joom Kippoer (Groot Versoendag), Sukkot (Loofhuttefees) ensovoorts – en glad nie die feesdae van die Christelike tradisie nie. Nie  Kersfees of Paasfees nie – hoewel laasgenoemde dikwels saam met Pasga val. Nie eens Goeie Vrydag nie, en die meeste vier slegs Shavuot as ander Christene Pinkster vier. Sommige is ook oortuig dat die dag van aanbidding vir Christene die Sabbat (dus Vrydag/Saterdag) moet wees en nie Sondag nie.

 

Die redes wat hiervoor aangegee word is onder meer die volgende:

 

  • Net Bybelse feeste

Slegs die Bybelse feeste moet gevier word, want die buite-Bybelse feeste se oorspronge is heidens. Gewoonlik glo die voorstanders van hierdie standpunt dat die ware en suiwer Christelike kerk slegs reg aan die begin bestaan het. Na die val van die tempel, het die Christelike geloof sy geworteldheid in sy agtergrond verloor deurdat dit sterk beïnvloed is deur die Griekse kultuur.

 

Die uiteinde hiervan – volgens dié teorie – is dat die vroeë Christelike kerk sy Joodse en Bybelse karakter vir ’n heidens-Griekse karakter verruil het. Die Christelike geloof is as ‘t ware besmet met allerlei heidens-Griekse elemente en opvattinge. Die gevolge hiervan was  dat die Joodse (Bybelse) feeste, byvoorbeeld Sjavuot (oesdankfees en uitstorting van Heilige Gees), mettertyd hulle Joodse karakter verloor het en deur heidens-Griekse invloed oorheer is.

 

  • Kersfees en Pase het ’n heidense oorsprong.

Ten einde die ware en onvervalste karakter van die vroegste kerk te herwin, behoort Christene vandag slegs die Bybelse (dus: Joodse) feeste te vier. Die Bybel sê niks van Pase en Kersfees nie, dus moet hulle nie gevier word nie. Dié standpunt word bevestig, argumenteer die voor­standers van die standpunt, deur die feit dat die twee feeste wat vandag vir die meeste Christene die belangrikste is – Pase en Kersfees – in werklikheid feeste is met ’n heidense oorsprong. Dié standpunt word as volg begrond:

 

Kersfees is ten diepste ’n heidense fees, want Jesus is nie op 25 Desember gebore nie. Dié datum is bloot gekies omdat dit die dag was waarop die dae in die noordelike halfrond sigbaar langer word, dus die dag waarop die son se oorwinning oor die donkerte van die winter as’t ware gesien kan word. Vir die heidense Europeërs was 25 Des dus uitgeknip as ’n feesdag. Daarom is 25 Des in voor-Christelike tye gebruik vir feesdae ter ere van tenminste twee afgode: vir Mithras, die Iranese “son van geregtigheid” en as natalis solis invicti, die “geboortedag van die onoorwinlike son”. Toe die Christendom deur keiser Konstantyn as staatsgodsdiens verklaar is tydens die Sinode van Nicea in 325 nC, het die heidense feesdag die dag geword waarop Jesus se geboorte gevier is. Dit is ’n bewys van die onheilige vermenging van die Christelike godsdiens met heidense elemente. Wie vandag Kersfees vier, is eintlik besig om dié godsdiensvermenging voort te sit.

 

Dieselfde het met Pase gebeur. Dit was wel aanvanklik op dieselfde tyd as die Joodse Pasga gevier, dit wil sê op 14 Nisan volgens die Joodse jaarkalender – afgesien op watter dag Paasfees begin het, maar later het die Westerse kerk gevoel die kruisiging moet op die eerste Vrydag naaste aan 14 Nisan en die opstanding op die eerste Sondag na 14 Nisan wees. Die Oosterse kerk wou by die ou patroon bly deur Pase op die 14 Nisan, saam met die begin van die Joodse Pasga, te vier.  In 1582 is sake nog verder deurmekaar gekrap deur die aanvaarding van die Gregoriaanse kalender in die weste, terwyl ’n groot deel van die oosterse kerk by die ou kalender (en datum gebly het).

