Godsdiens Aktueel
Braam Hanekom

2018 het, soos menige jare in die verlede, met heelwat vrae en onsekerhede begin. Wat gaan met die president gebeur? Gaan die water in die Kaap hou? Hoe gaan die situasie op ons kampusse uitspeel?  Gaan die ekonomie in die regte rigting beweeg?  Of erger nog, gaan Noord-Korea en Amerika mekaar gryp? Voeg hierby jou kwota persoonlike onsekerhede en jy het meer as genoeg om oor te wonder.

Gelukkig leer ervaring  ons dat die lewe ook soms vol lekker verrassings is. `n Verrassing is egter onvoorspelbaar en kan moeilik  bewimpel of bewerk word. Dit lê nie in die aard van verrassings nie. Die God wat ek leer ken het, het my my lewe lank  al heelwat verras. Om die waarheid te sê, van die mooiste goed wat met my gebeur het, het ek nie self beplan of verwag nie. Maar verrassings is nie al waaroor die lewe gaan nie.

Onlangs was ek bevoorreg om vroegoggend te sit en kyk hoe die son opkom oor die berge en die see. Die kleure was verruklik en die vlieswolkies wat vroegdag die steek uit die oggendson gehaal het, amper onnatuurlik van kleur. So al asof jy wil vra, maar waar op dees aarde het die Skilder hierdie kleur en kwas vandaan gaan haal?

Op so `n oggend vul daar `n paar emosies jou binneste. Enersyds is die verrassing van kleur en komposisie  fassinerend, maar eintlik is dit die verwondering wat jou diep stil maak.

My gebed is dat 2018 nie net vir ons `n jaar vol aangename verrassings sal wees nie, maar ook `n jaar propvol verwondering. Verrassings kom nie elke dag nie, maar verwondering is elke dag moontlik. Veral vir hulle wat vroeg opstaan, stil word, bereid is om te kyk en te luister. Die oggend het my diep laat dink aan Jeremia se woorde in Klaagliedere (van alle boeke): “Ek het gedink dit is klaar met my en met my hoop op die Here… (maar) daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut.”

Verwondering word egter nie net in die natuur gevind nie. Jy sal dit vind in die lag van `n kind, of die dankbare glimlag van `n bejaarde. `n Liefdevolle oomblik van deernis en omgee, of die oë van ’n hond wat jou onvoorwaarlik  liefhet en vele meer.

Nadat onmeetbare smart vir Job getref het en al sy vriende hom sonder sukses probeer troos en raad gee het, neem God hom op `n reis deur die natuur en dan roep hy uit:  “So het ek gepraat oor dinge wat ek nie begryp het nie: U wonderdade was te groot vir my…” (Job 42:3)

Verwondering bring hoop en troos, vrede en tevredenheid. Wees op die uitkyk daarvoor. Wees sensitief daarvoor. Verwag dit. Mag ons lewe in 2018 vol wees daarvan.

Dr Hanekom is direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis