Daar is iets misterieus aan die dood. Soms oorval dit ons skielik en soms sien ons dit van ver af aankom. Dit kruip voetjie vir voetjie nader. Dit voel of die dood met ons kat en muis speel.

Soms genees siekes wonderbaarlik en dan wil dit lyk of die dood eers gewyk het. Tog weet ons dit is onafwendbaar.

Digters het al met woorde om die dood probeer dans en komponiste het dit in requiems probeer vasvang. Dit word ‘n soeke na sin, sekerheid en vrede. Vir sommige loop dit uit op fatalisme, ‘n oortuiging dat ek na die lewe opgaan in ‘n ewige niks. “Ek dink daarom is ek”, het Descartes gesê. As ek ophou dink; geen bewussyn meer het nie, dan bestaan ek eenvoudig nie meer nie. Ander hou vas aan die oortuiging dat ek nie ‘n liggaam met ‘n siel is nie, maar `n siel wat vir ‘n rukkie in die liggaam woon (C.S. Lewis) en dan wel voortbestaan.

My ervaring is dat sterwende gelowiges ook onsekerheid en angs kan beleef. Daarom die groot behoefte om hul geliefdes by hulle te hê. Daarom my innige meegevoel met soveel mense wat in dié dae alleen in hospitale sterf en my pleidooi is dat ons bejaardes meer moet besoek.

Tog is my ervaring ook dat mense na aan die dood, ‘n Goddellike vrede kan ervaar. Dit kan voor en na die afsterwe van familie en vriende groei. Paulus kon spot oor die dood en die vroeë kerk kon grappe daaroor vertel. Mense vra soms snaakse vrae oor die dood. Vir my is die wete dat God daar is, genoeg.

Geskryf deur Braam Hanekom. 

#publiekegetuienis