 

In die wegbeweeg van die Joodse datums, sien die ekstrme voorstanders van die terug-na-die-Joodse-wortels beweging die invloed van Griekse, heidense elemente in die vroeë kerk. Hulle suspisie dat die kerk algaande minder Joods en meer heidens geword het, word vir hulle gevoel bevestig deur die naam wat die fees wat Jesus se dood en opstanding herdenk, in die Engelse en Duitssprekende kultuurwêreld gekry het: in plaas van die Hebreeuse naam Pesach het die Engelse van Easter en die Duitsers van östern gepraat – en waar kom dié naam vandaan? Dit was die naam van ’n godin in die Angel-Saksiese godsdienste, wat in lentefeeste (in noordelike halfrond) vereer is. Met die uitbreiding van die Christelike godsdiens na die Angel-Saksiese wêreld, het die fees van Jesus se dood en opstanding en die ou lentefees (wat ook April gevier is) met mekaar versmelt.

 

In hierdie versmelting (word geargumenteer) was die ou, heidense, Angel-Saksiese elemente dominant. Dit blyk duidelik uit die teenwoordigheid van die Paashaas en Paaseiers – beide ou Europese, heidense vrugbaarheidsimbole – in die Paasfees vandag.

 

Die viering van Kersfees op 25 Des en die Paasfees in April is dus half-heidense elemente. Dit mag so wees dat baie Christene opreg is in hulle viering daarvan – hulle wil net hulle Here Jesus se geboorte, sterwe en opstanding vier – maar ten spyte van hulle goeie bedoelings vier hulle steeds feeste wat besmet is met heidense virusse. ’n Toegewyde Christen kan die onkundigheid van meeste Christene (in die viering van Kersfees en Paasfees verstaan, maar nooit goedpraat nie. Beginselvaste Christene sal vas staan om enige heidense elemente uit hulle lewens en aanbidding te verwyder – en daarom is hulle geroepe om, nieteenstaande goeie sentimentele herinneringe aan Kersfees en Pase, die reguit pad te loop en die viering van Kersfees en Pase af te lê.

 

  • Sondag is ook heidens.

Daar word as volg geargumenteer: Wat vir Kersfees en Pase vier, geld ook vir Sondag. Die eerste Christene, wat ook Jode was, se weeklikse dag van aanbidding was (soos Jesus en sy dissipels) die sabbat, die sewende dag van die week. Hulle het gewoon hulle Joodse gebruik voortgesit. Maar na mate die anti-Joodse gevoel in die kerk gegroei het, hoe groter was die aandrang daarop dat die kerk haar losmaak van haar Joodse wortels. Sommige teoloë en leiers van die vroeë kerk was van mening dat die Sabbat as die aanbiddingsdag identifiseer die kerk as deel van die Jode­dom, wat hulle nie was en nie wou wees nie. Daarom het hulle hulself beywer vir die afskaffing van die sabbat terwille van ’n ander dag. Die keuse het op die eerste dag van die week geval, deis solis, Latyn vir “dag van son”, dit wil sê, ’n dag vernoem na die songod. Dit bewys weer eens die traagheid van die nie-Joodse meerderheid in die vroeë kerk om hulle eie heidense gebruike en kultuur prys te gee, en hoe hulle telkens weer voor die versoeking geswig het om elemente van hulle heidense verlede in hulle Christelike geloof in te voer.

 

Hierdie neiging het alreeds in die tweede eeu kop uitgesteek, maar is in 325 nC bevestig, toe keiser Konstantyn die Christendom as amptlike staatsgodsiens verklaar het, en Sondag as die amptelike dag van aanbidding.

 

Vandag (so word geargumenteer deur die ekstreme voorstanders van die Joodse wortels-beweging) word alle Christene opgeroep om hulle Christelike geloof te reinig van al dié heidense elemente. Dit kan die beste gedoen word om terug te keer na die suiwer grond waarin die Christelike geloof gewortel is: die Joodse kultuur en godsdiens.

