Lees | Luister | Leer | Leef – September 2026
Dr. Marnus Havenga
Daar verskyn gedurig nuwe boeke en podcasts wat predikante kan help om verder te dink oor teologie, bediening en die wêreld waarin ons leef. In Lees | Luister | Leer | Leef deel dr. Marnus Havenga (PSD: Toerusting en Navorsing) van die publikasies en gesprekke wat volgens hom die moeite werd is om raak te lees of na te luister. Soms is dit ’n nuwe akademiese boek, soms iets wat baie direk met die praktyk van bediening te doen het, en soms ’n podcastgesprek wat ’n mens nog lank bybly.
Bedieningsboek
The Pastor as Gardener: A Renewed Vision for Ministry
Matthew Erickson, with a foreword by Winn Collier
Eerdmans, 2026
Een van die fassinerende onlangse verwikkelinge in die nadenke oor die kerk – en veral oor die vraag na wat dit beteken om in en vanuit die kerk te bedien – is die draai na tuinmaak. So byvoorbeeld kan studente by die Princeton Teologiese Seminarium – ook dié wat opgelei word om predikante te word – modules by die Seminarium se Farminary deurloop, waar hulle, terwyl hulle vir die bediening voorberei, saam spit, plant, natlei, onkruid uittrek en uiteindelik oes. Ook by die PThU, waar dominees in Nederland opgelei word, is daar tans ’n groot Grond-projek waarin daar onder meer nagedink word oor wat ons omgang met die grond ons oor kerkwees, maar ook oor menswees, kan leer, en selfs oor hoe tuinmaak by die pastorie ’n geestelike praktyk kan word. Waar idees uit byvoorbeeld die besigheids- en bestuurwêreld in onlangse jare dikwels ’n belangrike rol in die ontwikkeling van bedieningsmodelle gespeel het, word daar duidelik op die oomblik ook gevra of daar nie dalk na die tuin, en tuinmaak self, in hierdie verband gekyk moet word nie.
Dit is dan hierdie verbintenis tussen tuinmaak en bediening wat Matthew Erickson – ’n predikant met jarelange ondervinding in die bediening – in sy boek The Pastor as Gardener, wat vroeër vanjaar verskyn het, op ’n praktiese, toeganklike en hoogs verbeeldingryke manier bespreek. In antwoord op die onsekerheid oor wat ’n predikant is of moet wees, die alewige druk om, volgens die logika van die dag, meer te doen, en die uitbranding wat daarmee saamgaan, herwin Erickson, met baie wysheid uit die Bybel, ’n ou verstaan van die bediening waarin die predikant soos ’n tuinier stadig en getrou, deur verskillende seisoene, na ’n tuin omsien en in die proses ook self gevorm word – alles met Christus as hooftuinier. Een van die vele wonderlike dinge van hierdie boek is dat dit kortliks deur Winn Collier ingelei word. Winn – as die direkteur van die Eugene Peterson Sentrum vir Christelike Verbeelding by Western Theological Seminary in die VSA – skryf dat Erickson ons help om te sien hoe predikante, soos goeie tuiniers, geroep word om die plek en mense wat aan hulle toevertrou is, te leer ken en lief te hê, en hulle met geduld, aandag en volharding te versorg – iets wat in ons dag en tyd as ’n profetiese handeling van hoop beskou kan word (die laaste hoofstuk oor hoop as die kenmerkende deug van die predikant-tuinier is aangrypend!). Volgens Winn is hierdie boek ’n wonderlike geskenk aan die kerk en elkeen wat bedien – en ek kan nie meer saamstem nie.
Akademiese boek
Augustine the African
Profile Books, 2025
Catherine Conybeare
Byna 1600 jaar ná sy dood bly dit merkwaardig om te sien hoe Augustinus se lewe en werk teologiese en kerklike denke, gesprekke en praktyke bly inspireer. Waar daar sekere teoloë en denkers is wat nou en dan weer in herinnering geroep word, word daar byna konstant nuwe akademiese werk oor Augustinus gedoen, met vars insigte en maniere om sy lewe en werk in gesprek te bring met die vrae en uitdagings van ons eie tyd. Op die huidige oomblik is daar byvoorbeeld ’n groot fokus op hoe Augustinus – terwyl hy aan sy groot teologiese werke geskryf het – deurgaans ook bedien het, dus ’n pastor was wat langs mense se siekbeddens gesit en gebid het, wat betrokke was by kategese, ook van jongmense, en bowenal gereeld gepreek het. Trouens, daar word bereken dat Augustinus 8 000 preke in sy lewe gelewer het, waarvan omtrent honderde steeds beskikbaar is (met ’n hele paar daarvan wat eers onlangs ontdek is).
Een ding wat maklik uit die oog verloor kan word, veral ook deur ons hier aan die suidpunt van Afrika, is dat Augustinus die oorgrote meerderheid van sy lewe, en sy hele bediening van byna 40 jaar, op die Afrika-kontinent deurgebring het. Augustinus was ’n kind van hierdie kontinent, en iemand wie se bediening – maar ook sy teologiese werk – diep gewortel was in die kerk en gemeenskappe van Noord-Afrika. Dit is hierdie belangrike aspek van Augustinus – die feit dat hy ’n Afrikaan was, met al die komplikasies wat ook daarmee saamgegaan het – wat Catherine Conybeare op aangrypende wyse in hierdie boek uitlig en verken. Sy doen dit deur – vanuit hierdie lens van die kontinent waarop ons ook leef en bedien – na beide sy lewensverhaal en sy teologie en bediening te kyk. Hetsy jy dus opnuut oor en by Augustinus wil leer, of vir die eerste keer iets wil hoor oor hierdie mede-Afrikaan wat, soos Joseph Sherrard in nog ’n onlangse boek (The Augustinian Pastor: Deep Wisdom for Modern Ministry) aantoon, ook vir ons vandag ’n gids kan wees, kan hierdie boek baie sterk aanbeveel word.

Podcast
Everything Happens with Kate Bowler
‘The Strange Gift of Joy: On Longing, Love, and Unfinished Lives’ (a conversation between Kate Bowler and Rowan Williams), 31 Maart 2026.
Kate Bowler is professor in kerkgeskiedenis by Duke Divinity School in Durham, Noord-Carolina. Op 35-jarige ouderdom is sy met stadium IV-kanker gediagnoseer, wat – soos mens kan dink – ’n ingrypende invloed op haar lewe en werk gehad het. In die nadraai van hierdie diagnose en die lang behandelingsproses wat uiteindelik daartoe gelei het dat sy tans in remissie is, het sy twee bekroonde boeke, Everything Happens for a Reason (And Other Lies I’ve Loved) en No Cure for Being Human (And Other Truths I Need to Hear), oor haar belewenisse geskryf. In die laaste paar maande het haar nuutste boek, Joyful, Anyway, ook verskyn, waarin sy – in die lig van haar lewensverhaal, maar ook van die huidige tydsgewrig waarin ons leef, gevul met onsekerheid, angs en die verwoede, tegnologiegedrewe druk om alles te optimaliseer – oor vreugde skryf. Al hierdie boeke is wonderlik en kan gerus gelees word.
Buiten Kate se skryfwerk is sy egter ook ’n bedrewe podcaster met haar program Everything Happens, wat byna weekliks verskyn. Van die onlangse episodes wat genoem kan word, is haar gesprek met N.T. Wright (op 26 Mei) en met Malcolm Guite (die lieflik-bebaarde priester en digter van Cambridge) oor gebed (op 17 Maart). Die episode wat ek egter hier wil aanbeveel, is haar gesprek met die voormalige aartsbiskop van Kantelberg, Rowan Williams, op 31 Maart. In aansluiting by haar boek wat hierbo genoem is, gesels Kate en Rowan oor ’n verstaan van vreugde wat nie lyding, verlies of onsekerheid probeer ontken nie, maar juis te midde daarvan opduik – as ’n geskenk wat in God se liefde, genade en hoop gegrond is, en wat selfs te midde van die dood en die hartseer van ’n ‘onvoltooide lewe’ kan verskyn. As jy iewers ’n uur in die motor, op die treadmill, of sommer net met jou oorfone in jou ore het, is hierdie ’n besonderse gesprek om na te luister.




