Die rol van jou kind se vriende in hulle lewe

👤 Wilmi Wheeler

Die rol van jou kind se vriende in hulle lewe moet nie gering geskat word nie. Ek onthou baie goed hoe my ma haar oor my broer, wat 3 jaar jonger as ek is, bekommer het. Hy was op ‘n baie stil, vroeë tienerfase. My ma het gewonder – het hy vriende en watter tipe vriende is hulle? Sy het my gevra om pouse op hom te “spioeneer” om meer uit te vind…

As ouers is ons dikwels bekommerd oor die invloed wat ons kinders se vriende op hulle het. Ons weet dat maats ‘n groot rol speel in die vorming van ons kinders se waardes, gedrag en selfs hul geloofslewe. Maar dit is moeilik om in te meng by jou kinders se vriendskappe. Maar aan die ander kant het ons al almal gesien hoe ‘n kind kan vereensaam of verwoes kan word as gevolg van negatiewe “vriende” of groepsdruk.

ONTDEK: Ouers, kry nog hulpbronne vir jou gesin by DinkJeug 

Jou kind se vriende

Jou kind se vriende: Wat kan ouers doen?

  1. Skep geleenthede waar jou kinders ander vriende kan maak wat ‘n positiewe invloed op hulle kan hê. Nooi vriende oor of reël ‘n uitstappie waarheen hy/sy potensiële vriende kan nooi.
  2. Help jou kind om verhoudings in ‘n positiewe omgewing te bou. Gesels vooraf oor wat hulle kan doen of oor gesels. Help ook jou skaam kind om te ontspan.
  3. Leer jou kind om Jesus as vriend te ken en sy voorbeeld te volg om ‘n goeie vriend te wees.
  4. Leer ken jou kind se vriende en hulle gesinne. Weet wie hulle is en watter waardes hulle in hulle huise leer.
  5. Doen rolspel oor hoe om moeilike situasies en versoekings te hanteer en help hom/haar om (vooraf) self aan alternatiewe en oplossings te dink.
  6. Versterk positiewe gedrag by jou kind en sy/haar vriende.
  7. Help jou kind om te dink aan maniere om boelie-gedrag raak te sien en te hanteer.
  8. Help jou kind om self introspeksie te doen oor sy/haar eie vriendskappe en hoe hy/sy ander hanteer.
  9. Gesels met jou kind oor hoe om konflik op te los.
  10. Leer jou kind om om te gee, vriendelik te wees en empatie te hê – ook met diegene wat nie noodwendig sy/haar vriende is nie.

Die uiteindelike doel van om jou kind te help om goeie vriende te kies, is om hulle te omring met mense wat hul geloof versterk en hulle help om in hul verhouding met God te groei. ‘n Sterk netwerk van Christelike vriende kan jou kind bemoedig, inspireer en ondersteun in hul geestelike reis. Deur jou kind te help om wyslik te kies, betrokke te wees, biddend te lei, en liefde en verdraagsaamheid te leer, kan jy ‘n blywende impak op hul lewens hê.

Kyk na jouself en doen introspeksie

  1. Kies ek goeie vriende?
  2. Is ek ‘n goeie vriend?
  3. Hoe beïnvloed my vriende my?
  4. Luister ek met aandag en deernis as my kind/tiener oor sy/haar vriende gesels?
  5. Gesels ek ook met my kinders oor my eie kinderdae vriende – hoe ek hulle gekies het, hoe hulle was en of ons goeie/slegte keuses gemaak het?

“Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. As die een val, kan die ander hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie”. Prediker 4:9-10

In ‘n wêreld waar kinders dikwels blootgestel word aan negatiewe invloede, is dit ons taak as ouers om hulle te lei en te ondersteun in die keuse van vriende wat hul geestelike groei bevorder. Mag ons almal die wysheid en krag vind om hierdie belangrike rol met liefde en toewyding te vervul, en sodoende ons kinders te help om die geloofsreise te stap omring deur mense wat hul opbou en inspireer.

Geskryf deur ds. Anriëtte de Ridder

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: