Die sangeres, skrywer en kunstenaar Annalise Wiid (57) van Somerset-Wes is Woensdag 27 Junie 2018 in die Vergelegen-hospitaal oorlede.

Van 2008 tot 2011 was sy ‘n direksielid van Bybel-Media, sowel as lid van die taakspan vir kerklike media van die NG Kerk Algemene Sinode. Sy het ook gedien op die Algemene Sinode se Taakspan vir Kommunikasie.

In 2017 het sy die Andrew Murray-FAK-toekenning vir die bevordering van Christelike musiek gekry.

Sy het die harte van so baie mense aangeraak met haar inspirerende optredes dwarsoor die wêreld. Sy laat ‘n groot leemte.

‘n Dankseggingsdiens om Annalise se lewe te vier word op Saterdag 7 Julie 2018 om 11:00 by die NG Gemeente Helderberg (Firmountweg 82, Somerset-Wes) waar Annalise lidmaat was, gehou. Annalise was ook betrokke by Helderberg Uitreik.

-0-0-0-

“Annalise Wiid,” so lui die teks wat haar voorstel by haar rubriek in LiG, “is ʼn veelkantige kunstenaar – sy vertolk die lag en die lem van die lewe. Of sy nou sing, skryf of optree. Wat haar hart van vol is, loop haar mond van oor.”

En nou het ons haar verloor. Sy het die afgelope twee jaar met haar gesondheid gesukkel, al het almal dit nie onder haar positiewe persoonlikheid raakgesien nie. In Desember het sy ‘n breinoperasie gehad. Verlede week is daar ʼn opvolgprosedure gedoen om breinvolg te dreineer. Sy het aanvanklik goed gereageer, maar onverwagse komplikasies het daartoe gelei dat sy Woensdagmiddag, 27 Junie, dood is.

Annalise het ons lewens op verskeie maniere verryk. Daar was verskeie CD’s met musiek waarvoor sy met die ATKV se Lier-toekenning en die Andrew Murray-FAK-toekenning vereer is. Haar skryfwerk het op ʼn paar boeke uitgeloop. Lesers van LiG het haar maandelikse rubriek gelees en in Kerkbode het sy die afgelope vyf jaar talle verhale geskryf van gelowiges en gemeentes wat deur God gebruik word om sy liefde uit te dra. Daarby het sy op hoeveel retreats, kampe en ander geleenthede opgetree en die boodskap van God se liefde gebring.

Al dié “inhoud” wat sy verskaf het, is gedra deur haar besondere menswees. Sy was iemand vol deernis, vol begrip, vol talent, vol omgee. Sy is, soos haar een liedjie sê, geseën om te seën. En dít het sy met oorgawe gedoen.

‘n Kollega en vriend
27 Junie 2018

Ons deel hier enkele van die vele huldeblyke en boodskappe na haar skielike dood.

Badisa

Dit is met groot hartseer dat ons vandag afskeid neem van Annalise Wiid.

Sy was ‘n kampvegter vir Badisa se werk en sy het die ONE MORE konsep geskep om die organisasie se boodskap kreatief in die wêreld uit te dra. Annalise het die ONE MORE lied geskryf en getoonset, die ONE MORE video saamgestel en vele artikels geskryf oor hoe Badisa mense se lewens aanraak. Sy het haar ongelooflike skryf- en musiektalent tot voordeel van die organisasie aangewend.

Annalise het die hoogste agting gehad vir elke personeellid van Badisa wat met passie en liefde God se barmhartigheidswerk hier op aarde uitvoer. Sy sal vir altyd ons ONE MORE ambassadeur wees.

Die ONE MORE video is hier.

27 Junie 2018
Badisa Facebook

-0-0-0-

Helderberg Gemeente

Dit is met hartseer dat ons bekend maak dat ons geliefde Annalise Wiid vanmiddag 12:00 oorlede is. Ons hou elkeen vas aan persoonlike herinneringe van haar unieke en kosbare lewe. Ons innige meegevoel met haar ouers, familie en vriende. Meer inligting oor haar dankdiens sal hier geplaas word.

27 Junie 2018
NG Helderberg Facebook

Annalise Wiid is op 27 Junie oorlede. Sy het die harte van so baie mense aangeraak met haar inspirerende optredes dwarsoor die wêreld. Sy laat ‘n groot leemte in Helderberg Gemeente en Helderberg Uitreik.

