Mevrou dominee het ‘n nuwe gesig: jonk, lig en vry

👤 Wilmi Wheeler

In die verlede was die lewe van ’n predikantsvrou dikwels oorheers deur ongeskrewe reëls en ‘n streng sosiale kode. Natuurlik moet sy die perfekte huisvrou en ma wees. Daar mag nie ’n stofkolletjie sigbaar in die massiewe (ten minste 4-slaapkamer) pastorie wees nie. Sy kry ekstra punte as die huis permanent soos varsgebakte koekies ruik. Wanneer die telefoon lui, moet sy seker maak sy antwoord dit presies volgens die rympie vervat in die destydse handleiding vir mevrou dominees. Sy durf ook nie by die pastorie se deur uitstap sonder grimering, sykouse en hakskoentjies (asseblief net nie te hoog nie!) aan nie. En onder geen omstandighede mag ’n gemeentelid haar met nat hare sien nie.

‘n Nuwe generasie van mevrou dominees

“Al verteenwoordig ons verskillende generasies van predikantsvroue, is daar soveel raakpunte. Dit is verfrissend om te besef dat ons ‘n nuwe generasie kan verwelkom. ‘Mevrou dominee’ se profiel het so baie verander. Haar gesig is jonk en lig en vry. Hierdie vroue vind hulle eie stemme en leef hulle eie roepings uit!”

Hierdie woorde, uit die hart van Hilze-Marie Malherbe, predikantsvrou by Paarlberg-gemeente, vang ‘n diepgaande transformasie vas in die rol van ‘n vrou getroud aan ‘n dominee. Die tradisionele beeld van ‘n dominee se vrou – altyd netjies geklee, gedwee en stil-stil besig om aan sekere verwagtinge te voldoen – maak plek vir ‘n nuwe, meer outentieke geslag.

Waar hulle eens gebonde was aan hierdie rigiede sosiale verwagtinge, het die karakter van mevrou dominee deur die dekades heen transformeer. Hulle is nie meer net die stille ondersteuners agter die kansel nie. Nee, die moderne predikantsvrou is ‘n simbool van vooruitgang, vryheid, selfuitdrukking en is aktiewe deelnemers aan God se werk in die gemeente en wêreld. Sy is haar eie mens en het die moed om haar stem te gebruik en haar eie pad te volg; sy is ’n gemeentelid wat net toevallig aan die dominee getroud is.

Mevrou dominee, wees lig!

Hilze-Marie se woorde aan ander predikantsvroue is ‘n inspirerende oproep tot moed en vreugde. Sy sê: “Wees lig, want jy gaan gekonfronteer word met die lelike deel van kerkwees. Moenie laat enige persoon in die gemeente ooit jou stem stilmaak nie. Hou altyd ‘n goeie sin van humor en moet nie vergeet om te speel en pret te hê in die kerk nie.”

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: