My magtie, Riaan!
👤 Wilmi Wheeler
Meeste van ons het grootgeword met Riaan Cruywagen wat vir jou elke dag om 19:00 ’n opsomming van die belangrikste nuusgebeure gee. Altyd netjies, altyd met ’n glimlag wat sê: “Ek het die nuus vir jou, maar moenie paniekerig raak nie, ons sal oukei wees.”
En nou, na al die jare, gaan hy weer viral na ’n antwoord wat hy gegee het tydens ’n onderhoud op die Ontbytsake-program. Riaan gebruik blykbaar nie kragwoorde nie. Glad nie. Die naaste aan vloek wat hulle ooit in sy grootwordhuis gekom het, was: “my magtie.”
Nou, vir die meeste van ons wat al ’n vloekwoord in die verkeer of agter die Xbox-kontroleerder gelos het, klink dit soos ’n bonatuurlike prestasie. Maar daar sit iets mooi, selfs teologies, in daardie eenvoud. Dis amper asof daardie “my magtie” in ’n klein, ordentlike stemmetjie vir ’n lawaaierige wêreld sê: dis moontlik om anders te praat.
Daar is regtig iets ongelooflik verfrissend aan ’n mens wat nog glo woorde dra gewig. Riaan, met sy stem wat menigte generasies kalmeer het, herinner ons dat taal nie maar net klanke is wat ons uitspoeg wanneer ons kwaad of moeg is nie. Dit kan ook iets heiligs wees. Iets wat bou of breek, genees of seermaak. En wanneer hy sê “my magtie”, dan hoor mens nie net ordentlikheid nie, mens hoor ook dissipline en respek.
Jakobus 3 sê mos: “Die tong is ’n klein lid, maar spog met groot dinge… die tong is ’n vuur.” En as jy mooi kyk, dan gebruik Riaan sy vuur om lig te maak, nie rook nie. En dáárin lê ’n kragtige getuienis: dat beheer oor jou taal iets sê van beheer oor jou gees. Dat stilte dikwels sterker praat as ’n storm.
Ek stel die Cruywagen-huishouding voor in my geestesoog. ’n Stil, netjiese sitkamer. Iemand laat ’n bord val. Almal kyk op. ’n Pouse. En dan sê iemand, beheersd en ernstig: “My magtie.” En dis dit. Geen drama, geen gal, geen vloek wat in die lug hang nie. Dis amper poëties.
En dalk is dit juis wat ons in 2025 nodig het: ’n bietjie my magtie-energie. In ’n wêreld waar Twitter (of X, of wat ook al dit nou is) of ander sosiale mediaplatforms se kommentaar-afdelings gebruik word om mekaar met klippe te gooi, kom staan Riaan voor ons met sagmoedigheid en sê: “Jy kan anders wees.” Jy kan kies om nie jou tong te gebruik soos ’n wapen nie, maar soos ’n gebed.
Dis natuurlik maklik om te lag en te sê dis ou skool, maar miskien is ou skool presies wat ons nodig het. Om te onthou dat jy jou punt kan maak sonder om jou karakter te verloor.
So, ja, dalk is dit die ware nuus van die week: dat ’n man wat al dekades lank die land se nuus lees, vir ons ’n ander soort bulletin bring. Een sonder drama of dreuning. ’n Taal van respek. ’n Taal van vrede.
Party dinge bly net by jou. ’n Stem, ’n manier van praat, ’n herinnering dat ordentlikheid steeds mooi is. Riaan het dit vir ons kom wys sonder om eers te probeer. Hoe anders sou die wêreld klink as ons almal ’n bietjie sagter en meer intensioneel woorde gebruik het? En dalk, êrens tussen al die lawaai, hoor ons dan weer iets van vrede. En my magtie, dis goed genoeg!