Die dankdiens vind plaas op Saterdag 7 Julie om 11:00 vanuit Helderberg Gemeente.
[Navrae: Burgert le Roux, Projekleier van Annalise – 082 495 2228]

NG Gemeente Helderberg webwerf

-0-0-0-

Kerkbode

Kerkbode se redakteur, Neels Jackson, bring hulde aan Annalise. “Sy sal gemis word as liedjieskrywer, sangeres, rubriekskrywer, spreker en as mens. Kerkbode se lesers sal haar mis as vryskutskrywer wat die verhale van God se genade met soveel begrip vertel het.” – Lees die volledige berig hier.

-0-0-0-

LiG Tydskrif

“Haar pen sal nie weer skryf nie, maar haar woorde sal nog lank in ons hart voortleef … Ons geliefde, talentvolle Annalise Wiid​ is gister oorlede. Komplikasies na ‘n delikate operasie het haar lewe geëis.
Ons treur oor die groot verlies en die leemte wat sy laat. Haar omgee en liefde, haar vreugde oor die lewe en haar uitmuntende skryfwerk het soveel mense geraak en harte verander.

Hier is ‘n uittreksel uit ‘n artikel wat ons laas jaar oor haar en ander LiG-medewerkers gedoen het:
Annalise, storieskepper en liedjiemaker
“Stories en songs is my brood en botter,” vertel die sanger en LiG-skrywer, Annalise Wiid. “En ek het die voorreg om my stories en songs met gehore te deel.”
En met ’n LiG-lesersgehoor haar skryfsels. Dié lewer sy al sedert 2006. “My eerste rubriek se titel was: ‘Gordel vas!’ Ek het geskryf oor my besoek aan ’n versorgingsoord vir verswakte bejaardes, hoe ek hulle op ’n verbeeldingsreis geneem het – deur Ierland, Indië, Bosnië en Bulgarye.
“En hoe hulle aan my bewys het: ’n Mens is nooit te oud om te leef nie …”
Annalise het haar in grafiese ontwerp bekwaam, maar haar later in evangelisasiewerk bevind. “Ek het onder die bendes in Worcester gewerk. Eers vir hulle ‘murals’ geskilder en later vir hulle kitaar gespeel.
“Ek het sang se bedieningswaarde ontdek. In plaas daarvan dat ek by kerke oor my uitreike gaan vertel het, het ek daaroor gesing. En in my nuusbriewe daarvan vertel.
“Adri-Louise het my nuusbriewe, wat ek so gereeld moontlik uitgestuur het, te siene gekry en my gevra: ‘Wil jy nie vir ons ’n rubriek skryf nie?’
“Natuurlik het ek teëgestribbel; dit was sommer sulke skryfseltjies, dit is nie ’n glanstydskrif waardig nie. Maar sy het my omgepraat, rustig, op haar manier …
“En toe word dit vir my vreeslik lekker!”
“Die lesers se reaksie. Dit is vir my die lekkerste deel van my skryfwerk,” sê sy.
“Dit is ook vir my lekker om iets in spanverband te doen. Ek werk met my musiek en vertonings meestal alleen. Maar by LiG voel ek deel van ’n groep wat ’n gesamentlike doelstelling het.
“Vir my is die grootste uitdaging in my skryfwerk om niemand te verveel nie. Om relevant te bly.
“En ek dink soms dae lank aan die heel beste fynvat-woord, dit waarmee ek iets kolskoot-ráák kan sê. Dit werk amper soos puzzles pak. Dit bring in elk geval dieselfde soort bevrediging wanneer jy daardie régte stukkie kry, die een wat perfek pas.
“’n Ander uitdaging, een wat nie net vir my LiG-skryfwerk geld nie maar vir my hele lewe, is om my geloof in God te integreer met my elke-dag-se-lewe-dinge.
“En om dan, as ek moet, eerlik daaroor te skryf. Oor sowel die sweef- as die strompel-ervarings. Ek glo dit druk dan ook uiteindelik ’n outentieke stempel op my skryfwerk af.”

