’n Viering van lig en vreugde!

👤 Ronelda Visser

 

Twee gemeentes in Kuilsrivier het die afgelope Sondag op ’n feestelike manier die oordrag van ’n kerkgebou gevier. Die NG Gemeente Digtebij en die Morawiese Kerk Kuilsrivier stap al ’n lang pad saam – ’n pad wat strek van 2008 en gesaai was met uitdagings en twyfel, maar wat uiteindelik ’n getuienis is van geloof, vertroue in God se wil en naasteliefde.

Die Morawiërs het in 2008 hulle gemeente in Kuilsrivier gestig as ’n groeipunt en moes voortdurig soek na ’n gepaste lokaal om hulle eredienste en kerkaktiwiteite aan te bied. In 2009 het ds. Herman Burger en eerwaarde Kallie Augustine se paaie gekruis en ’n paar maande later het ’n geskiedkundige gebeurtenis plaasgevind. Op 14 September 2009 vergader die twee gemeents se kerkrade vir die eerste keer en word daar ingestem dat Digtebij hulle kerkgebou met die Morawiese gemeente sal deel. In goeie gees vervroeg Digtebij hulle erediens Sondagoggende, sodat die Morawiërs later in die oggend hulle dienste kan hou. Na ’n periode van aanpassing, lyk dit asof dit ’n werkbare oplossing is.

 

Sashja Mostert, kerkraadsvoorsitter van NG Gemeente Digtebij, verduidelik dat die twee gemeentes sedert COVID elke kwartaal een gesamentlike diens hou.

“Dit help om mekaar se gebruike beter te leer ken en te verstaan. Een gemeente bied die diens aan en bepaal die styl van aanbidding en liturgie, terwyl die ander gemeente die diens bywoon en ervaar. Dit het baie goed gewerk en ons is nou goed vertroud met mekaar se gebruike. Ons het gevind ons het baie meer in gemeen as verskille. Ons gemeente verstaan ook dat in God se breër kerk eenheid nie eendersheid impliseer nie. Ons kan in liefde ‘n eenheid wees en steeds eiesoortig wees. Dit was wonderlik bevrydend en ek sien ‘n stuk selfvertroue om gemaklik met ander gemeentes saam te werk, want dis nie meer ‘n bedreiging of kompetisie nie.”

Pastoor Jerome Slamat van die Morawiese Kerk Kuilsrivier, wat later as biskop ingehuldig is in Digtebij se kerk, was deel van die groep wat geloofonderskeidend oor die hele proses nagedink het. In hierdie tyd deel die twee gemeentes reeds die herstel- en instandhoudingskostes. Hierna word daar besluit om die proses van onderverdeling te staak en die Morawiese Kerk doen aansoek om die hele eiendom te koop. Na talle gemeentevergaderings en gesprekke keur Digtebij se kerkraad en gemeente dit goed.

Die Morawiese gemeente groei egter steeds, terwyl Digtebij se getalle drasties afgeneem het na die COVID-pandemie en hulle onder aansienlike finansiële druk was. Die Morawiese kerkraad nader toe vir Digtebij met die voorstel om die erediensruimte te koop. Potensiële borge uit Duitsland realiseer nie en die Morawiese gemeente begin ander planne maak, onder andere deur ’n bietjie-baie fonds te stig. Saam kyk die twee kerkrade na ander opsies soos om die perseel te onderverdeel. Die proses sloer egter vir langer as twee jaar, maar beïnvloed nie die twee gemeentes se gesamentlike gebruik van die gronde en erediensruimte nie.

In September 2024 word die finale koopkontrak onderteken. Die kontrak sluit ook ’n huurkontrak in, waarvolgens Digtebij-gemeente vir twintig jaar nog “vruggebruik” kry van die kerkhuis vir byeenkomste en dit potensieel ook kan onderverhuur vir ’n bykomende inkomste.

Op Sondag, 30 November 2025, is die amptelike oorhandiging met luister en swier gevier. Die Morawiese koperblaasorkes het die simboliek van die dag uitbasuin, terwyl die koor met spesiale gesange uit die Morawiese Liedboek vir spesiale oomblikke gesorg het. Biskop Jerome Slamat het die verrigtinge gelei en die liturgie hanteer. “This is a day of celebration. This is the beginning of the church year and a new beginning for our congregations. This remains the Lord’s house despite the transfer and approval of human authorities. It captures our spirit of unity and joy.”

Ander sleutelsprekers was eerwaarde Ntsikekelo Tyokolwana, vise-president van die Morawiese Kerk in Suid-Afrika, en professor Marius Nel, assessor van die Sinode van Wes-Kaapland van die NG Kerk in Suid-Afrika. Juffrou Bianca August het vertel hoe sy en haar man Kallie deel was van die handvol lidmate wat besluit het om hulle eie gemeente in Kuilsrivier te vestig. Kerkraadslede Pierre Leikes en Bodil van Willingh het ook oor die reis reflekteer. Voor die onthulling van die gedenkplaat het die kerksraad van Digtebij ’n erewag gevorm vir die eerwaarde Brenda Talliard en die kerkraadslede van die Kuilsrivier Morawiese Kerk.

Die Morawiese Kerk in Suid-Afrika het sy oorsprong in die wêreldwye Hernhutter-sendingbeweging, wat in die 18de eeu uit die gemeenskap van Herrnhut in Duitsland ontstaan het. Georg Schmidt was die eerste Morawiese sendeling in Suid-Afrika en het in 1737 by die Genadendal-vallei aangekom, waar hy onder die Khoi gemeenskappe gewerk en die eerste skool vir inheemse mense in Suid-Afrika gestig het. Gedurende die 19de en 20ste eeu het die Morawiese Kerk sy werk versprei na nuwe sendingstasies in die Wes- en Suid-Kaap, waar kerke, skole en gemeenskapsinstellings gevestig is. Die kerk se groei is gekenmerk deur eenvoudige, gemeenskapsgerigte aanbidding, sterk musiektradisies en ’n fokus op diens, onderwys en sosiale opheffing, wat ʼn blywende invloed op talle gemeenskappe in Suid-Afrika gehad het. Daar is tans meer as tagtig Morawiese gemeentes in die land.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: