Op ‘n sonnige wintersoggend laai die taxi ‘n groepie gretige taalleerders in Khayelitsha af. Pastoor Aaron Makili en vennote van die Great Commission, NG Kerk en Twinning Network ontvang die groep by die Makukhanye Sentrum vir ‘n Kletskuier-taalleersessie. Cecile Murray-Louw vertel dat hierdie kulturele uitwisseling vennootskappe bevorder en skep gemaklike verhoudings tussen taalleerders en moedertaalsprekers.

Kletskuier en die Sentrum vir Publieke Getuienis het die groep genader om die oggend saam met NG lidmate te spandeer. Kletskuier leer vir mense taalleer tegnieke gebaseer op die Brewster LAMP metode (Language Acquisition Made Practical). Hierdie tegnieke kan gebruik word om enige nuwe taal te leer.

Sulke kruis-kulturele blootstelling ondersteun gemeentes met die bou van vennootskape terwyl taalleer nie-bedreigende verhoudings met moedertaal sprekers bevorder.

Ons het heerlik saam gelag, gesels en mekaar se name leer ken. Na ons tonge ordentlik om die Xhosa klieks geknoop het, besluit ons saam watter eerste frases om te leer. Die taalhelpers het geduldig met uitspraak gehelp terwyl ons met slimfone opgeneem het, geluister en geoefen het.

TPR (Total Physical Response) pret volg en ons leer soos klein kindertjies wat begin praat om bewegingsbevele te gehoorsaam en liggaamsdele te identifiseer. Daarna is dit tyd om ons nuwe vaardighede strate toe te neem en geselsies aan te knoop met gemeenskapslede. Inwoners is gretig om ons te help en bly om ons te verwelkom. Ons moet net briek aandraai of die moedertaal sprekers praat te vinnig en wil ons sommer baie leer op die eerste dag!

Die dag word afgesluit met ‘n heerlike middagete van tradisionele Xhosa disse en vars gebakte brood wat ons weereens geleentheid gee om uitspraak te oefen.

Ons is diep onder die indruk van die kosbare geleentheid om te ontvang by die moedertaalsprekers. Vandag het ons nie uit ons oorvloed kom gee of uitdeel nie, maar by ons nuwe vriende kom ontvang wat geen geld kan koop nie – hulle tyd, kennis en kultuur. Hierdie keer het ons kom vra vir hulp en ons behoeftes is oorweldigend bevredig.

Ons taxibestuurder besorg ons veilig terug na die Noordelike Voorstede en ons gloei van binne na die wonderlike dag terwyl 2 Korinthiërs 5:17-18 in ons harte weergalm:

“Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepping. Die ou dinge het verbygegaan – kyk, hulle het nuut geword. En dit alles kom van God af, wat ons deur Christus met Homself versoen het, en aan ons die bediening van die versoening gegee het.”

Nooi Kletskuier vandag om JÓÚ gemeente, belydenisgroep of kerkraad te fasiliteer vir ‘n kletskuier geleentheid, werkswinkel of dag uitstappie!

Kontak ds. Cecile Murray-Louw by kletskuier@gmail.com of 082 219 1162 vir meer inligting.