Kerk is meer as net ‘n gebou met mure
👤 Ronelda Visser
Baie mense dink onmiddellik aan ‘n kerkgebou wanneer hulle die woord kerk hoor. Die rooibaksteenmure, loodglasvensters en natuurlik ‘n toring, bonuspunte as daar ‘n hoenderhaan bo-op pronk.
As mense die woord ‘kerk’ hoor, spring hulle gedagtes ook dadelik na die beeld van ‘n tradisionele erediens. Ons sê mos altyd: “Ons gaan kerk toe”, bedoelende ons gaan die erediens bywoon.
Ander dink weer dalk net aan hulle eie gemeente en haar werksaamhede as hulle aan kerk dink hoor.
Dit is alles gestaltes van die kerk, maar die woord ‘kerk’ impliseer baie meer as ‘n struktuur waarbinne mense ‘n klompie reëls moet volg…
Met kerk word bedoel ‘n groepering mense wat besef dat ménse God se plan was om God se koninkryk sigbaar te maak in hierdie wêreld. Waar mense dus bymekaar kom om te bid, mekaar te leer, saam om ‘n tafel eet – daar is die kerk bymekaar.
Jou gemeente is natuurlik kerk, maar jy is ook die kerk daar waar jy jou getuienis uitleef by die skool of werk of by die huis met kinders.
Kerk impliseer ook gemeenskap. Paul Tournier sê juis: “There are two things we cannot do alone – one is to be married and the other is to be a Christian.” Kerk is daar waar jy saam met ander mense jou oë na die bron van die Kerk draai, nl. Jesus Christus.
Delf Dieper: Kerk — Piet Naudé
Christene het begin nadink oor die kerk en gevra: Wat is die eienskappe of kenmerke van die kerk? Die antwoord het gelei tot vier merktekens: Die kerk is een, die kerk is heilig, die kerk is algemeen, en die kerk is Christelik.
Omdat God Een is, is eenheid onder christene ‘n belangrike spieelbeeld van God. DIt was Jesus se gebed in Johannes 17: Dat die dissipels net so een sal wees as wat die Seun en die Vader een is. Alle christene oor die wereld is natuurlik reeds een omdat ons net een God aanbid. Christene in ‘n gemeente behoort ook eensgesind te wees (Filippense 2). Waar konflik en skeuring heers, word ons getuienis oor die liefde van God op die spel geplaas.
Omdat God heilig is, is die kerk ook heilig. Dit beteken dat die kerk uit mense bestaan wat nie aan hulleself behoort nie. Nee, hulle is afgesonder vir diens aan God. Christene se lewens moet dus wys dat ons die Here dien. Ander moet uit ons liefde en blydskap en vrede en gasvryheid kan sien ons is kinders van die Here.
Omdat God oor die hele wereld heers, is die kerk ook algemeen. (Die woord “katoliek” beteken dat die kerk oor die aarde versprei is). Waar twee of drie christene bymekaar is, is die hele kerk ook by hulle. En dit sluit nie nie vandag se christene in nie. Nee, ons is deel van ‘n tweeduisend jaar gemeenskap. Ons is kinders van Abraham. Die uitdra van die goeie evangelie-nuus is dus ‘n opdrag aan ons. Dit verseker dat God se koningskap in elke land gevestig sal word. Ons is inderdaad almal sendelinge of gestuurdes.
Omdat Christus die Hoof van die kerk is en omdat Hy dit vir ons moontlik maak om God te leer ken, noem ons die kerk ‘n “christelike” kerk. Alle ander kerkname – NG, Lutheraans, Katoliek, Anglikaans – kom altyd tweede. Ons is in die eerste plek volgelinge van Jesus Christus.
Waar ons werk vir eenheid, waar ons voluit vir God lewe, waar ons die boodksap uitdra, en waar ons Christus volg – daar is die kerk.
Lees verder: Handelinge 2:43-47
Die eerste gemeente (kerk)
42Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede. 43Die apostels het baie wonders en tekens gedoen, en dit het almal met diep ontsag vervul. 44Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel. 45Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte.
46Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, 47en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.