 

  1. Hoe behoort ons hierop te reageer? Enkele riglyne

 

  • Erken die anti-Joodse vooroordeel by baie Christen-teoloë in die 2de en 3de eeu nC

 

In hierdie saak is dit belangrik om te onthou dat ’n halwe waarheid dikwels ’n onwaarheid is. Maar dit beteken nie dat ’n mens die waarhede van die halwe waarheid moet ontken nie.

 

Daarom moet ons die waarhede in die argument van die ekstreme voorstanders van die Joodse wortels-beweging erken: Dit is ongelukkig wel so dat daar in die vroeë kerk ’n sterk anti-Joodse gevoel was. Baie van die bekende teoloë van so vroeg as die tweede eeu nC het baie neerhalend oor Jode en hulle godsdienste gebruike gepraat – insluitende die Joodse feeste en die sabbat, byvoorbeeld Justinus die Martelaar (138-161 nC):

 

“Ons sou ook die besnydenis, die sabbat en al die ander feeste gehou het – as dit nie was dat ons geweet het waarom al die dinge aan julle gegee is nie, gegee is as gevolg van julle sondes en julle harde harte. Die besnydenis wat julle van Abraham ontvang het, is as ’n merkteken aan julle gegee om julle af te grens van ander nasies en van ons Christene. Die doel hiervan was dat julle, en julle alleen, sal ly vir julle oortredinge; en julle lyding kom julle sekerlik toe – daarom is julle land vernietig, julle stede afge­brand, die vrugte van julle grond deur vreemdelinge voor julle eie oë opgeëet, en word nie een van julle toegelaat om Jerusalem binne te gaan nie…”

 

Ignatius van Antiogië (c. 117 nC), Barnabas (c. 130 nC), Origenes (c. 200 nC) het soortgelyke stukke oor die Jode geskryf. Hoewel ’n mens miskien nie van Jode-haat kan praat nie, is hier sekerlik ’n ongesonde vergenoegdheid oor die swaarkry van die Jode. Vir die skrywers was die swaarkry ’n bevestiging dat Christene, en nie meer die Jode nie, die volk van God was. Moontlik was nie almal so nie, maar daar was sekerlik onder baie Christen-skrywers uit die 2de en 3de eeu nC ’n begeerte om hulle te distansieer van die Jode en van die Joodse godsdiens. In die 4de eeu nC het hierdie distansiëring van die Jodedom nog sterker geword, soos blyk uit die openlike anti-Joodse preke deur een van die bekendste predikers van dié tyd – Johannes Chrusostomos (347-407 nC).

 

Dus moet ons erken dat ’n anti-Joodse vooroordeel sekerlik in die tydperk 50-150 nC (toe die dae van aanbidding, feeste en gebruike in die kerk vasgestel is) sekerlik bygedra het daartoe dat die kerk van dié tyd nie die Joodse (Bybelse) feeste behou het nie.  Na ons mening was dit ’n fout en is dit ’n goeie korreksie om dié leemte reg te stel deur groter erkenning aan die feeste te gee.

 

  • Maar die grondrede vir die viering van Sondag, Paasfees en Kersfees was nie ’n anti-Joodse gevoel nie

Wanneer ons egter by die viering van Sondag, Paasfees en Kersfees kom, kan die viering van dié feesdae nie toegeskryf word aan ’n anti-Joodse vooroordeel by vroeë Christene nie. So ’n vooroordeel was daar wel, maar dit was nie die hoofrede vir die viering van dié drie fees­dae nie. Daar was ander redes waarom die drie dae as aanbiddings- of feesdae ingestel is.

 

  1. Sondag

Dit is belangrik om helderheid te kry oor die terme wat ons gebruik.

 

Sondag: Die woord “Sondag” word nie in die Nuwe Testament gebruik nie. Die 1983-vertaling het wel “Sondag” in 1 Kor 16:2, maar die Griekse teks gebruik daar die term “die eerste dag van die week”, wat wel verwys na dit wat ons “Sondag” noem. Ons gebruik vandag die woord “Sondag” wat verwys na dit wat die Romeine dies solis – “die dag van die son” – genoem het. Die woord self verwys wel na die heidense songod, soos ook die ander name van die week (Donderdag was “die dag van Thor, die god van donder; Saterdag “die dag van die god Saturnus” ens).