LiG-Facebook
28 Junie 2018

-0-0-0-

Marié Britz namens moderatuur van die Sinode van Wes-Kaapland

Marié se huldeblyk, soos op Saterdag 7 Julie tydens die dankdiens vir Annalise gelewer:

Die Franciskaan Richard Rohr skryf dat daar twee goed is wat ons help om God raak te sien in die lewe. Die een is verwondheid (“suffering”), die ander verwondering (wonder).  Annalise het ‘n oog gehad vir beide. Sy het ‘n oog gehad vir die verwondheid en verwondes van die lewe (ek dink aan van haar stories soos die van Doesla en sy Petronella die dag met die geboorte van hulle laaitie, en die dag in die parkie toe sy by twee haweloses gestop het, en gedink het die man slaan die vrou in die gesig … en sy gesien het hoe hy haar troos en sy hande soos ‘n kelk haar gesig vashou), maar sy het ook ‘n oog gehad vir die skoonheid en prag in selfs die “kleinste” dingetjies – ‘n sonsopkoms en -ondergang, blomme, kleure, woorde, lekker kos en vriende, stilte … Annalise was iemand wat ons almal gehelp het om God in die lewe raak te sien.

Ek het dit die week op ‘n baie kosbare manier weer beleef in die stories en ervarings van haar ouers, oom Bertie en tannie Pauline. Baie dankie vir die heilge grond waarop julle my die week ingelaat het.  Stories van verwondheid en verwondering.

Dit is met groot hartseer en ‘n ervaring van diep verlies, maar ook met ‘n gevoel van diepe dankbaarheid wat ek vanoggend hier staan. Maar ek staan nie hier vir myself alleen nie, ek wil in enkele sinne my diepe dankbaarheid verwoord namens die NG Kerk, gemeentes van regoor die land en in die besonder hier in die Wes- en Suid-Kaap en namens die moderatuur van die Wes-Kaapland Sinode. Ek haal graag ook woorde aan uit ‘n huldeblyk van die voorsitter van ons moderamen, Nelis Janse Van Rensburg, wat in Kilgali in Rwanda sit en nie vandag hier kan wees nie.

“Vriende, Annalise se heengaan is vir die kerk ‘n groot verlies. Sy het ‘n buitengewone bydrae gelewer  tot die nadenke en spiritualiteit in die NG Kerk en het onder meer bygedra tot ‘n diepgaande verskuiwing oor hoe ons vergaderings verstaan. Deur voordrag, gebed en sang het Annalise ons help verstaan dat vergaderings ontmoetings is met God.

Sy kom met haar beskrywings en die mooiste liedere van die kwessies, vraagstukke en stryde van mense, kennis van die gebrokenheid van mense, op ‘n diep emosionele vlak binne in die harte van mense in kerke, sale en vergaderings indra.

Sy het so dikwels die onbereikbares van die ruimer kontekste tot binne in ons vergaderings ingesing en in gebid …

Maar dit was haar geestelike outotiteit en integriteit wat telkens die blywende inpak verseker het.

Dit is nie net haar buitengewone sangtalent en woord gawes wat ‘n mens diep geraak het nie, maar veral haar solidariteit met die kerk en ook met die randfigure en die mense ver buite bereik wat op ons almal blywende indrukke gemaak het.

Die kwaliteit van Annalise se netwerke van persoonlike verhoudings het ons almal se lewens verryk, aan mekaar verbind en ons herinner om wyer om te gee as net binne ons kringe van belange.”

Ons weet almal wat die pad gekruis het met Annalise gaan haar mis. In een van haar liedere bid sy om soos ‘n “hosepipe”/tuinslang te wees, wat die strome lewende water van God se liefde en genade sal laat vloei. Ons het dit in haar lewe gesien en beleef.

Annalise, ons neem jou woorde, jou liedere, jou menswees met ons saam. Jou oog vir verwondheid en verwondering het ons gehelp om God te sien.

Annalise, die kerk gaan jou mis!

