By die skilderagtige Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit het ons Taakspan Vrouebediening ‘n groep predikantsvroue onlangs bederf met ‘n dag van kapel, kuns en kameraadskap. Hierdie spesiale retraite, wat daarop gemik was om die unieke uitdagings en vreugdes in die lewe van ‘n ‘mevrou dominee’ te erken, het ‘n veilige ruimte geskep waar die vroue hul harte kon oopmaak en in mekaar se storie kon deel.

“Rus en ontspan is wat die uitnodiging gesê het en rus en ontspan was dit beslis,” vertel Marietha Goosen van Piketberg. “Verder is ek verras deur interessante vroue, wat iets verstaan daarvan om in my skoene te staan – almal lief vir die Here met omgeeharte. Besielend en stimulerend, dis hoe ek die kunssessie en alleentyd op die terrein beleef het.” Marietha se ervaring is ‘n getuienis van die diepte van die dag – ‘n dag waarin verhoudings en gemeenskap gesmee is deur gedeelde ervarings.

Dié retraite het dit duidelik gemaak: die gedeelde ervaring van predikantsvroue oorskry generasies. Dit is opvallend hoe baie van dié vroue, ongeag ouderdomsverskille, se ervarings ooreengestem het.

Hilze-Marie Malherbe van Paarlberg beklemtoon hoe bevrydend dit is om te weet dat sy nie alleen is nie. “Hierdie mense verstaan my!” sê sy. In ‘n lewe gevul met die unieke uitdagings wat gepaardgaan met getroud wees aan ‘n dominee, kan isolasie dikwels ‘n konstante metgesel wees. Vir baie van die vroue was dit die eerste keer wat hulle hul eerlike gevoelens hardop kon deel en kon in mekaar ’n bron van verligting, troos en aanmoediging vind.

Hierdie retraite het dus nie net die groep vroue se geeste verfris nie, maar ook die bande van vriendskap en begrip versterk en hulle herinner aan die belangrikheid van hul unieke plek binne die kerk en die breër gemeenskap. “Dit was ’n ruimte waarin ons gees gevoed kon word en ’n geleentheid om deur die mooi van die lewe gelei te word en diep te ontspan,” voeg Amanda Swanepoel, tans by Kuilsrivier Moedergemeente, by.

Die geleentheid het afgesluit met ‘n betekenisvolle seremonie waarin elke vrou ‘n blommerangskikking vir ‘n ander mevrou dominee saamgestel het en haar uitgestuur het met ‘n boodskap van bemoediging en gebed. Elke vrou is met ‘n hernude krag en hoop huis toe.

So, by die Andrew Murray Sentrum in Wellington het predikantsvroue meer gevind as net ‘n bederfdag – hulle het ‘n ruimte gevind waar hulle diep kon asemhaal, hulself kon uitdruk en mekaar kon ondersteun in ‘n reis wat dikwels isolerend kan voel.

'n Groep 'mevrou dominees' deel hulle stories, vreugdes en seer in hulle rolle as predikantsvroue.

Daar word nog mevrou dominee-retraites beplan vir die toekoms!

Ons Taakspan vir Vroue laat weet dat hierdie beslis nie die laaste bymekaarkom geleentheid vir predikantsvroue sal wees nie! Gegewe die positiewe terugvoer en die duidelike behoefte aan sulke ondersteuningsnetwerke, is daar reeds planne in die pyplyn vir toekomstige byeenkomste. Die doel is om gereelde ruimtes te skep waar predikantsvroue kan saamkom, hul stories kan deel en mekaar kan bemoedig.