 

Sabbat: In die Nuwe Testament word die terme “sabbat” en ander soortgelyke terme redelik presies gebruik. Wanneer die woord “sabbat” gebruik word, word daarmee bedoel die sewende dag van die week, wat van oudsher af deur die Jode gebruik is as hulle dag van rus en aanbidding – die dag wat ons vandag Saterdag noem (hoewel dit eintlik strek van sononder Vrydag tot sononder Saterdag; Saterdagaand is nie deel van die sabbat nie). Wanneer ons dus in die Nuwe Testament die woord “sabbat” kry, kan ons redelik seker wees daar word verwys na die dag wat die Jode “sabbat” genoem het. Die Nuwe Testament ken nie die gebruik wat in die Afrikaanse kultuur bestaan om van die Sondag, of enige kerkdag, as die “sabbat” te praat nie.

 

Die dag van die Here: Wannneer in die Nuwe Testament dus enige ander terme gebruik word, byvoorbeeld “die dag van die Here”, kan ons redelik seker wees daarmee word nie die sabbat bedoel – maar wel ’n ander dag wat om ’n ander rede “die dag van die Here” genoem word. Sommige meen dat dat die term verwys na die opstandingsdag van die Here – dus na Paas­sondag, maar dit is duidelik dat die term meestal gebruik word om te verwys na ’n dag wat in elke week voorkom. Dit mees logiese afleiding is dat met hierdie term verwys word na die eerste dag van die week, die dag wat ons Sondag noem – die dag waarop Jesus opgestaan het.

 

Wat sê die Nuwe Testament van ’n dag van aanbidding?

Vir Jesus en sy dissipels was die Joodse sabbat die dag van aanbidding. Hulle was almal Jode en en as Messias het Jesus eerste Homself aan die volk Israel geopenbaar. Hoewel Jesus dikwels met skrifgeleerdes oor sy genesings op die sabbat gebots het, was die rede hiervoor hulle verskil oor wat op die sabbat gedoen mag word – nie die feit dat die sabbat geëer moet word nie.

 

Paulus sy bediening volg ’n patroon. Wanneer hy in ’n stad aankom, het hy eerste na die Joodse gemeenskap uitgereik, om hulle te vertel dat die Messias gekom het. Dit het hy gewoonlik in die sinagoge gedoen, waar die Jode op die sabbat bymekaargekom het. Byvoorbeeld: Hand 13:14: “… in Antiochië… het hulle (Paulus en sy metgeselle) op die sabbatdag in die sinagoge gegaan en gaan sit” (1953-vertaling). Dikwels het die Joodse gemeenskap hom weggejaag – en dan het hy na die nie-Jode uitgereik, wat later die fokuspunt van sy bediening geword het.

 

Die gemeentes wat uit Paulus se bediening in hoofsaaklik Klein-Asië (vandag Turkye) ontstaan het, het hoofsaaklik uit nie-Jode bestaan, met ’n invloedryke minderheid van Jode. In Jersusalem en Judea was die Joodse Christene die meerderheid. Op watter dag het hierdie verskeidenheid van gemeentes aanbid?

 

Die antwoord is dat hulle waarskynlik op verskillende dae aanbid het – daar is geen aanduiding in Handelinge dat die kwessie van die aanbiddingsdag vir die Joodse gemeentes in Judea enigsins ’n probleem was nie. Daaruit kan ons die logiese afleiding maak dat hulle hoogs waarskynlik voort­gegaan het soos hulle van kindsbeen gedoen het – naamlik om op die sabbat bymekaar te kom, en natuurlik ook om die Joodse (Byblese) feeste te vier. As iemand sou probeer het om hulle te oortuig dat hulle op die eerste dag van die week te aanbid, sou so ’n poging vir seker teenstand opgeroep het. Die feit dat ons in Handelinge van geen sulke teenstande in die gemeentes in Judea lees nie, is ’n sterk aanduiding dat die Joods-Christelike gemeentes gewoon voortgegaan het om op die sabbat te aanbid.

 

In die hoofsaaklik nie-Joodse gebied van Paulus se bediening was dit ’n ander saak. Daar lees ons dat daar wel verskille in die hoofsaaklik nie-Joodse gemeentes was ten opsigte van wat ’n mens mag eet (Rom 14, 1 Kor 8, Kol 2) en op watter dag ’n Christen behoort te aanbid (Rom 14:5-6, Kol 2). Die rede vir die verskille is voor die hand liggend: Die oorgrote meerderheid in hierdie gementes was nie-Joodse Christene (vir wie die eerste dag van die week die belangrikste dag was), maar in meeste gemeentes was daar ’n invloedryke Joodse minderheid (vir wie die sabbat die voor die handliggende dag was). Op watter dag – die eerste dag van die week of op die sabbat – moes hulle aanbid?

 

Romeine 16 en Kolossense 2

Watter antwoord gee Paulus? Hy sê nie watter is die regte dag nie. Hy beveel aan dat die verskil­lende groepe mekaar nie moet oordeel nie, maar moet respekteer (Rom 16). “Laat niemand julle dan oordeel in spys of drank of met betrekking tot ’n fees of nuwemaan of sabbat nie (Kol 2:16). Hulle moet onthou dat die vraag oor watter kos jy eet of nie eet nie, of op watter dag jy aanbid – nie die belangrikste saak is nie – dit is ’n “skaduwee van die toekomstige dinge” (17). Die belang­rikste saak is Christus – daar moet hulle fokus wees: “… maar die liggaam behoort aan Christus” (17).

 

Dit is egter duidelik dat baie – waarskynlik die groot meerderheid – gemeentes in die hoofsaaklik nie-Joodse gebied wel op die eerste dag van week, op Sondag bymekaar gekom het. Die duidelik­ste voorbeelde hiervan is 1 Kor 16:2 en Hand 20:10.

 

1 Kor 16:2-3 (1953-vertaling): “Wat die insameling vir die heiliges betref, moet julle ook so doen soos ek vir die gemeentes van Galasië gereël het. Op elke eerste dag van die week moet elkeen van julle self opsy sit en opspaar namate sy voorspoed is, sodra die insamelinge nie eers plaasvind as ek kom nie.”

 

Hier word nie uitdruklik gesê die gelowiges het op die “eerste dag” van die week vir ’n erediens bymekaar gekom nie. Dit is egter onwaarskynlik dat Paulus vir lidmate in Korinte sou voorskryf op watter dag in die week hulle hulle bydrae in ’n spaarbussie moes gooi. Dit maak meer sin om die verwysing na “opsy sit” te lees as deel van ’n handeling by ’n byeenkoms op die eerste dag van die week, dit wil sê, op Sondag – veral omdat al die bydraes saam gebruik sou word om die gemeente in Jerusalem geldelik te ondersteun.

 

Hand 20:7-10 (1953-vertaling): “En op die eerste dag van die week, toe die dissipels vergader het om brood te breek, het Paulus hulle toegespreek, en omdat hy die volgende dag sou vertrek, het hy sy rede gerek tot middernag toe…”

 

Die kombinasie van byeenkoms, prediking en nagmaal maak duidelik dat hierdie geleentheid ’n erediens was. “Breking van die brode” was ’n ander naam vir nagmaal, soos blyk uit Handelinge 2:42: “Hulle het volhard in die leer van die apostels en in die gemeenskap en in die breking van die brood en in die gebede.” Die feit dat dit op die eerste dag van die week, die Sondag, plaasgevind het, word sonder enige kontroversie genoem – waar daarop dui dat dit ’n erediens op Sondag vir die skrywer en eerste lesers van Handelinge glad nie ’n kontroversiële kwessie was nie.

 

Openbaring 1:10 (1953-vertaling): “Ek was in die Gees op die dag van die Here, en ek het agter my ’n groot stem gehoor… “

 

Maar wie sê  die frase “dag van die Here” het nie dalk beteken: enige ander dag wat om ’n ander rede ’n “dag van die Here” was nie? Dalk het die skrywer verwys na die herdenking van Jesus se opstanding, of dalk sy geboorte?

 

Tog nie – dit blyk duidelik uit later nie-Bybelse Christelike literatuur met die term “dag van die Here” verwys het na die eerste dag van die week, die Sondag. Openbaring is waarskynlik geskryf in ongeveer 96-92 nC, tydens die tyd van keiser Domitianus. Ongeveer 20 jaar later gebruik die Christen-skrywer Ignatius dieselfde uitdrukking as hy in sy Brief aan die Magnesiërs skryf van Christene dat hulle “wat in die ou gebruike gewandel het nou nuwe hoop het, en nou leef, nie vir die sabbt nie, maar vir die dag van die Here…” (9:1). Die Evangelie van Petrus (geskryf ongeveer in 150 nC) verwys ook na “die dag van die Here” (35:50) en in die Didaché (rondom 130 nC) skryf: “Op die dag van die Here moet julle vergader en nadat julle eers julle oortredinge bely het, sodat julle offer rein kan wees, moet julle brood breek en dank” (14:1)

 

Dit blyk dus duidelik dat Christene in ’n wyd verspreide area buite Israel op die eerste dag van die week, die dag wat die Romeine “die dag van die son” genoem het, bymekaar gekom het om saam te bid, die Woord te verkondig en nagmaal te gebruik.

 

Waarom het die meerderheid vroegste Christene die eerste dag van die week as aanbiddingsdag gekies?

Hoekom het hulle nie gewoon voortgegaan om, soos die Jode, en waarskynlik soos die Joodse Christene in Judea, op die sabbat te vergader nie?

 

Die antwoord van die ekstreme voorstanders van die “Joodse wortels-beweging” het ons reeds verneem: die rede was die vroeë kerk se  a) die anti-Joodse gevoel, en b) hulle aangetrokkenheid tot die heidense kultuur, waarin die eerste dag van die week, as dies solis, die “dag van die son” vereer is.

 

Daar is egter ook ’n ander, na ons mening beter, antwoord: Die eerste Christene het die eerste dag van die week as aanbiddingsdag gekies omdat dit die dag is waarop Christus opgestaan het.

 

Die opstanding van Jesus was – en is steeds – die hoeksteen van die Christelike godsdiens. “As Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en julle geloof ook sonder inhoud”, skryf Paulus aan die Korintiërs (1 Kor 15:14). Diegene wat die naaste aan Jesus was tydens sy aardse bediening – sy dissipels – het na sy dood uitmekaar gespat. Dit was vir hulle duidelik dat die Jesus-episode tot die verlede behoort het. Dit was wonderlik, Jesus was ’n wonderbaarlike profeet en geneser, maar nou was hy dood en alles was verby. Totdat Jesus uit die dood opge­staan het!  Dié onbegryplike daad het alles vir die vroegste volgelinge van Jesus verander: Nou was dit nie meer moontlik vir hulle om stil te bly nie – hulle moes die goeie boodskap verkondig: Christus het opgestaan, Hy het waarlik opgestaan!

 

Jesus se vroegste volgelinge was amper almal Jode, gedrenk in die tradisie waarin die groot dade van God in lewende herinnering gehou is deur spesifieke dae en feeste: die sabbat om God te aanbid en uit sy Wet te leer; die Purim-fees om te onthou hoe God die jong meisie Ester gebruik het om sy volk Israel van uitwissing te reg; die Pasga, om God te dank vir die bevryding uit slawerny uit Egipte (en later van sonde en dood); die Sjavuot-fees om die Here vir die oes te dank – en later vir die uitstorting van die Gees; Rosj Hasjana, as nuwe jaar en oproep tot selfondersoek; Groot Versoendag, wat Israel aan haar sonde en God se versoening herinner het; Sukkot, die Loofhuttefees, om te onthou dat God ons nie net uit slawerny en sonde verlos nie, maar ook op ons lewensreis bystaan; Simchat Tora, om God te dank vir die vreugde wat die Wet bring; en Hanukka, om God te dank vir sy instandhouding van die tempeldiens.

