Vrydag 31 Mei 2013

Neels Jackson, spesialis-godsdiensverslaggewer van Media24 se koerante, is Woensdagaand op Wellington vereer met die Spesiale Andrew Murray-prys vir sy beriggewing van langer as 20 jaar oor kerklike en godsdienstige sake. Malani Venter het ’n paar vrae aan dié “openbare teoloog” gevra.

Wat is volgens jou die belangrikste bydraes wat die kerk tot die samelewing maak?

Die beste bydrae wat die kerk lewer, is om die samelewing ’n sagter plek te maak – ’n plek met meer deernis, ’n plek wat omgee vir mense.

Die kerk kry dit partykeer goed reg, partykeer kry die kerk dit glad nie reg nie.

Uit die kerk uit word daar partykeer vir die samelewing koers aangedui.

In die Afrikaner-samelewing was apartheid in ’n stadium die norm, maar uit die kerk uit was daar stemme wat gesê het dis nie die pad nie.

Van die begin af was daar ouens soos Ben Marais en Beyers Naudé – daardie groepie stemme het aangegroei. Dis ’n ding wat jy kry uit die kerk uit – ’n koersaanduier.

Die belangrikste debatte wat die kerk tans voer?

Die eerste belangrike ontwikkeling in die kerk – in Afrikaanse kerke oor die algemeen – is nie soseer ’n debat nie, dis ’n ontwikkeling waarin meer en meer van die kerk leer om God se liefde nie net te preek nie, maar te wys.

Daardie skuif van praat na doen: Dis een van die belangrike temas in die kerk vandag.

’n Tweede belangrike tema in die NG kerk-familie is kerkeenheid – met daarmee saam die hele kwessie van die Belydenis van Belhar.

En die derde een, wat nie in rangorde derde is nie, maar wat vir party mense ver eerste staan, is die hele debat oor homoseksualiteit.

Ek het in my jare as verslaggewer oor kerksake nêrens soveel pyn in die kerk gesien as die pyn wat die kerk homoseksuele mense partykeer aandoen nie.

Wat in die kerk gee jou moed vir die toekoms?

Daardie plekke waar die kerk dit regkry om deernis te toon, gee vir my ongelooflike moed vir die toekoms.

Wat maak jou moedeloos oor die kerk?

Die ding wat my die meeste moedeloos maak, deesdae, is ’n verskynsel wat jy in die Afrikaanse kerke kry van mense wat ketterjagters word; wat glo hulle is reg en wat na niemand anders sal luister nie; wat karaktermoord sal pleeg op mense.

Dit is ’n geval waar haatlikheid in die naam van God gepleeg word.

Malani Venter

 

Bron: Die Burger 2013-05-31

http://www.dieburger.com/nuus/2013-05-31-kerke-dui-die-norm-aan-s-pryswenner

Vader Michael Lapsley, prof. Ernst Conradie en Neels Jackson, 2013 Andrew Murray-pryswenners