Marié Britz
Lid van die moderatuur van die Sinode van Wes-Kaapland

7 Julie 2018

-0-0-0-

Nelis Janse van Rensburg

Die heengaan van Annalise Wiid is vir ons almal ‘n baie hartseer gebeurtenis. Die buitengewone bydrae wat hierdie begaafde mens gemaak het tot die nadenke en spiritualiteit in die NG Kerk het onder meer bygedra tot ‘n diepgaande verskuiwing oor hoe ons vergaderings verstaan. Deur voordrag, gebed en sang het Annalise ons help verstaan dat vergaderings ontmoetings is met God. Sy kon ook met haar beskrywings, in die mooiste liedere, van die kwessies, vraagstukke, katarsisse en stryde van mense, kennis van die gebrokenheid van mense, op ‘n diep emosionele vlak, binne die harte van mense in kerke en sale en vergaderings indra. Sy’t so dikwels die onbereikbares van die ruimer kontekste waarbinne ons leef tot binne vergadering ingesing en -bid. Maar dit was die geestelike outoriteit waarmee sy dit gedoen het, wat telkens die blywende impak verseker het. Dis nie net haar buitengewone sangtalent en woordgawes wat ‘n mens diep geraak het nie, maar veral haar karakter, geloof, soms haar egte broosheid, haar solidariteit met die kerk, maar ook met die randfigure en die mense ver buite bereik van die kerk met al sy vreemde gewoontes, wat op ons blywende en lewende indrukke gemaak het. Die kwaliteit van haar netwerke van persoonlike verhoudings het ons almal se lewe verryk, aan mekaar verbind en herinner om wyer om te gee as net binne ons kringe van belange. Annalise, ons mis jou klaar. Jy was soos gelouterde goud in ons midde en jou teenwoordigheid het ons ryk laat voel. Ek weet jy sing vandag nog nuwe liedere.

Nelis Janse van Rensburg Facebook
(Voorsitter van die NG Algemene Sinode Moderamen)
28 Junie 2018

-0-0-0-

NG Kerk in Kwazulu-Natal

Annalise Wiid het gereeld in ons sinodale gebied by gemeentes opgetree. Sy was werklik ‘n gewilde en geliefde spreker en sy gaan beslis baie gemis word.

Hier is een haar aangrypend mooi liedere – Ouma Sue:
https://www.youtube.com/watch?v=ylTWVWLgi8A

NG Kerk KZN Facebook
28 Junie 2018

-0-0-0-

NG Kerk in Namibië

Annalise het besondere bande met Namibië gehad. Behalwe dat sy by verskeie gemeentes hier opgetree het, was sy ook die skrywer van Trots Aranos se kenwysie-lied. Trots Aranos is ‘n diakonale program wat uit die bediening van Aranos-gemeente ontstaan het.

Die NGKN voeg haar stem by die van duisende wat Annalise met dankbaarheid en deernis onthou, en bid haar dierbares die troos van God Drie-enig toe.

Clem Marais
Feldmuis von Schanzen
Namibië se e-nuusbrief van 27 Junie 2018

Lees Kerkbode se artikel oor Aranos se spirale van hoop hier.

“In Aranos waar die stilte woon
is die sonsak rooi soos die duinesand.
Hier leef opkyk-mense, oop-kop-mense
gelowig en regop en hand-aan-hand.

In Aranos waar die hemel blou
oor die warm aarde buig en waak
leef daar saamstaan-mense, omgee-mense
wat met heelmaak-hande aan mekaar
en aan hulle mooi omgewing raak.”

– uittreksel uit die temalied van Trots Aranos.

-0-0-0-

 

Geseën Om Te Seën
– A. Wiid
– © 2009 Anniesong

Jy’s geseën om te seën, jy’t gekry om te gee
Jy leef om jouself vir ander te gee
Jy’s geroep om te kom en gestuur om te gaan
Jy is geseën om te seën

Vol van ontferming, vol liefde, vol troos
Buk die Heer van die heelal oor jou
En Sy geur bly hang, sprekend
Soos ‘n wierookwolk om jou

Jy’s geseën om te seën, jy’t gekry om te gee
En jy leef om jouself as ‘n offer te gee
Jy’s geroep om te kom en gestuur om te gaan
Jy is geseën om te seën

So broos en so breekbaar, so alledaags
Dra jy die kennis van God soos ‘n skat
In jou erdekruik-lewe van elke-dag-klei
Lééf die Gees van ‘n Multi-Magnaat

Wat ons seën om te seën, ons laat kry om te gee
Ons leef om soos Jesus ons lewens te gee
Mag Hy oor ons skyn, mag ons werk in Sy lig
Mag ons rus in die glans van Sy sagte gesig …

Begenadigd, begunstigd, geseënd
Geroep en gestuur
Om te seën … en te seën … en te seën!

-0-0-0-

Netwerk24 se berig deur Mariana Malan is hier.

-0-0-0-

Ons eer haar besondere menswees en bydrae.

Die Sinode van Wes-Kaapland
28 Junie 2018