 

Al God se groot dade in die geskiedenis van sy volk is herdenk met feeste en spesiale dae. Hoe waar­skynlik was dit dat Jesus se dissipels nie God vir sy heel grootste reddingsdaad – die opwekking van Jesus uit die dood – met ’n feesdag sou bedank nie?  Baie onwaarskynlik.  Dit  was amper vanselfsprekend dat Jesus se dood en opstanding, wat die kern van die jong Christene se eerste geloofsbelydenis was (vgl 1 Kor 15:3-8), deur ’n feesdag in herinnering gehou sou word – nie net een maal per jaar nie, maar weekliks, soos hulle van die Joodse tradisie geleer het.

 

Hoewel daar geen teksvers as bewys aangehaal kan word nie, is dit duidelik dat dit die hoofrede was waarom die vroegste Christene gereeld op die eerste dag van die week vir lofpryding, aanbidding, breking van brood en Woordverkondiging vergader het. Dit was tog die dag waarop Christus opgestaan het! Daarom is dié dag gou deur die eerste Christene herdoop as “die dag van die Here” – en eers na Konstantyn se tyd deur sommige Christene “Sondag” genoem.

 

Wat dan van die heidense invloed en die anti-Joodse gevoel, wat wel by sommige Christen-leiers teenwoordig was? Selfs al het dit ’n rol gespeel, was dit duidelik ’n mindere rol. Die geloof in Jesus se opstanding was die dryfkrag in die jong Jesus-beweging, en daarom het Jesus se opstandings­dag die aanbiddingsdag vir Christene geword.

 

Maar sê maar dit is waar dat die vroeë Christene verkeerde motiewe gehad het?

Maar veronderstel dit is waar dat baie Christene in die tydperk 50-150 nC die eerste dag van die week as aanbiddingsdag gekies het met verkeerde motiewe – hulle anti-Joodsheid en hulle verbondenheid aan die heidense songod – beteken dit dat vandag se Christene, wat op die eerste dag van die week bymekaar kom vir eredienste, hierdie verkeerde motiewe voortsit?  Natuurlik nie. Maar dit is die argument van die ekstreme “Joodse wortels”-beweging: selfs al weet baie  Christene van vandag nie eers van die vroeë Christendom se slegte motiewe nie, sit die heden­daagse Christene steeds die heidengodsdiens – aanbidding van die songod – voort deur op Sondag kerk toe te gaan. Die feit dat heidene die eerste dag van die week 2000 jaar gelede vir on-Christelike dinge gebruik het, het skynbaar daardie dag vir ewig gekontamineer, sodat dit nie gebruik kan word om God te loof en dank nie.

 

Behoort ’n Christen so te redeneer? Is dit waar dat ’n Christen in die 21ste eeu gebind is deur die motiewe wat ander Christene 2000 jaar gelede daartoe gebring het om ’n spesifieke dag van die week as aanbiddingsdag te kies? As Christene vandag sê – en alreeds vir die afgelope 500 jaar sê – dat hulle op Sondag bymekaar kom om God te aanbid, moet ons nie daaroor dankbaar wees nie? Op grond waarvan kan gesê word ons Christene van vandag word steeds gedryf deur die verkeerde motiewe van ons geestelike voorvaders?

 

Soms word daar gesê dat, selfs al weet hedendaagse Christene van die heidense en anti-Joode motiewe van vroeë Christene nie, word hulle steeds daardeur gebind en gedryf.  Maar wie bind en wie dryf? Is daardie Christene wat so vreesagtig is vir motiewe van mense van 2000 gelede nie juis diegene wat geneig is om op ’n heidense manier oor die werklikheid te dink nie? Is dit nie dieselfde half-heidense denke wat ons aantref by sommige Christene wat bang is vir die “mag” van ’n Boeddha-beeld in jou huis nie? Net omdat die eerste dag van die week 2000 jaar gelede (miskien) deur sommige gebruik as ’n dag om die songod te eer, is daardie dag nou vir ewig besoedel? Agter die angsvalligheid met “heidense magte” lê daar ’n onbybelse benadering tot die lewe, wat skynbaar nie wil lewe uit die oorwinning van Christus se dood en opstanding nie, ’n vrees vir bose magte wat in voorwerpe, datums en dae gesetel is, ’n vrees wat self baie naby aan heidens is.

 

  1. Wat van Kersfees en Paasfees?

Dit behoort uit dit wat hierbo oor Sondag gesê is, duidelik te wees waarom die Christene, en veral Christene in die gereformeerde tradisie, nie die redenasie kan aanvaar, dat omdat 25 Des eens op ’n tyd gebruik is as feesdag ter ere van die songod of Mithras (die Iranese songod), daardie datum vir ewig en altyd besoedel is, en dat Christene nie die dag mag gebruik om die geboorte en mens­wording van God te herdenk nie. Ja, dat dit selfs beter is (so redeneer sommige) om glad nie, nooit nie, die geboorte van Jesus saam met jou gesin te vier nie – omdat 25 Des besoedel is of omdat die Bybel ons nie opdrag gee om Jesus se geboorte te vier nie. Met ander woorde, dat dit beter is om die geboorte van Jesus, ons Verlosser en Saligmaker, ongesiens te laat verby gaan – net omdat 25 Des besoedel is of omdat ons die Joodsheid van Jesus wil herdenk deur nie sy geboorte saam met ander gelowiges te vier nie.

 

Vir Christene in die gereformeerde tradisie is dit nog moeiliker om hierdie redenasie te aanvaar. Hulle is tog diegene wat Abraham Kuyper se woorde onthou dat daar geen duimbreed van die aardse werklikheid is waarvan God nie sê: “Dit is myne!” nie. Gereformeerde Christene weet dat mense sondaars en gered is, maar dat die ganse wêreld aan die Here behoort – en daarmee ook alle dae en datums. Die opvatting waarvolgens boos­heid aan datums of objekte kleef en dat Christene daarom daardie datums en objekte liewers moet vermy, is in werklikheid ’n half-heidense wêreldbeskouing, en Christene behoort hulle daarvan te bekeer.

 

Nee! sê gereformeerde Christene, die hele skepping, ingesluit alle dae en datums, behoort aan die Here. Daarom hoef Christene nie “heidense” datums en dae te vrees nie.

 

Wat Paasfees betref, is die argument van diegene wat dit afwys, nog swakker.  Die kerk vier Paasfees wel nie presies op die datum van die Joodse Pasga nie, maar gewoonlik in dieselfde week. Dit herdenk geen heidense tradisie nie, net die dood en opstanding van Christus. Om te redeneer dat Christene dit nie moet doen nie omdat Paasfees eintlik ’n fees ter ere van Eostre, ’n Angel-Saksiese godin is, is eintlik lagwekkend – want dit maak net sin vir diegene wat Engels of Duits praat, en dus Paasfees ’n heidense naam gegee het. Die res van die wêreld – Afrikaans­sprekendes, Xhosas, Zoeloes, Tswanas, Pedis, Franse, Grieke, Spanjaarde, Portugese, Laplanders, Swede, Russe ens – gebruik, soos Afrikaans, ’n afleiding van die Hebreeuse Pesach om te verwys na Paasfees.

 

  1. Aanbeveling

 

  1. Lidmate word aangemoedig om die Joodse wortels van hulle Christelike geloof op ’n verantwoordelike manier te ontdek, byvoorbeeld deur die viering van die Bybelse feeste.

 

  1. Lidmate word egter gewaarsku om nie te verval in ’n onbybelse redenasie wat daartoe lei dat Christene hulleself die groot voorreg ontsê om saam met ander gelowiges met Kersfees die geboorte en menswording van God en met Paasfees die dood en opstanding van Jesus Christus te vier nie.

 

7 Junie 2012