Die Koninkryk van God kan vergelyk word met ‘n  eko-sisteem. ‘n Mens kan nie ‘n eko-sisteem sien nie, dit beskryf egter iets baie belangrik: die noodsaaklike netwerk of verhouding tussen organismes en hul omgewing.

Netso is die Koninkryk mense wat binne God se wil en tot God se eer leef te midde van die gewone wêreld. Die koninkryk van God is nie ‘n sigbare plek nie, maar ‘n onsigbare groeiende werklikheid.

Delf Dieper: Ons glo… in die Koninkryk van God?
— Nadia Marais

Gelowiges oor die geskiedenis en oor die hele wêreld heen bely, in verskillende tale en in verskillende kerke, dat hulle glo in die drie-enige God tot wie se glorie ons leef. Maar wat beteken dit? Is geloof in God dieselfde as geloof in die Koninkryk van God? En wat presies is die Koninkryk van God? Is dit dieselfde as ‘n Christelike staat? Met Christelike politieke leiers, of dalk selfs die kerk, aan die hoof van so ‘n regering?

In die geloofsbelydenisse word geloof in die Koninkryk van God as sulks nie bely nie. Daar is, trouens, geen verwysing na “koninkryk” hoegenaamd in die ou geloofsbelydenisse – van Nicea, van Athanasius, of van die Apostels – nie. Dit is eers in die Dordtse leerreëls waar daar ‘n enkele verwysing na die “koninkryk van die hemel” gevind word, met meer breedvoerige besprekings hiervan in die Heidelbergse Kategismus. Ook nie die Belharbelydenis of die Nederlandse Geloofsbelydenis verwys nie by name na die koninkryk van God nie.

In die Bybel is daar uiteraard ‘n groot aantal beskrywings van die Koninkryk van God, hoofsaaklik in die evangelies –  en veral in die evangelies van Matteus, Markus en Lukas – en in die boek wat handel oor die vroeë kerk, naamlik Handelinge. Die inhoud van Jesus se prediking en gelykenisse is telkens die Koninkryk van God wat, beloof Hy, kom.

Waarna verwys die Koninkryk van God? Daar is dikwels verwysings na die koninkryk van God wat reeds in ons midde is (sien byvoorbeeld Lukas 17:20 – 21). ’n Belangrike beeld wat gebruik word om die Koninkryk van God te beskryf is díé van ‘n klein saadjie wat groei tot ‘n groot boom; wat ‘n skuiling en tuiste bied vir geskape, lewende wesens – in hierdie gelykenis word daar spesifiek verwys na die voëls van die lug wat nes maak in die boom. Dit is so ‘n belangrike beeld dat dit in byna ál die evangelies gebruik word (sien Matteus 13:31 – 32, Markus 4:30 – 32, en Lukas 13:18 – 19).

Tog is dit belangrik om mooi te dink wat ons hiermee sê. Glo ons dan in die Koninkryk self? Of glo ons in die God wie se Koninkryk dit is? Gelowiges glo dat die drie-enige God, deur wie God is, by ons is om ons te vertroos en te bemoedig; maar dat God ook in die wêreld teenwoordig is, en in hierdie wêreld reeds geregtigheid, versoening en vrede bewerk – al lyk dit ook nie aldag so nie. Ons kan glo dat die wêreld kan verander omdat ons weet wie God is, deur die Bybel en deur ons geloofsbelydenisse. Ons kan glo in God omdat God ons reeds gekies het in ons doop. Ons kan leef tot God se glorie – en tot God se glorie alleen, soli Deo gloria – omdat God se glorie reeds in ons ingegiet is. ‘n Ou kerkvader met die naam van Irenaeus van Lyon sou ons daaraan herinner dat God se glorie duidelik word in ‘n mens wat lewe vanuit die troos dat ons lewens aan God behoort en deur God ontvang word; “God’s glory is a human being fully alive.”

Maar nie net in ons lewe nie – ook in ons dood word ons deur God ontvang. Ons troos is dat ons aan Jesus Christus behoort, of ons leef en of ons sterf. Nie net ons lewe, en die hordes goed wat ons doen of regkry in hierdie lewe, is tot glorie van God nie – maar ook ons dood. Daar is geen deel van ons wat na Christus se dood onwelkom is in God se midde nie; nie dit waarmee ons gebore is nie, en ook nie dit wat ons doen of kies in ons lewe nie. God ontvang ons ten volle omdat God se glorie nie van ons afhang nie, maar van wie die drie-enige God Self is.

Ons glo in die drie-enige, glorieryke God wie se Koninkryk gekom hét, komend ís, en sál kom. Daarom kan ons weet dat ons in ons gebede saam met Jesus en gelowiges oor die eeue heen bid: “Laat U Koninkryk kom.”

Lees: Matteus 13:24-30 en 36-43
Die gelykenis van die onkruid tussen die koring