Die kerk se roeping in Suid-Afrika is hoop en herstel

👤 Wilmi Wheeler

Suid-Afrika is nie op ‘n goeie plek nie. Ons is `n land waar verdeeldheid, bitterheid en konflik groei. Navorsing oor sosiale kohesie (die gewilligheid van verskillende mense om saam te werk tot die voordeel van almal) het bevind dat konflik en gebrekkige kohesie veroorsaak dat mense verarm en dat gebrokenheid in samelewings versnel.

Dit is deel van die kerk se roeping om dit aan te spreek. As ons niks doen nie gaan dit ons toekoms negatief beïnvloed.

Die kerk se roeping is hoop en herstel

Sosiale kohesie en geweld in Suid-Afrika

Navorsing toon dat Suid-Afrika ‘n ernstige probleem met sosiale kohesie het. Indlulamithi South Africa Scenarios 2030 se sosiale kohesie-barometer wys dat die land se sosiale kohesie laer is as die wêreldgemiddelde, met slegs 39% van Suid-Afrikaners wat voel dat mense van verskillende rasse en kulture in harmonie saamleef. Boonop wys hierdie studie dat ten minste helfte van Suid-Afrikaners met ‘n gegriefheid teenoor hulle ander landsburgers leef. Hierdie gebrek aan kohesie dra direk by tot die hoë vlakke van geweld en misdaad wat ons land teister.

Volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens se misdaadstatistieke, is daar in van April 2022 tot Maart 2023 meer as 27 000 moorde in die land gepleeg, wat neerkom op ‘n moordsyfer van 46,4 per 100,000 mense . Hierdie skrikwekkende syfers dui op ‘n samelewing wat deurdring is van wantroue en vrees.

Die kerk se roeping in hierdie chaos

In hierdie moeilike tye het die kerk ‘n kritieke roeping om ‘n lig te wees en aktief by te dra tot die herstel en heling van ons nasie.

Ons moet die evangelie verkondiging

Die kern van die kerk se roeping is om die evangelie van Jesus Christus te verkondig. Die boodskap van verlossing en liefde kan ‘n transformerende effek hê op individue en gemeenskappe. Die krag van die evangelie lê in sy vermoë om harte te verander – om vrees en haat te vervang met liefde en vergifnis. Romeine 1:16 herinner ons: “Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is die krag van God tot redding vir elkeen wat glo.”

Bou verhoudings

Die kerk moet ‘n aktiewe rol speel in die bevordering van versoening en verhoudingsbou. Dit beteken om ‘n veilige ruimte te skep waar mense van verskillende agtergronde bymekaar kan kom, mekaar kan leer ken en kan versoen. In 2 Korintiërs 5:18-19 lees ons dat God ons die bediening van versoening gegee het en dat ons ambassadeurs vir Christus is.

Diensbaarheid en gemeenskapsontwikkeling

Die kerk het die verantwoordelikheid om diensbaar te wees aan die gemeenskap, veral aan diegene wat die meeste ly onder die gevolge van verdeeldheid en geweld. Praktiese hulp, soos voedselprogramme, rehabilitasieprojekte en opvoedingsinisiatiewe, kan ‘n groot verskil maak. Jakobus 2:14-17 herinner ons daaraan dat geloof sonder dade dood is, en dat ons ons geloof moet uitleef deur ander te dien.

Bid vir geregtigheid

Gebed is ‘n kragtige hulpmiddel wat ons as kerk kan gebruik om God se leiding en ingryping te soek in die uitdagings wat ons land in die gesig staar. Verder moet die kerk ‘n profetiese stem wees wat optree teen onreg en korrupsie. Miga 6:8 sê: “Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is. En wat vra die HERE van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?”

Die uitdagings wat Suid-Afrika in die gesig staar, is groot, maar as kerk het ons ‘n kragtige roeping om hoop en herstel te bring.

‘n Laaste kardinale perspektief is nodig. Ons kan nie self die Messias wees en die wêreld red nie. Ons word ook nie daartoe geroep nie. Ons word geroep om getrou en gehoorsaam te wees en gewoon een dag op ‘n slag ons roeping uit te leef. Die bekende woorde van Moeder Theresa bly my by: God has not called me to be successful. He has called me to be faithful.

Daarom moet ons fyner luister en meer tyd in luisterende-gebed deurbring. Wat sou die twee vissies en vyf broodjies wees wat Christus vandag van ons vra? Ons is oortuig dat Christus ons wil saamneem op ’n nuwe opwindende reis. Daar gaan uitdagings wees, maar ook heerlike verrassings. Daar gaan moedelose dae wees, maar altyd ook nuwe hoopvolle oomblikke.

Geskryf deur Braam Hanekom van die Sentrum vir Publieke Getuienis.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: