Navorsing en data is feite op papier. Jy kan nie daarmee stry nie. Dit is wat dit is en maak dat mense daarna luister.

Dr. Lourens Bosman, algemene bestuurder van die Algemene Sinode gesels maklik en lekker oor navorsing, ʼn veld wat vir hom al te bekend is.  Temas en vrae word landwyd versamel by leiers van die verskeie sinodes en taakspanne. En verlede week was Lourens in Stellenbosch om  saam met dr. Pieter van der Walt (PSD Navorsing en Kuratorium) en Yolande Steenkamp, dekaan van die Skool vir Teologie en Bediening aan die Hugenote Kollege, aan die jaarlikse predikantepaneel vraelys te werk.

Navorsingsdata bevestig of bewys die teendeel van opinies, soms baie luide stemme en opinies in die kerk. Maar dan moet iemand die data bymekaar maak en dit is waar Lourens en die navorsingspan in kom.

“Die belangrikste instrument, wat die langste kom, is die gemeente opname. Baie dominees ken dit as Kerkspieël. Dit is ʼn groot opname wat al vir meer as vier dekades gedoen word, elke vier jaar,” sê hy. “Prof. Kobus Schoeman (UV) het die visie gehad en vasgebyt om hierdie navorsing aan die gang te hou in tye toe mense hul nie veel daaraan gesteur het nie. Ons kan gerus ons hoed vir hom afhaal.”

Dit tweede groot instrument en die enigste waar ons lidmate se stem hoor oor hul plaaslike gemeente en oor kwessies in die land, is die Church Life Survey – Southern Africa (CLS-SA).

Hierdie navorsing word gedoen saam met die span van dr Ruth Powel in Australië. Dit het die laaste tyd uitgebrei na kerke in die Suider-Afrikaanse substreek en lewer belangrike data oor wat in gemeentes gebeur. Die belangrikste is egter die nut wat dit vir die gemeente self het.

Wat is die huidige tendense in kerke?

Twee duidelike leemtes in predikante se bediening is gebrekkige onderskeiding van die gemeente se  roeping en om lidmate hierby te laat inkoop. Die ander duidelike en kommerwekkende tendens is dat lidmate sê hulle word al minder aangemoedig om hul gawes te gebruik. Volgens Lourens is dit twee kritiese drywers wat ʼn gemeente beter laat  funksioneer.

“NG gemeentes doen egter uitnemend in prediking en om lidmate te begelei in geestelike groei. Dit is baie vêr bo die wêreldstandaard,” sê hy. “Aan die ander kant is daar egter leemtes in lidmate se diens na buite, om mense kerk toe te nooi en om mense wat kerkloos is of kerkvervreemd raak, op te volg.”

ʼn Derde instrument is die predikantepanele wat jaarliks gedoen word. Dit fokus hoofsaaklik op die houdings en opinies van die leraarskorps: dominees, diensleraars, voltyds, deeltyds – almal kry dit. Dit gee ʼn waardevolle prentjie van wat dominees doen en dink. “In COVID-tyd het baie dominees byvoorbeeld vir ons gesê hulle moes digitaal aanpas, hulle studeerkamers het ateljees geword.” Die opnames het ook aangedui dat feitlik alle gemeentes in COVID-tyd in hul gemeenskappe betrokke geraak het.

Hy lê soms wakker oor sekere tendense in die kerk. “Navorsing dui aan dat gemeentes kleiner word. Gemeentes word armer. Ons predikante-korps word kleiner. Dit is baie duidelik uit die data oor gemeentes en predikante getalle wat ons oor tyd byhou.”

Die afwaartse tendense plat egter af, en dit maak mens verlig. Minder gemeentes is tans in ʼn finansiële krisis as byvoorbeeld vier jaar gelede. In  die sewe jaar van 2015 tot 2022 was daar ʼn dramatiese daling van 34% in die aantal voltydse predikantsposte. Die tendens het egter van 2022 na 2024 begin afplat. “Dit sê dat die angswekkende val in die getalle, nou afneem.”

Hoekom moet gemeentes en predikante aan die navorsing deelneem, hoe gaan dit die kerk help?

Tans is die Church Life Survey – Southern Africa projek aan die gang. Gemeentes word uitgenooi om hieraan deel te neem. “Die CLS-SA is ʼn diagnostiese instrument, dit gee ʼn duidelike prentjie waar die gemeente se sterkpunte en swakpunte lê.”

“Ons het ook saam met André Agenbag (Wes-Kaap) en Barnard Steyn (Vrystaat), ʼn instrument ontwerp wat gemeentes help om die data wat hul kry, te implementeer. Dit help gemeentes om die insig wat hulle uit die data verkry, in aksie om te sit.” Op die ou end is die doelwit lewenskragtige, gesonde gemeentes.

“Die uitgangspunt is Johannes 10, Jesus se uitsprake oor die goeie Herder, en dan veral dat Hy sê:  Ek het gekom dat hulle lewe kan hê, en dit in oorvloed.” Dominees weet nie altyd wat om te doen dat die gemeente so ‘n oorvloedige lewe kan hê nie. Die CLS-SA kan hiermee help. Dit is gebaseer op navorsing en nie op die nuutste mode nie.”

Die jaarlikse slypskool, nog ʼn projek van Taakspan Navorsing, vind vanjaar vanaf 27-29 Augustus in Gauteng plaas. “Ons gee data vir jong skrywers en hulle skryf ʼn berig vir die Kerkbode. Hulle kry die geleentheid om te publiseer en om met die data, die groot prentjie van die kerk te werk.”

Hou die spasie dop…of eerder die data.